Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Mkhize nooi dié terug wat afgetree het
Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, besoek Maandag die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) wat in ’n tydelike veldhospitaal omskep is. Daar is plek vir 862 Covid-19-pasiënte. Foto: Chistiaan du Plessis

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het ’n beroep op afgetrede gesondheidsorgwerkers gedoen om terug te keer werk toe om met Covid-19 te help.

Hy het Maandag as deel van ’n oorsigbesoek aan die Wes-Kaap op ’n mediakonferensie in Brackenfell gesê daar is ’n landwye tekort aan verpleegsters.

“Die Wes-Kaap het reeds advertensies geplaas dat verpleegsters aansoek kan doen. Daar is nie ’n beperkinge op hoeveel in diens gestel sal word nie.”

Dr. Zweli Mkhize bekyk een van die beddens in die Thusong-sentrum in Khayelitsha wat in ’n tydelike veldhospitaal omskep is. Regs is Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse LUR vir gesondheid. Foto: Jaco Marais

Hy sê die hulp van afgetrede gesondheidsorgwerkers word ook ernstig benodig. Omdat hulle kwesbaarder vir die virussiekte is, sal afgetrede werkers op ’n manier aangewend word wat hul risiko vir besmetting sal verklein.

Werklose dokters en verpleegsters wat by die professionele gesondheidsraad geregistreer is, word ook gevra om nou aansoek te doen.

Mkhize sê data-modelle oor die verspreiding van Covid-19 wys dat die Wes-Kaap, ondanks al sy voorbereidingswerk, nie betyds genoeg beddens sal hê wanneer die uitbreking sy kruin bereik nie.

Dié vooruitskattings is egter nie in beton gegiet nie en kan nog baie verander.

Mkhize sê die nasionale regering sal die Wes-Kaap met meer hulpbronne bystaan, omdat dié provinsie na verwagting voor ander provinsies die piek van Covid-19 sal bereik.

Mkhize sê hy is nie te bekommerd oor die agterstand in toetse wat in Suid-Afrika ondervind word nie, omdat die land al in die verlede agterstande gehad het en dit toe uitgewis het.

Hy sê die regering sal ongeag ’n tekort aan toetse sy strategie versterk om kontakte van Covid-19-gevalle na te spoor en te isoleer.

Ons het nie altyd ’n toets nodig nie. Dokters kan ’n kliniese diagnose maak.
Die Thusong-sentrum in Khayelitsha is in ’n tydelike veldhospitaal omskep. Foto: Jaco Marais

“Ons het nie altyd ’n toets nodig nie. Dokters kan ’n kliniese diagnose maak.”

Dié strategie, sowel as gewone mense wat gesondheidsmaatreëls nakom, kan die las op die gesondheidstelsel verminder.

Mkhize se oorsigbesoek oor twee dae aan die Wes-Kaap is gedoen met die oog daarop dat pres. Cyril Ramaphosa na verwagting ook die provinsie self sal besoek.

Mkhize wou eers self sien hoe voorbereid die provinsie vir die volle aanslag van Covid-19 is.

Ons sal waarskynlik die land wees wat mettertyd vir die wêreld kan sê hoe Covid-19 dié mense raak.
Dr. Zweli Mkhize
Dr. Zweli Mkhize in die Thusong-sentrum. Foto: Jaco Marais

Hy het Maandag drie veldhospitale en een kwarantyn-fasiliteit in die Kaapstad-metro besoek.

By een van dié veldhospitale, die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks), waar 862 pasiënte behandel kan word as hospitale oorweldig word, staan rye beddens onheilspellend leeg.

Veldhospitale is waar pasiënte met matige infeksies behandel sal word as hospitale oorweldig word.

Mense wat in kontak met ’n besmette mens was, sal in kwarantyn-fasiliteite bly sodat hulle nie ander mense aansteek nie. As mense hulself nie tuis kan isoleer nie, kan hulle gedwing word om hierheen te gaan.

Lede van die media drom saam om dr. Zweli Mkhize terwyl hy hulle toespreek. Foto: Jaco Marais
bidvest-pakhuis, brackenfell, veldhospitaal
Dr. Zweli Mkhize praat op ’n mediakonferensie by die Bidvest-pakhuis in Brackenfell. Die pakhuis is in ’n veldhospitaal omskep. Foto: Jaco Marais
Dr. Zweli Mkhize
Dr. Zweli Mkhize op die mediakonferensie. Foto: Jaco Marais
Beddens in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks). Foto: Christiaan du Plessis
Die Thusong-sentrum in Khayelitsha. Foto: Jaco Marais

Mkhize sê hy hoop mense verander hul gedrag tot só ’n mate dat dit nie eens nodig sal wees om die veldhospitale te gebruik nie.

Hy sê verder die regering het nog nie genoeg data oor die impak van Covid-19 op mense met MIV/vigs nie – hy bly bekommerd daaroor. Die kwarantyn-fasiliteite word juis geskep sodat mense met onderliggende siektetoestande beskerm word.

“Ons het al so ’n paar gevalle gehad van pasiënte met MIV/vigs wat Covid-19 opgedoen het, maar ons kan nog nie regtig sê wat die uitwerking is nie. Ander lande het nie baie MIV-positiewe mense nie. Ons sal waarskynlik die land wees wat mettertyd vir die wêreld kan sê hoe Covid-19 dié mense raak.”

Volgens syfers wat die gesondheidsdepartement bekend gemaak het, was daar teen Maandag 34 357 bevestigde positiewe gevalle van Covid-19 in Suid-Afrika, ’n toename van 1 674 vergeleke met die vorige dag.

Teen Maandag het 705 mense in Suid-Afrika weens Covid-19 gesterf, en 17 291 het herstel.

Meer oor:  Zweli Mkhize  |  Koronavirus  |  Gesondheidswerkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.