Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Merkers bekend wat Alzheimers kan wys
Alzheimer se siekte is nie so oorerflik as wat mense dink nie.Foto: Pixabay

Verskeie biomerkers in ’n mens se bloed is al geïdentifiseer in die hoop om ’n manier te vind om Alzheimer se siekte te diagnoseer.

Dit is vandeesmaand bewusmakingsmaand vir Alzheimer se siekte.

Dié siekte kan tans steeds net nadoods beslissend gediagnoseer word deur na die breinweefsel te kyk. Dokters maak wel ’n kliniese diagnose wanneer ’n mens siek word.

Indien ’n biomerker van beta-amiloïed, wat in die brein versamel, gevind kan word, sal dit kan lei tot die identifisering daarvan in ’n bloedtoets. Vorige navorsing het gewys daar is ’n proteïen (Trem2) wat wel opgespoor kan word in ’n mens se spinale vog, maar dit is nog nie genoeg vir ’n beslissende diagnose nie.

Dr. Felix Potocnik, ’n psigogeriater, het vroeër gesê dit kan deur verskeie middels behandel word.

Die eerste groep medisyne (donepezil, rivastigmine en galantamien) word cholienesterase-inhibeerders genoem.

Die brein van iemand wat aan Alzheimer se siekte ly, het laer vlakke van ’n chemiese stof genaamd asetielcholien. Dít help om boodskappe tussen senuweeselle te stuur.

Dié middels voorkom dat ’n ensiem die asetielcholien afbreek en verlig simptome.

Die tweede middel se aktiewe bestanddeel is memantien. Glutamaat is nog ’n stof wat help om boodskappe in die brein te stuur, maar in mense wat aan die siekte ly, word te veel vrygestel en dit beskadig selle nog verder. Dié middel blokkeer dié effek.

Al die middels help met die regulering van neuroördraers – die chemikalieë wat boodskappe stuur tussen neurone. Hulle kan help om denkvermoë, geheue en kommunikasievermoë in stand te hou en kan selfs help met sekere gedragsprobleme.

Volgens Medscape is daar ook middels soos antidepressante en gemoedstabiliseerders wat help om simptome te beheer. Dit is omdat depressie, aggressie, irritasie, delusies, slaapprobleme en selfs hallusinasies kan voorkom waarvoor daar antipsigotiese medisyne voorgeskryf kan word. Gedragsprobleme is algemeen en dié middels help daarvoor.

Wat is die verskil tussen demensie en Alzheimer se siekte?

Demensie is nie ’n spesifieke siekte nie, maar ’n term wat ’n wye reeks simptome beskryf en dit is deel van 60% tot 80% van mense wat Alzheimer se siekte het. Vaskulêre demensie kom soms ná ’n beroerte voor.

Volgens die Alzheimer-vereniging word daar gereeld verkeerdelik na demensie as “seniele demensie” verwys omdat mense glo erge verstandelike agteruitgang is deel van die “normale verouderingsproses”. Dit is nie.

Wanneer jy ouer word vergeet jy, maar wanneer jy demensie het of een van die ander siektes in die groep, sal jy byvoorbeeld later vergeet wat die doel van ’n ketel of ’n strykyster is.

Is die siekte oorerflik? In net 1% van gevalle. Daar word tussen twee tipes van die siekte onderskei. Die een kan vroeg in die lewe voorkom (veertigs en vroeë vyftigs) en dan later in die lewe. Dit is net die vroeë vorms van die siekte wat oorerflik is en dit is baie skaars.


Meer oor:  Gesondheid  |  Alzheimer Se Siekte  |  Bloed  |  Medies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.