Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Mense moet nou toustaan vir kliniekdienste in houthut

Die bouvallige Fauna-kliniek wat na meer as 4 000 pasiënte in Bloemfontein omsien, het na ’n houthut in Fichardtpark verskuif sodat die kliniek, wat bykans ’n murasie geword het, herstel kan word.

Maar nou is die verontwaardiging groot onder pasiënte en die tien professionele personeellede, waaronder verpleegkundiges en ’n apteker, wat in die piepklein houthut moet werk.

Die houtgebou waar gesondheidskliniekdienste vir die Fauna-kliniek se meer as 4 000 pasiënte gelewer word.Foto: Marietjie Gericke
Die oorvol houthut waarin tien personeellede moet werk. Foto: Marietjie Gericke
Dave McKay, DA-raadslid, wys na die omstandighede waarin mediese dienste in die houthut gelewer word. Pasiëntlêers word in kartondose gehou.Foto: Marietjie Gericke
Die Fauna-kliniek in Springboklaan, Fauna. Dit is vir herstelwerk gesluit, maar hoe lank die werk sal duur, is nie bekend nie. Foto: Marietjie Gericke

Dave McKay, DA-raadslid van Fauna wat Netwerk24 na die kliniek gebring het, sê hy gaan nie ophou baklei vir die mense – wit en swart – nie.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, word al dae lank oor die saak gebel, maar reageer nie op telefoonoproepe nie.

McKay sê die swak toestand van die Fauna-kliniek se gebou in Springbokweg, onder meer reuse-krake in die mure en waterlekkasies, het opknapping genoodsaak. Die opknappingsvoorstel is deur die gesondheidsdepartement goedgekeur.

Die gebou moes egter tydelik gesluit word.

McKay sê ten tyde van die eerste vergadering met die kliniekkomitee en personeel, het die distriksbestuurder (ene Mohale) voorgestel dat die pasiënte by ander klinieke in die distrik ingedeel word. Die kliniekkomitee het dié voorstel afgekeur.

Daar is toe voorgestel dat ’n mobiele kliniek na Fauna gebring word of ’n huis vir die doel gehuur word.

“Ek en die Fauna-kliniek se voorsitter het hierop die eienaar van die Fauna-winkelsentrum, oorkant die bestaande Fauna-kliniek, genader oor ’n tydelike heenkome vir die kliniek.”

McKay sê ’n perseel van 70 m² in die sentrum was teen R3 000 per maand beskikbaar.

“Ek het die inligting aan die distriksbestuurder oorgedra. Sy het haar dank uitgespreek en gesê het dat sy sal toesien dat dit gebeur.”

Die handgeskrewe nota waarmee kliniekbesoekers ingelig word dat die kliniek tydelik gesluit is.Foto: Marietjie Gericke
Die slordige Fauna-omgewing met verflenterde straatnaamborde waar die Fauna-kliniek bedryf word.Foto: Marietjie Gericke
Die verval in die omgewing van die Fauna-kliniek in Bloemfontein. Foto: Marietjie Gericke

McKay sê hierna het die distriksbestuurder nie terugvoering gegee nie en ook nie geskeduleerde ontmoetings en vergaderings bygewoon nie.

Die kliniekpersoneel is aangesê om die kliniek te ontruim. Hulle is nie ingelig oor presies hoe lank die opknappings sou duur nie.

Die kliniek het op 28 Mei na die Fichardtpark-kliniek oorgeskuif. By die kliniekhek in Fauna is ’n karton met ’n handgeskrewe nota aangebring om besoekers in te lig dat die kliniek gesluit is.

“By die Fichardtpark-kliniek word die pasiënte na ’n Wendyhuis agter die kliniek verwys vir konsultasies en ondersoek.”

McKay meen dit is nie net ongrondwetlik nie, maar ook onmenslik.

“Die personeel probeer hul bes in die ondraaglike omstandighede, maar vrees dat teen hulle opgetree sal word indien hulle uitpraat.”

Netwerk24 het ook met die personeel gaan praat.

Of dit nie genoeg is nie, het die bus wat daagliks die medisyne na die “Wendyhuis” moet bring, ook in die heining vasgery wat gesamentlik skade van sowat R25 000 veroorsaak het.

“Die gevolg is dat die apteker nou self die medisyne by die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks moet gaan haal.”

Meer oor:  Fichardtpark  |  Herstelwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.