Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Min se mediese voordele bly in slag in Covid-19

Al knou die Covid-19-inperking baie verbruikers finansieel, het bitter min mediesefondslede dié dekking tot dusver verloor omdat hulle nie daarvoor betaal het nie of dit laat vaar het.

Dis onder meer te danke aan spesiale reëlings soos dat lede die geld in hul mediese spaarrekeninge vir premies kan gebruik.

Discovery Health Medical Scheme (DHMS), Medshield en Momentum Health Solutions sê mense wil in die onsekere tye eerder hul mediese voordele behou, al druk die ekonomie.

Medshield het volgens sy hoofamptenaar, Thoneshan Naidoo, einde Augustus 76 230 hooflede gehad, teenoor 78 179 einde Maart.

Damian McHugh, uitvoerende hoof van Momentum Health Solutions, sê omdat mense fondse om verskeie redes verlaat, is dit onmoontlik om te sê hoeveel beëindigings weens bekostigbaarheid was. “Die fonds, en waarskynlik die bedryf in geheel, het ’n veel kleiner impak beleef as wat aanvanklik verwag is. Die ledetal einde Januarie 2021 sal na verwagting nie veel laer wees as begin vanjaar nie.”

Altesaam 19 fondse, wat saam sowat 5 miljoen lewens dek, het sedert April by die Raad op Mediese Skemas (RMS) aansoek gedoen om kwytskelding van bepalings van die Wet op Mediese Skemas (MSA) om van die volgende opsies te uit te oefen:

* Gebruik opgehoopte geld in mediese spaarrekeninge om maandelikse mediesefondsbydraes te betaal;

* Verreken ex gratia-betalings teen bydraes;

* Verminder bydraes vir drie maande; en

* Gee aan ondernemings met minder as 200 werknemers uitstel vir die betaling van hul werkers se bydraes as die onderneming ná die inperking finansieel sal herstel en die uitstaande premies kan betaal.

Die RMS het vroeg besluit betalingsvakansies deur die bank is onhaalbaar omdat nie alle mediese fondse se finansies dit sou kon hanteer nie.

DHMS, die grootste oop mediese skema in die land, het vroeg in die pandemie by die RMS aansoek gedoen dat lede opgehoopte geld uit hul mediese spaarrekeninge kon gebruik om hul premies te dek, sê dr. Ryan Noach, uitvoerende hoof van die mediesefondsadministrateur Discovery Health. Volgens hom kon alle DHMS-lede met ’n positiewe kontantbalans in hul mediese spaarrekening van minstens een maand se premie dié geld vir bydraes gebruik. Meer as 250 000 lede het hiervoor gekwalifiseer toe die inisiatief aangekondig is. Die toegewing aan klein ondernemings om mediesefondsbydraes met tot twee maande uit te stel sonder om voordele te verloor, het potensiële verligting aan sowat 600 000 DHMS-lede gebied, sê Noach.

Die fonds se verligting aan mediesefondslede en klein ondernemings wat bydraes namens hul werkers betaal, beloop sowat R400 miljoen.

Medshield het ook by die RMS aansoek gedoen dat lede met ’n positiewe balans in hul mediese spaarrekeninge dié geld ses maande lank vir bydraes kan gebruik. Tot op hede het 151 lede dié opsie gekies met ’n randwaarde van meer as R3,56 miljoen, sê Naidoo.

Dr. Stan Moloabi, hoofamptenaar van die staat se siekefonds, Gems, sê teen einde Julie is minder as 0,1% van die totale lidmaatskap van 737 670 (afhanklikes uitgesluit) beëindig, maar nie al die gevalle hou met Covid-19 verband nie. Tussen Maart en Augustus is 1 282 lede se lidmaatskap opgeskort weens niebetaling. Tog het Gems selfs gegroei – teen gemiddeld 1 842 nuwe hooflede per maand – sedert Covid-19 geïdentifiseer is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.