Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Mense sterf hier weens vrot sorg, sê Covid-dokter

‘Ek dink ons is al verby ’n stadium van uitbrand,” sê ’n dokter in die Steve Biko- Akademiese Hospitaal in Pretoria.

Opslaanstrukture buite die Steve Biko- Akademiese Hospitaal in Pretoria waarin Covid-19-pasiënte veronderstel is om behandel te word. Die hospitaalbeddens is egter te groot om daarin te pas.

“Ons dokters het dit net nie meer in ons om so aan te hou nie en die hospitaalbestuur maak niks makliker vir ons nie.”

Dis nie net die impak van Covid-19 wat dié dokters onderkry nie. ’n Vrag opslaanstrukture is by die hospitaal afgelaai. Die dokter, wat in die interne geneeskunde-afdeling van die hospitaal werk, het op voorwaarde van anonimiteit gesê dié strukture is veronderstel om die tente te vervang.

“Ongelukkig was daar ’n fout by die verskaffer en ’n hospitaalbed kan nie eens daarin pas nie. Nou lê daar tonne van die goed net buite ons tente.”

Boonop het die opslaanstrukture ook nie suurstofpunte nie.

“As die cubicles reg gedoen was, sou dit baie help teen die koue en die risiko van infeksieverspreiding, want almal word saam in ’n tent gesit. Dus kry mense wat nié Covid het nie, nie lank daarna nie Covid in die tent.”

Die groot probleem by Steve Biko is die omstandighede in die tente: “Dis onmenslik koud vir personeel en pasiënte. Die susters wat daar werk, is van agentskappe. As gevolg daarvan kry die pasiënte baie slegte sorg en gaan soms onnodig dood as die suster reg langs die pasiënt staan en nie eers agterkom die pasiënt se suurstof is klaar nie.”

‘Dit hardloop net in een rigting na die dood.'

Die Gautengse gesondheidsdepartement, waaronder die Steve Biko-hospitaal val, het nie op Rapport se navrae geantwoord nie.

’n Internis van Vereeniging wat Vrydag al 62 dae aaneenlopend aan diens was, het aan Rapport gesê: “Ek dink ek is waarskynlik op pad om uit te brand.”

Dr. Jacqueline Goldswain, die enigste internis van die Midvaal Private Hospitaal, skat sy het al tussen 500 en 600 Covid-19-pasiënte daar behandel. Sy spreek tussen 60 en 80 pasiënte per dag en word soms ook snags uitgeroep.

“Vir die dokters wat met Covid-gevalle werk, is dit om ’n pasiënt te verloor wat die emosionele uitputting veroorsaak. Dis emosionele skade.”

Dr. Jacques Koning, internis van die Net­care Montana-hospitaal in Pretoria, sê ’n kombinasie van faktore veroorsaak uitbranding onder dokters.

“Dis die aanhoudende intensiteit van die siekte, uur vir uur. Baie se burnout word veroorsaak omdat hulle soos ’n magtelose toeskouer van sterfte voel. ’n Persoon gaan dood sonder jou toestemming en hulp. Dit hardloop net in een rigting na die dood. Jy voel futiel, amper impotent. Dit breek baie medici as jy nie die siekte kon draai nie.

“Ons ken afsterwe, maar normaalweg antisipeer jy dit. Nou gaan ’n 25-jarige mens dood wat geen ander onderliggende siektes gehad het nie. En jy kan nie koud en kil staan teenoor die dood nie. Jy voel later jy is nie goed genoeg nie.”

Hy sê die afgelope week het twee van sy kollegas gesê hulle kan nie nog ’n dood in die gesig staar nie.

“Ek het toe gesê hulle moet hul mees kritieke pasiënte vir my oorgee dat hulle aandag gee aan hul minder siek pasiënte en nog kan voel hulle maak ’n verskil. Ons kan sien as iemand besig om uit te brand. Dan help ons. Ons sê vir so ’n kollega om ’n wegbreeknaweek te vat.”

Al meer kollegas in ander dissiplines kom help die interniste uit en werk dan 12 uur-skofte tydens die nag. “Dié dokters lewer ’n diens van onskatbare waarde.”

Onder hulle is huisdokters met gevorderde kennis van sekere toestande, chirurge en narkotiseurs. “Dan bel die verpleegpersoneel nie heeltyd die interniste wakker nie en hulle kan ’n slag deurslaap. Dit help dat jy as dokter nie alleen hoef te voel nie. Ons almal weet ons is op dieselfde bladsy.”

Goldswain sê haar hospitaal moes improviseer om by te hou met die pasiëntlading. As daar nie ’n ventilator beskikbaar is nie, gebruik hulle – soos hospitale in Italië – ’n suurstoftent wat oor ’n pasiënt se kop gesit word.

“Ons noem dit ’n hoodie. Dit word verskaf deur ’n mediese voorraadverskaffer. Dit werk amper so goed soos ’n ventilator en keer ook dat die pasiënt se toestand so agteruitgaan dat hy wel aan ’n ventilator moet kom. Die hoodie red lewens. Dis ’n goedkoper, meer informele manier om iemand suurstof te gee.”

Wat haar in die stryd moed gee, is die inentingsveldtog. “Dit sal moontlikhede bring. As 70% van die land se bevolking ingeënt kan word, sal daar weer ’n tipe normaliteit wees.”

Meer oor:  Jacques Koning  |  Dokters  |  Covid-19  |  Uitbranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.