Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Mkhize, ander wil glo só nog meer magte bekom

Voorgestelde wysigings aan Suid-Afrika se regulasies vir aanmeldbare mediese toestande sal aan dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, en die uitvoerende gesag onbeperkte magte gee om Suid-Afrikaners se regte eensydig tydens pandemies in te perk, meen die DA.

Dit is daarom volgens Siviwe Gwarube, DA-LP en woordvoerder oor gesondheid, noodsaaklik dat die hele parlement daaroor moet besluit en dat Mkhize nie toegelaat moet word om dit “deur die agterdeur, in die middel van die nag en net 24 uur voordat die (huidige) nasionale ramptoestand verstryk”, te probeer deurvoer nie.

Sy het hiermee verwys na Mkhize wat Dinsdagaand laat die portefeuljekomitee oor gesondheid op ’n spesiale sitting oor die beoogde wysigings in kennis gestel het.

Hy het daartydens gesê dat die aard van Covid-19 Suid-Afrika, soos talle ander lande, oorweldig het.

Dr. Zweli Mkhize Foto: Daily Sun

“Dit het ’n enorme reaksie genoodsaak wat onmiddellike deelname van ’n aantal departemente onder leiding van die president en ander belanghebbendes vereis het.”

Volgens die minister sou Suid-Afrika net op die Nasionale Gesondheidswet kon staatmaak gedurende ’n gewone pandemie, omdat die bepalinge daarvan al is wat nodig sou wees om die virus te beheer.

“Ons glo dat dit op ’n sekere punt meer gepas sal wees om die Nasionale Gesondheidswet en die regulasies vir aanmeldbare mediese toestande te gebruik, wat ons tot sekere aktiwiteite en beperkinge in staat sal stel om ’n spesifieke situasie onder bedwang te kan hou.”

Mkhize het bygevoeg dat sy departement besig is met ’n konsultatiewe proses daaroor omdat dit die land sal help om pandemies voortaan doeltreffender te kan bestuur.

“Ons glo dat as die regulasies gereed is, sal dit waarskynlik een van ons grootste vorms van ammunisie wees om ’n pandemie te bestuur.”

Volgens hom is alle provinsies reeds van die beoogde wysigings in kennis gestel en was die vergadering met die portefeuljekomitee deel van die konsultasieproses.

Dit sal verder ook met alle relevante departemente en die staat se regsadviseurs bespreek word, voordat dit vir goedkeuring aan pres. Cyril Ramaphosa en die kabinet voorgelê word.

Dr. Sibongiseni Dhlomo, voorsitter van die portefeuljekomitee oor gesondheid, het Woensdag Mkhize se konsultasie met die komitee verwelkom en bygevoeg dat die komitee die beoogde wysigings steun.

Gwarube van die DA het verder Donderdag gesê dat Mkhize se beoogde wysigings ook die indruk skep van ’n regering wat “desperaat is om mag oor sy burgers te behou selfs buite ’n wettige nasionale ramptoestand, omdat dit aan hom en ander ministers magte sal gee wat hulle sal toelaat om verreikende beperkings in te stel”.

Dit is arbitrêr deur ’n koronavirusbevelsraad gedoen wat aan niemand anders behalwe die kabinet aanspreeklik is nie.

Sy meen dit is ook ’n poging om regulasies soortgelyk aan die Rampbestuurswet daar te stel en wat die uitvoerende gesag toelaat om beperkings in te stel waaroor die parlement geen oorsig het nie.

Die DA gaan aan die parlement skryf en versoek dat die beoogde wysigings op ’n volle sitting gedebatteer en oorweeg word.

“Die afgelope sewe maande het ons gesien hoe die regering sy wurggreep op landsburgers verstewig met soms irrasionele en onnodige beperkings op hul regte.

“Dit is arbitrêr deur ’n koronavirusbevelsraad gedoen wat aan niemand anders behalwe die kabinet aanspreeklik is nie.”

Volgens Gwarube was die parlement toe net ’n toeskouer, terwyl massiewe besluite oor Suid-Afrikaners se regte geneem is.

“Ons kan nie toelaat dat hierdie stand van sake genormaliseer word asof ons nie in ’n grondwetlike demokrasie leef nie.”

Meer oor:  Da  |  Zweli Mkhize  |  Siviwe Gwarube  |  Pandemie  |  Inperkingsmaatreëls
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.