Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Mense van Upington in die ry ingeënt

Sowat 2 000 inwoners van Upington is Saterdag en Sondag met die Johnson & Johnson-entstof ingeënt by ’n deurrysentrum op die dorp.

"Oe, ek hou nie van naalde nie." Eirene Hoving het trots die foto gedeel waar sy Saterdag by die deurrysentrum in Upington ingeënt is. Foto: Verskaf

Dié inisiatief wat deur die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement gedryf is, was ’n reusesukses en inwoners kan nie uitgepraat raak oor die gesondheidswerkers se professionele en flink diens nie.

Inwoners van Upington en omliggende dorpe het Saterdagoggend vroeg reeds by Upington-skouterrein aangemeld in hul motors.

In ’n stadium was die ry sowat 1 km lank, maar dit het vinnig beweeg.

Baie mense het sommer ’n piekniekmandjie en koffiefles ingepak om van die geleentheid ’n uitstappie te maak.

Ansisca Kotzé van Kanoneiland sê hulle moes egter maar hul piekniekkos by die huis gaan geniet, want die diens was so blitsig dat hulle nie eens vir die versnaperings kans gekry het nie.

Ook Paula Reid en haar man, Rob, is vinnig gehelp.

“Ons was binne 20 minute klaar. Dit was fantastiese diens en die gesondheidswerkers het ’n fantastiese gees gehad. Ons piekniekmandjie en koerant het net so teruggekom en toe piekniek ons maar by die huis,” sê sy.

Coby van der Bank, wat verlede jaar ernstig siek was aan Covid-19 en lank in die hospitaal was, sê hy het Saterdag op die ingewing van die oomblik besluit om by die deurrysentrum ’n draai te maak.

“Ek het myne.” Suster Edna van Wyk by Henry Kock nadat sy hom by die deurrysentrum in Upington ingeënt het. Foto: Verskaf

“Ek het reeds ’n SMS-afspraak vir Maandag, maar wou graag sien hoe dit daar gaan. Ek was baie aangenaam verras toe ek by die hek kom en so vinnig gehelp word.”

Van der Bank sê as hy nie so lekker gesels het nie, sou hy in minder as ’n halfuur deur die deurrysentrum gegaan het. “Almal was vriendelik en gemasker. By die inentingspunt self het dit ook vinnig gegaan. Ek is nou ge-jab en het soos ’n baba geslaap.”

Van der Bank sê hoewel hy Sondag ’n bietjie koorsig gevoel het, pla dit hom nie.

“Ek weet die entstof doen nou sy ding en ek wil nie weer so siek word nie.”

Lebogang Majaha, departementele woordvoerder, sê die gesondheidsdepartement is in ekstase oor die goeie opkoms.

Saterdag is 960 mense teen die koronavirus ingeënt en teen Sondagaand 18:00 het die span hul mikpunt van 2 000 bereik.

Eirene Hoving, nog ’n inwoner van Upington, het ook haar foto gedeel.

Chalton Hill het sommer vroeg Saterdagoggend opgedaag vir sy inenting. Foto: Verskaf

“Ek is vrek bang vir naalde en was so bly dat ek die Johnson & Johnson-entstof kon kry wat net een dosis benodig. Ek is bly dis afgehandel en dat ek nou veilig sal wees.”

Konrad Markus, hoof van die entstofprogram in Upington, het Sondagaand gesê hy is oorstelp en oorweldig oor die opkoms.

“Ek het gehoop ons sou ’n goeie opkoms hê, maar was eintlik ’n bietjie skepties. Upington het al my verwagtinge oortref.”

Hy sê die deurrysentrum is juis geskep om mense wat nie bedags vir ’n inenting kan aanmeld nie, die geleentheid te bied om te kom.

“Daarbenewens is daar nou bewys hoe doeltreffend dit is. Dit is ook sommer baie veiliger aangesien elke persoon in sy eie omgewing in sy motor is. Dit verminder die risiko vir die verspreiding van die virus.”

Inwoners kon in hul motors wag om ingeënt te word. Die ry het sommer vinnig geloop, sê Dennis Niekies, wat die foto gestuur het. Foto: Verskaf
Meer oor:  Upington  |  Johnson & Johnson-Entstof  |  Inentings  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.