Minstens die helfte van die landdroshof in Bellville se personeellede is positief vir die koronavirus getoets.
Dus kan die hof nie kanse waag en 900 mense per dag tot die hof toelaat nie.
Hierdie kommerwekkende statistieke is saamgevat in ’n e-pos wat deur waarnemende hooflanddros Morajee Naik aan alle regspraktisyns gestuur is en waarin die hof se nuwe administratiewe regulasies aangekondig word.

Hofgangers staan in ’n ry om toegang tot die Bellville-hofgebou te kry. Die foto is in Oktober geneem, maar die toue lyk steeds elke dag so. Foto: Jacques Stander, Gallo Images
Luidens die e-pos is 43 van sy 84 personeellede positief vir die virus getoets – meer as die helfte van hulle die afgelope maand.
Daarom werk hofpersoneel onder geweldige druk, hoewel hulle steeds probeer om ’n goeie diens te lewer ongeag die virus en ’n tekort aan personeel, lui die e-pos.
In die e-pos word bevestig dat alle sake aandag sal geniet, maar dat toegang tot die hof beperk gaan word.
Op vlak 1 van die inperking is tot 900 mense per dag in die hof toegelaat.
“Dit is ’n enorme taak en die handhawing van veilige afstande is nie moontlik nie.”
Daarom het die bestuur besluit dat daar van Maandag geen aansoeke in die mosiehof (met direkte kontak) aangehoor sal word nie.
Alle aansoeke (of dit teengestaan word, of nie) sal aanlyn deur die landdros aangehoor word. Alle sake moet eers deur die klerk van die hof hanteer word.
Verder moet partye hul betooghoofde indien en die landdros sal ’n geskrewe uitspraak lewer.

Die e-pos wat aan regspraktisyns gestuur is. Foto: Verskaf
Verstekvonnisse sal in kamers aangehoor word en alle liasseerwerk sal voortgaan.
Die hof het alle regspraktisyns gevra om so min as moontlik hof toe te kom.
Die e-pos maak geen melding van strafsake nie.
Daar word verneem dat die howe vir ontsmetting sluit as daar ’n positiewe geval is. Dit geld die siviele en strafregtelike dele van die hof.
In Bellville is die straf- en siviele howe in dieselfde gebou en almal gebruik dieselfde in- en uitgang.
Navrae is aan die departement van justisie gestuur oor spesifiek dié hof, maar ook oor die situasie by ander howe landwyd. Die kommentaar sal bygewerk word wanneer dit ontvang word.