Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Middeloor-oorplanting in Pretoria 1ste ter wêreld

Die eerste middeloor-oorplanting ter wêreld is Woensdag in die Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria gedoen.

Prof. Mashadu Tshifularo en sy span van die Universiteit van Pretoria (UP) se gesondheidsfakulteit het die 3D-gedrukte middeloorbeentjies wat in die operasie gebruik is, ontwikkel.

Volgens Popo Maja, woordvoerder van die departement van gesondheid, kan dit die antwoord wees vir geleidende gehoorverlies – ’n middeloor-probleem wat veroorsaak word deur aangebore afwykings, infeksie, trauma of metaboliese siektes.

Die span wat Woensdag die eerste middeloor-oorplanting ter wêreld in die Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria gedoen het. Die operasie is op ’n 35-jarige man uitgevoer. Foto: Gautengse gesondheidsdepartement

Die eerste oorplanting is Woensdag suksesvol op ’n 35-jarige man gedoen. Sy middeloor is beskadig toe hy in ’n motorongeluk was. Hy kon ná die ongeluk nie hoor nie.

Maja sê die operasie vervang in werklikheid die hamerbeentjie, die aambeeld, die stiebeuel en die ander gehoorbeentjies waaruit die middeloor bestaan.

“3D-druktegnologie is gebruik om die bene te druk en dit is in die operasie gebruik om die gehoorbeentjies te rekonstrueer.”

Tshifularo sê deur net die gehoorbeentjies wat nie behoorlik funksioneer nie te vervang, is die operasie minder riskant as die bekende prostese-inplanting en die gepaardgaande chirurgiese prosedures.

“Titanium word gebruik omdat dit nie vir die weefsel skadelik is nie. Ons gebruik ’n endoskoop om die vervanging te doen. Die operasie kan vinnig geskied en daar is minimale littekens.”

Die oorplanting kan selfs op babas gedoen word.

Prof. Mashadu Tshifularo en sy span doen die eerste middeloor-oorplanting ter wêreld. Foto: Gautengse gesondheidsdepartement

Volgens die Suid-Afrikaanse Gehoorinstituut neem die mens se gehoorvermoë natuurlik van sy dertigs tot veertigs af. Teen die ouderdom van 80 ly meer as die helfte van mense aan gehoorverlies.

“Terwyl gehoorverlies ’n natuurlike deel van veroudering is, kan dit ook gebeur weens siekte of infeksie. Dit kan ook oorgeërf word, of die resultaat van fisieke skade aan die ore of kop wees,” sê Maja.

Die prosedure met die rekonstruksie van die oorbeentjies verminder ook die kans op verlamming van die gesigsenuwee, wat kan gebeur as die gesigsenuwee, wat deur die spasie van die middeloor beweeg, in die operasie beskadig word.

“3D-tegnologie laat ons toe om dinge wat ons nooit gedink het ons kan doen nie, te doen,” sê Tshifularo, hoof van die oor-neus-en-keeldepartement by die UP.

“Maar ons het finansiering en borge nodig om hierdie uitvinding verder te laat vorder.”

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, sê sy departement sal alles in hul vermoë doen om te help en die hulpbronne te kry om te verseker dat Tshifularo en sy span al die hulp kry wat hulle benodig.

Meer oor:  Pretoria  |  Gesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.