Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Meisie (6) van George kry unieke hartoperasie

’n Sesjarige meisie van George in die Suid-Kaap het geskiedenis gemaak toe sy ’n unieke hartoperasie – die eerste in sy soort in Afrika en slegs die derde wêreldwyd – ondergaan het.

Ruveshni Lewis (6) en haar ma, Justine Lewis, in die Rooikruis-kinderhospitaal. Foto: Bertram Malgas, EWN

Volgens inligting van die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad is Ruveshni Lewis met een hartkamer (ventrikel) gebore. Dit het veroorsaak dat haar hart nie suurstofarm bloed na haar longe kon terugpomp nie.

Tydens twee vorige operasies kon hartchirurge die bloed direk na haar longe met ’n afvoerkanaal herlei, sê die hospitaal in ’n verklaring.

Ná die tweede operasie het ’n komplikasie veroorsaak dat sy ’n noodoperasie moes ondergaan. In daardie operasie was die opening wat gemaak is tussen die afvoerkanaal en haar hart te groot en te veel suurstofarm bloed het in haar hart ingekom. Dit het gelei tot ’n baie lae saturasievlak.

Volgens prof. Rik de Decker, ’n pediatriese kardioloog, het die hospitaal se kateterisering-laboratoriumspan verlede week ’n toestel tussen die hartkamer en die afvoerkanaal ingeplant om die opening se grootte van 10 mm tot 4 mm (’n normaler grootte) te verklein.

De Decker sê die nuwe toestel is in Swede ontwerp en is nog nie eens op die mark nie. Dit word tans in Europa geregistreer en is gratis deur die hospitaal verkry as ’n gebaar van welwillendheid.

Die toestel het ’n gat in om bloed deur te laat. Nadat Ruveshni ses operasies ondergaan het, beteken die inplanting dat sy nie weer ’n moeilike operasie vir die probleem sal hoef te kry nie.

Ruveshni se ma, Justine Lewis, is bly oor haar dogter se herstel. Volgens Lewis is Ruveshni ’n baie spelerige kind. Weens haar mediese toestand kon sy egter nie ver ente loop nie en het sy gekla dat sy vinnig moeg word. “Dit alles het nou verander,” sê Lewis.

Ruveshni se toestand is stabiel en sy herstel goed, volgens die hospitaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.