Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Minister besorg oor styging in Vrystaat-gevalle

Die gevalle van Covid-19 in die Vrystaat het byna oornag verdubbel en is ’n ernstige bron van kommer vir die minister van gesondheid, veral omdat Mangaung nou as die episentrum van die uitbreking in die provinsie beskou word.

Teen Woensdagoggend het die gevalle in die Vrystaat, meestal in die Mangaung-gebied, met 15 tot 33 toegeneem.

Landwyd is daar 709 bevestigde gevalle van die virus.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het in ’n onderhoud gesê hy is baie bekommerd oor die toename in die Vrystaat.

Altesaam 30 mense wat ’n konferensie by die Divine Restoration Ministries in Bloemfontein bygewoon het, is tot dusver positief vir die virus getoets. Dít nadat vyf buitelanders, wat positief vir die virus getoets is, die konferensie vroeg in Maart bygewoon het.

Volgens hom is hulle besig om die sowat 300 mense wat die konferensie bygewoon het op te spoor.

“Mangaung word nou as die middelpunt van die uitbreking (in die Vrystaat) beskou. Die 300 sal opgespoor word en daarná almal wat in kontak met hulle was.”

Die Batho-kliniek in Bloemfontein. Foto ter illustrasie. Foto: Mlungisi Louw

Mkhize sê daar is tot dusver drie dokters met die virus besmet, een ’n dokter in die Vrystaat.

Geen sterftes is tot dusver aangemeld nie en twee van die 709 bevestigde gevalle word in die hoësorgeenheid behandel.

Intussen is medici in veral staatshospitale bekommerd oor die veiligheid van veral verpleegpersoneel en skoonmakers.

Volgens inligting is dokters gerat met maskers en handskoene en met ander noodsaaklikhede toegerus, maar hulle is bekommerd omdat die verpleegpersoneel en skoonmakers dit glo glad nie het nie.

Daarmee saam het hulle ook nie enige veiligheidstoerusting nie en kommunikeer die gesondheidsdepartement glo nie met hulle nie.

Kopano Moseki, ’n pasiënt by die Batho-kliniek in Bloemfontein, sê hy vrees die virus, maar is bly dat die kliniekpersoneel hul bes doen, hoewel hulle nie maskers het om hulself te beskerm nie.

Navrae hieroor is reeds Maandag na die Vrystaat se gesondheidsdepartement gestuur, maar geen terugvoering is ontvang nie.

Mondli Mvambi, woordvoerder van dié departement, het Woensdag in ’n verklaring gesê hulle waardeer die samewerking van die Divine Restoration Ministries met die siftingstoetse en nasporing van konferensiegangers.

Hulle help die departement op alle moontlike maniere om die konferensiegangers op te spoor. Mvambi sê hulle doen ’n beroep op alle kerke om dié kerk se voorbeeld te volg.

Meer oor:  Zweli Mkhize  |  Vrystaat  |  Koronavirus  |  Styging  |  Minister
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.