Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Medisyne vir Covid ‘vrot’ oor oop yskas

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het 40% van ’n besending ongeregistreerde Kubaanse “medisyne” wat R235 miljoen gekos het, vernietig deur die deure van koelkamers waarin dit gehou is te laat oopstaan.

Die weermag het Interferon alfa-2B in Junie en Augustus van Kuba ingevoer teen ’n koste van $15,1 miljoen. Die geld is geneem uit die begroting wat die weermag vir Operasie Notlela vir die bekamping van Covid-19 gekry het.

Kort voor die transaksie het Mzwandile Masina, burgemeester van Ekurhuleni, en dr. Bandile Masuku, destydse Gautengse LUR vir gesondheid, verkondig Kuba se Interferon alfa-2B is ’n wondermiddel teen Covid-19 en moet dringend ingevoer word.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, het verlede week ’n onafhanklike paneel van drie burgerlikes aangestel om uit te vind wie die transaksie gemagtig het en waarom dit aangegaan is.

“Die ondersoekpaneel se name kan nie nou bekend gemaak word nie omdat ooreenkomste daaroor nog nie onderteken is nie,” het Siphiwe Dlamini, Mapisa-Nqakula se woordvoerder, aan Rapport gesê. “Hulle sal aanstaande week met die ondersoek begin.”

Die ouditeur-generaal (OG) het reeds ’n ondersoek na die transaksie gedoen. Sy ondersoekers het die SANW se militêre gesondheidsbasis besoek en gevind koelkamers waarin Interferon alfa-2B geberg is se deure het meer as ’n dag lank oopgestaan.

Die Kubaanse weergawe van die medisyne is glad nie in Suid-Afrika as medisyne geregistreer nie.

Volgens die OG se voorlopige verslag het die SANW glad nie by Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) aansoek gedoen vir die invoer van dié medisyne nie.

Kobus Marais, DA-woordvoerder oor verdediging, het verlede jaar ’n reeks parlementêre vrae aan Mapisa-Nqakula gestel, maar dis nie beantwoord nie en die vrae en het dus einde 2020 verval.

“My inligting is dat die saak volgens notules van die weermag se sentrale bevel bespreek is. Ek het ook ’n klagte daaroor by die militêre ombud ingedien.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.