Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Meer as 1 000 met Covid in W-Kaapse hospitale

Meer as 1 000 mense is met Covid-19 in Wes-Kaapse hospitale terwyl die provinsie die derde vlaag van koronavirusinfeksies binnegaan.

Alan Winde, premier, het Donderdagoggend op sy weeklikse aanlyn nuuskonferensie gesê al die tekens van ’n derde vlaag is daar.

Teen Donderdag om 13:00 was daar 6 108 aktiewe gevalle, meer as dubbeld die infeksies teenoor dieselfde tyd verlede maand.

Volgens dr. Keith Cloete, hoof van die provinsiale gesondheidsdepartement, was daar vyf weke agtereenvolgens ’n opwaartse kurwe en die afgelope twee weke ’n duidelike versnelling. Die toename is ook in alle landelike gebiede sigbaar.

Hospitalisasies, die gebruik van suurstof en sterftes het ook toegeneem. Daagliks sterf tussen vyf en ses mense en word meer as 430 nuwe gevalle gediagnoseer.

Tans is 1 028 pasiënte in hospitale van wie 247 in die hoësorg- of waakeenheid is. Daar is daagliks 52 nuwe toelatings by hospitale.

Cloete sê die derde vlaag sal na verwagting agt tot tien weke duur. Baie kan egter verander – mense se optrede kan dit laat afplat of dit korter of langer maak.

Op ’n vraag oor moontlike verskerpte maatreëls wat ingestel kan word, het Winde gesê die provinsie kan nie op sy eie dié soort regulasies instel nie.

Mense in die provinsie word egter afgeraai om onnodig groot byeenkomste te hou of by te woon, of te reis na gebiede waar baie infeksies voorkom. Daar word ook voorgestel dat nie meer as 50 mense binnenshuis bymekaarkom nie en nie meer as 100 mense buite nie.

Volgens Cloete word daar verwag dat die derde vlaag nie so erg soos die tweede gaan wees nie, maar dit sal ook afhang van hoe mense in die komende weke optree.

Voorbereidings vir die derde vlaag is in volle gang en sluit onder meer in om stelselmatig meer mense in fase 2 in te ent.

Mense moet ook sorg en help dat almal van 60 jaar en ouer hulle vir inentings op die elektroniese databasisstelsel (EVDS) registreer.

In die Kaapstad-metrogebied was daar ’n 30%-toename in die week-op-week-gevalle en in al die subdistrikte, behalwe Khayelitsha, is daar ’n duidelike toename.

In die landelike gebiede het gevalle ook in alle subdistrikte, behalwe die Sentraal-Karoo, toegeneem.

In fase 2 is 154 505 mense reeds ingeënt, het Winde laatmiddag in ’n verklaring gesê.

• Dick Naidoo, waarnemende munisipale bestuurder van Mosselbaai, sê in ’n verklaring daar is 574 aktiewe gevalle in die Tuinroete-distrik, met 211 in Mosselbaai.

Die Groot-Brakrivier-gebied is tans rede tot kommer aangesien 20 nuwe gevalle Woensdag aangemeld is sonder dat ’n spesifieke virusbrandpunt geïdentifiseer is.

Meer oor:  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.