
Waka (2) sit op die vloer in ’n kindersentrum in Bangui in die Sentraal-Afrikaanse Republiek. Volgens Unicef, die Verenigde Nasies se kinderfonds, kom groot wanvoeding in die land voor en neem dit toe weens die huidige konflik. Dr. Celecestin T
Minstens 80 miljoen kinders loop die risiko om ernstige siektes soos masels en polio op te doen, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en Unicef Vrydag in ’n verklaring gesê.
Die rede is glo omdat al die aandag aan die Covid-19-pandemie veroorsaak dat kinders se inentings onderbreek word.
Volgens data wat deur die WGO, Unicef en die Sabin Vaccine-instituut ingesamel is, is die normale proses vir inentings in minstens 68 lande onderbreek. Dit raak volgens die verklaring minstens 80 miljoen kinders jonger as een jaar.
“Inentings is een van die belangrikste en fundamenteelste instrumente om siektes te voorkom,” het dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, gesê.
Onderbrekings in die programme weens Covid-19 dreig om dekades se vordering teen siektes soos masels, wat deur entstowwe voorkom kan word, te laat ontspoor.
“Onderbrekings in die programme weens Covid-19 dreig om dekades se vordering teen siektes soos masels, wat deur entstowwe voorkom kan word, te laat ontspoor.”
In die verklaring word verskeie redes vir die probleem geskets.
Sommige ouers is traag om hul huis te verlaat weens die beperking op hul beweging (soos inperking). Ander is bang om rond te beweeg uit vrees vir die koronavirus.
Verskeie gesondheidswerkers is in dié stadium ook nie beskikbaar nie, omdat hulle besig is om teen Covid-19 te veg, of toerusting word vir Covid-19 gebruik pleks van vir ander siektes.