Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Met onnie se hulp kan Tshenolo 8 jaar later sien
06 September 2018

’n Potchefstroomse onderwyseres se vasberadenheid om een van haar leerlinge se sig te red, het soveel vrug gedra dat Tshenolo Jafta (17) onlangs ’n tweede kornea-oorplanting gehad het.

Tshenolo Jafta (regs) by haar ma, Poppie, en onderwyseres Marieta Basson, wat die wiele aan die rol gesit het sodat Tshenolo kornea-oorplantings kon kry om haar sig te red. Foto: Susan Cilliers

Marieta Basson pleit al agt jaar om hulp vir Tshenolo, en nou wag ’n toekoms vol moontlikhede op dié gr. 10-leerling aan die Potchefstroom Secondary School.

Basson sê sy het al in 2010, toe Tshenolo ’n gr. 3-leerling aan Potchefstroom Primary was, gesien daar skort iets ernstigs met haar oë omdat haar sig baie swak was. Basson het toe Afrikaans aan dié laerskool gegee, maar is deesdae ’n Afrikaansonderwyseres aan die Potchefstroomse Hoër Tegniese Skool.

Tshenolo moes al in 2010, toe sy nege was, met haar gesig feitlik teenaan haar boek sit om te kon sien. Basson het haar heel voor in die klas laat sit en gereël dat haar skoolwerk in groter letters gedruk word.

Tshenolo se ma, Poppie, vertel hulle het in die afgeleë nedersetting Madibogo naby Delareyville gewoon voordat hulle na Potchefstroom verhuis het. Sy het Tshenolo daar na ’n algemene praktisyn geneem omdat sy haar oë dikwels gevryf het en dit seer was.

Haar sig het egter swak gebly. Dit was eers toe Basson Tshenolo na ’n Potchefstroomse oogspesialis geneem het dat haar siekte gediagnoseer is: keratokonus. Dis ’n toestand waar die kornea verdun en uitbult. Die toestand vererger mettertyd.

Tshenolo Jafta (regs), haar ma, Poppie en Marieta Basson, wat Tshenolo se sig help red het. Foto: Susan Cilliers

Die nuus dat haar dogter kornea-oorplantings in albei oë moes kry om haar sig te red, was ontstellend en angswekkend, sê Poppie. Vir Tshenolo was dit egter goeie nuus, het sy Dinsdag by die gesin se woonplek in die Ikageng-township vertel. “Ek was opgewonde omdat ek geweet het iets kan nou gedoen word.”

Tshenolo is op ’n waglys geplaas voordat sy eers op 24 Augustus 2013 haar eerste oorplanting in haar linkeroog in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein kon kry. Basson het intussen tientalle oproepe gemaak en briewe geskryf om hulp te vra vir Tshenolo se vervoer hospitaal toe, en vir ander koste soos slaapklere, oogtoetse, kontaklense en oogondersoeke.

Instansies soos die Noordwes-Universiteit (NWU), die Rotariërs in Potchefstroom en oogkundiges en -spesialiste in die stad het gratis dienste en hulp gegee.

Tshenolo se eerste operasie was ’n groot sukses, maar sy moes vyf jaar vir die oorplanting in die ander oog wag. Sy is op ’n waglys by die Baragwanath-hospitaal in Johannesburg geplaas en was vyf jaar gelede nr. 169 op die lys. Verlede maand was dit egter haar beurt en sy het ’n suksesvolle kornea-oorplanting aan haar regteroog ondergaan.

Tshenolo Jafta ná haar eerste kornea-oorplanting in 2013. Foto: Verskaf

Tshenolo sê sy was altyd bang om te help met kosmaak uit vrees dat sy sal brand, maar nou help sy fluks daarmee.

Basson sê haar oudleerling was skaam en eenkant toe haar sig baie swak was, maar nou is sy ’n ander kind en soms selfs astrant. “Sy het nou baie meer selfvertroue.”

Tshenolo droom daarvan om ’n forensiese kundige te word sodat sy misdade kan help oplos. “My hele lewe het verander, ek het nou hoop.”

Poppie, ’n enkelouer vir Tshenolo en haar sesjarige boetie Tshepiso, sê sy dank die Here dat Basson in hul lewe gekom het. “Sy is soos ’n ma vir ons.”

Meer oor:  Potchefstroom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.