Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Minister verduidelik oor NGV: 'Dit sal suksesvol wees'

Die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) sal suksesvol wees as dit in Suid-Afrika ingestel word, belowe dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid.

“Dít is omdat die NGV-beleid afgehandel is ná uitgebreide navorsing en konsultasie met plaaslike en internasionale kundiges voordat dit gefinaliseer is.

“Ons het ook voordeel getrek uit die ervaring van verskeie lande, wat positiewe en negatiewe lesse gehad het met die implementering van universele gesondheidsdekking,” sê Mkhize in ’n parlementêre antwoord, wat Maandag uitgereik is.

Dr. Zweli MkhizeFoto: Ian Carbutt

Mbulelo Bara, ’n DA-LP, wou in ’n parlementêre vraag by hom weet watter magte provinsiale gesondheidsdepartemente onder die NGV sal hê en of die NGV suksesvol sal wees in ag genome dat verskeie loodsprojekte daaroor landwyd misluk het.

Mkhize het in sy antwoord gesê provinsiale gesondheidsdepartemente sal aanhou om magte te hê om gesondheidsdienste in hul onderskeie provinsies te bestuur.

“Hierdie magte word óf regstreeks voorgeskryf deur die Grondwet, óf deur die Wet op Nasionale Gesondheid. Die LUR (vir gesondheid) sal die uitvoerende gesag bly. Die departementshoof sal egter die verantwoordelike beampte vir alle primêre en alle gedelegeerde funksies van die provinsiale regering bly ten opsigte van toepaslike wetgewing en diensvlakooreenkomste."

Van die magte wat provinsies steeds volgens Mkhize onder die NGV sal hê, is onder meer die verantwoordelikheid vir nooddienste, die verskaffing van gespesialiseerde hospitaaldienste, die koördinering van die finansiering en finansiële bestuur en logistieke ondersteuning van distriksgesondheidsrade, sowel as die koördinering van gesondheids- en mediese dienste tydens provinsiale rampe. Verder sal dit ook forensiese patologie, forensiese kliniese medisyne en verwante dienste verskaf, met gemeenskappe skakel, beroepsgesondheid verskaf en gesonde leefstyle bevorder, terwyl dit ook dienste rakende omgewingsbesoedeling sal lewer en gesondheidstelselnavorsing sal verseker.

Volgens Mkhize sal die bestuur van provinsiale tersiêre en streekhospitale, sowel as distriksgesondheidsdienste en -hospitale, van nasionale vlak na provinsies gedelegeer mag word.

LUR’e sal ook statutêre lede van die nasionale gesondheidsraad bly.

Mkhize sê die provinsiale departemente se gelyke toedeling (vanaf die nasionale tesourie) sal afneem in verhouding tot die funksies wat van die provinsiale na die nasionale regering skuif.

“Die tesourie volg die beginsel dat geld toegewys sal word op grond van waar die funksie lê.”

Oor die bewering dat verskeie NGV-loodsprojekte landwyd misluk het, sê Mkhize dat dit nie NGV-loodsprojekte was nie, maar eerder projekte om die hele gesondheidstelsel te versterk wat net in NGV-distrikte geïmplementeer is.

“Die onafhanklike ontleding van die projekte om die gesondheidstelsel te versterk beskryf nie daardie projekte as mislukkings nie. Die aanbeveling is eerder dat al die projekte moet voortgaan, met wysigings in sommige gevalle,” sê Mkhize.

Die portefeuljekomitee oor gesondheid oorweeg die NGV-wetsontwerp as deel van die parlementêre proses, waarvan openbare konsultasie ook deel sal uitmaak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.