Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
SA hospitale onder druk: Meer pasiënte op ventilators as ooit

Hoewel daar tekens is van ’n afname in koronavirusgevalle in die land te midde van die tweede vlaag van die pandemie, toon die jongste data die druk op hospitale is nog nie verlig nie.

Inteendeel was daar Donderdag die meeste pasiënte nog aan ventilators gekoppel sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie.

Volgens die jongste syfers wat deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) bekend gemaak is, was daar Donderdag 1 357 pasiënte op lewensondersteunende ventilators.

Daar was 13 409 mense in hospitale weens Covid-19-verwante komplikasies.

Hiervan was 2 471 pasiënte in die waakeenheid en 1 123 in hoësorgeenheid.

Van die 13 409 pasiënte was 6 268 in private hospitale en 7 141 in staatshospitale.

Op 19 Januarie was 13 764 pasiënte in die hospitaal - die meeste tot dusver.

Op 21 Januarie het die gevalle in Suid-Afrika se hospitale so gelyk. Foto: Nios

Hospitalisasies het in Desember vir die eerste keer die 6 000-kerf en toe die 10 000-kerf, bereik.

Volgens Nios was daar op 7 Januarie 10 759 mense in hospitale in Suid-Afrika, waarvan 1 847 mense in die waakeenheid en 881 mense in die hoësorgeenheid was.

Van 8 Januarie het die syfers aanhou styg.

Volgens Nios het Suid-Afrika op 13 Januarie vir die eerste keer genoem dat meer as 13 000 mense vir die virus in die hospitaal opgeneem is.

In Julie en Augustus tydens die kruin van die eerste vlaag was 5 745 mense in die hospitaal.

'2de vlaag se ergste verby, maar ...'

Suid-Afrika het die piek van sy tweede vlaag bereik en verbygesteek, maar enigiets kan steeds in ’n pandemie gebeur, het dr. Waasila Jassat van Nios op die vooraand van die bekendmaking van die jongste weeklikse verslae oor nuwe gevalle, hospitalisering en sterftes, wat Vrydae bekend gemaak word, gesê.

Jassat het gesê minder koronavirusgevalle kom nou voor en die hospitalisasies in die meeste provinsies neem af.

“Dit is egter nog te vroeg en ons moet hierdie koers dophou. Om enigiets in 'n pandemie te voorspel, is moeilik, maar as ons na die eerste vlaag kyk, dink ons die vlaag sal aanhou afneem. Dit is moontlik dat ons later 'n derde vlaag sal hê. Ons kan egter niks daarvan met sekerheid voorspel nie.”

Sy het gesê hoewel die nuwe variant meer aansteeklik is en meestal tot die hoë infeksiekoers in die tweede vlaag lei, toon hul data nie dat meer mense in hierdie vlaag sterf nie.

Volgens Jassat is dit steeds van kritieke belang dat mense die maatreëls nakom deur maskers te dra, ontsmettingsmiddels te gebruik om hul hande te reinig en saamtrekke beperk.

Gesondheidswerkers

Nios sê 403 gesondheidswerkers is teen Donderdag in die hospitaal opgeneem.

Die Nasionale Instituut vir Beroepsgesondheid (Nioh) sê 492 gesondheidswerkers het teen 2 Januarie aan die virussiekte gesterf.

Sedert die aanvang van die pandemie is 6 560 gesondheidswerkers in die hospitaal opgeneem.

Pasiënte by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Veldhospitale

Die Netcare-groep het Donderdag in ’n verklaring gesê hy het nog veldhospitale ingerig sodat hy Covid-19-pasiënte kan behandel.

Netcare sê hy behandel nou sowat 3 000 Covid-19-pasiënte landwyd in sy hospitale, en sê baie pasiënte word steeds in KwaZulu-Natal, Limpopo en Gauteng opgeneem.

Die groep het opgemerk dat daar ’n daling in opnames in hospitale in die Oos-Kaap is, terwyl dit lyk of die situasie in die Wes-Kaap begin stabiliseer.

Netcare sê hy het die afgelope twee weke drie veldhospitale in Pretoria, Limpopo en Noordwes geopen.

Meer oor:  Koronavirus  |  Tweede Vlaag  |  Covid-Sterftes  |  Hospitalisasies  |  Nios  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.