Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Mkhize-verlof sal nie inentings raak, sê Dhlomo

Die spesiale verlof van dr. Zweli Mkhize weens die Digital Vibes-tenderskandaal van R150 miljoen sal nie Suid-Afrika se Covid-19-inentingsprogram nadelig raak nie.

Dr. Sibongiseni Dhlomo, voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor gesondheid, het Woensdag so gesê en bygevoeg dat Mkhize as minister van gesondheid die Covid-19-pandemie en nasionale inentingsprogram as deel van ’n “kollektief” bestuur het.

Pres. Cyril Ramaphosa het Mkhize Dinsdagmiddag op spesiale verlof geplaas om hom “in staat te stel om aandag te gee aan bewerings en ondersoeke rakende die Digital Vibes-kontrak”.

Dit totdat die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) sy ondersoek afgehandel het.

Dr. Zweli Mkhize Foto: Ian Carbutt

Die herrie rondom Mkhize se kop het uitgebreek nadat die Daily Maverick vroeër onthul het hoe die departement van gesondheid dié kontrak toegeken het aan Digital Vibes waar Tahera Mather, Mkhize se eertydse woordvoerder toe hy nog die ANC-tesourier-generaal was, en Naadhira Mitha, sy voormalige persoonlike assistent, groot rolle speel.

Intussen het Gwede Mantashe, ANC-voorsitter, Woensdagaand ook tydens die Moses Kotane-gedenklesing by die Universiteit van Johannesburg gesê dat die ANC meer vertroue moet inboesem deur korrupsie in sy midde meer beslissend te takel.

“Dit is nodig dat die mense kan sien die party is ernstig om dit te doen. As ons konsekwent optree, ons tyd neem en nie terugstaan as mense ons beledig nie, sal ons die slag teen korrupsie wen.”

Mantashe meen korrupsie is tans so verdelend in die ANC dat dit die party “kan doodmaak” as hy korrupsie nie “verslaan” nie.

Dhlomo het ook Woensdag in ’n verklaring gesê die portefeuljekomitee het die implementering van die nasionale inentingsprogram eerstehands in provinsies ervaar.

“Die prestasie van die span onder leiding van adj.pres. David Mabuza is bemoedigend. Dit sal dus nie deur die spesiale verlof van Mkhize geraak word nie.”

Volgens hom het Mkhize vroeër ook die komitee verseker dat hy nie die SOE-ondersoek teen hom sal belemmer nie.

Mkhize het Dinsdag ook volgehou dat hy nie enige rol in die toeken van die kontrak gehad het of persoonlik daarby baat gevind het nie.

Daily Maverick het ook onthul hoe dieselfde maatskappy glo ook R300 000 oorbetaal het aan ’n maatskappy van Mkhize se seun.

Die prestasie van die span onder leiding van adj.pres. David Mabuza is bemoedigend. Dit sal dus nie deur die spesiale verlof van Mkhize geraak word nie.

Volgens Mkhize het sy familie besluit dat die seun die geld moet terugbetaal. Hy het bygevoeg sy seun het ’n persoonlike verhouding met mense in die maatskappy. “Ons as volwassenes is nie altyd bewus van die omvang van ons kinders se verhoudings nie.”

Ramaphosa het intussen vir Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, as waarnemende minister van gesondheid aangestel.

Prof. Erwin Schwella, ’n regeerkundige by die Hugenote-kollege in Wellington, meen Kubayi-Ngubane se aanstelling wys Ramaphosa soek net ’n tussentydse figuur in die pos.

Hy meen ook daar is genoeg kundigheid in die bestuur van Suid-Afrika se Covid-19-pandemie, waarvan Ramaphosa ook deel is, dat dit nie in gedrang sal kom deurdat Mkhize op spesiale verlof is nie. Dieselfde geld die departement.

“Daar is ook nie baie ander talent as plaasvervangers nie. Ramaphosa doen sulke aanstellings egter nie lukraak nie. Dit is ’n fyn skaakspel.”

Prof. Dirk Kotze, politieke ontleder by Unisa, meen Kubayi-Ngubane het genoeg algemene kennis en bestuursvermoë as ’n minister omdat sy voorheen ook al die portefeuljes van energie, kommunikasie en wetenskap en tegnologie se politieke hoof was.

“Ons het gesien dat die president ook vir Khumbudzo Ntshavheni as waarnemende minister in die presidensie aangestel het terwyl sy ook minister van kleinsake-ontwikkeling is. En nou vir Kubayi-Ngubane.”

Volgens Kotze het dié twee gebeure ’n moontlike kabinetskommeling vorentoe geskuif.

“Dit wys ook dat Kubayi-Ngubane se aanstelling nie vir lank sal wees nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.