Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Mkhize wil hê dat getalle voor Kersfees in O-Kaap afneem

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, was Dinsdag in intense samesprekings met gesondheidsamptenare by die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth oor die Covid-19-pandemie in die Oos-Kaap gewikkel.

Hy het vroeër na voorleggings van plaaslike gesondheidsamptenare geluister, voordat hy hulle toegespreek het oor sy bekommernisse en planne om die provinsie in sy stryd teen die Covid-19-pandemie te help.

Maar buite was daar ’n gekap aan die deure van die hospitaal se hulpbronnesentrum en die singende gemeenskapsgesondheidswerkers wat voor die gebou betoog het, kon binne gehoor word.

Mkhize was besig met samesprekings met Sindiswa Gomba, LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap, asook ander gesondheidsamptenare in die provinsie, terwyl die gesondheidswerkers voortgegaan het met hul betoging.

Die Nelson Mandelabaai-metro is een van die brandpunte in die Oos-Kaap wat die verspreiding van die koronavirus betref.

Mkhize het in sy toespraak voor die vergadering benadruk sy besoek is om sy hulp en ondersteuning aan te bied om te verseker dat Covid-19-infeksies voor Kersfees afneem.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, was Dinsdag by die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth waar hy na voorleggings van plaaslike gesondheidsamptenare geluister het, voordat hy hulle toegespreek het oor sy bekommernisse en planne om die Oos-Kaap in sy stryd teen die Covid-19-pandemie te help. Foto: Cara-Lee Dorfling

‘Ons wil nie nou praat oor ’n volle inperking nie’

“Soos sake nou staan, wil ons nie praat oor ’n terugkeer na ’n volle inperking nie. Ons het genoeg lesse daaruit geleer. Ons wil nou hê mense moet saamwerk. Ons wil nie ’n tweede vlaag sien nie.”

Hy sê daar moet op die brandpunte soos Motherwell (in Port Elizabeth) gefokus word. Die redes vir uitbrekings moet ondersoek en gestop word.

“Die probleem is nie meer in die hospitale nie, maar daarbuite in die gemeenskappe.”

Oor gemeenskappe wat nie pasiënte vanuit ander dorpe in hul hospitale wil toelaat nie, sê Mkhize die plaaslike gemeenskappe moet beter ingelig word oor die virus, sodat hulle nie daarteen vasskop as pasiënte uit ander dorpe plaaslik behandel word nie.

Volgens Mkhize moet ’n sterk boodskap uitgestuur word oor die veiligheidsmaatreëls wat gevolg word.

Hy sê daar moet ook ’n plan gemaak word met die lang rye mense wat voor poskantore staan, aangesien daardie mense daar moet wees om hul toelaes te ontvang.

Hy sê beamptes moet gereeld inspeksies hou by ondernemings, soos tavernes, om te verseker regulasies word nagekom.

“Ook winkels moet seker maak mense volg die regulasies. Daar moet opgetree word teen ondernemings en winkels wat dit nie doen nie.”

Mkhize het gesê ’n moeilike pad lê voor, veral omdat Kersfees om die draai is.

“Ons kan nie staat maak op ’n entstof nie. Ons moet nou daarop fokus om die verspreiding van die virus te bekamp.”

Mkhize sê hy wil teen die einde van die week ’n verslag hê oor presies wat gesondheidswerkers in die Oos-Kaap benodig.

Mense betoog buite die gebou waar dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Dinsdag by die Livingstone-hospitaal gepraat het. Foto: Cara-Lee Dorfling

Betogers

Die groep van sowat 40 mense wat buite betoog het, het geëis dat Mkhize hulle toespreek.

Sweetness Stokwe, Nehawu se streeksekretaris, het gesê die werkers betoog sedert verlede Woensdag as deel van hul pleidooi dat gemeenskapsgesondheidswerkers permanent aangestel moet word.

“Die werkers word al jare lank uitgebuit, hulle kry maar R3 500 (’n maand). Ons doen ’n beroep op die regering om hulle permanent aan te stel en ordentlike salarisse te gee, want sodra een van hulle die ouderdom van 60 bereik, kry hulle net ’n brief wat sê ‘dankie’ en dit is onregverdig. Hulle kry nie ’n mediese fonds, behuising of selfs pensioen nie.”

Stokwe sê die verskoning van ‘daar is nie geld om die werkers permanent aan te stel nie’, is nie aanvaarbaar nie.

“Daar is geld wat bestee word op die SAL (Suid-Afrikaanse Lugdiens) om hulle vir die soveelste keer te red, maar daar is glo nie geld nie. Premiers en ministers het hul verhogings ontvang, so daardie verskoning sal nie aanvaar word nie.”

Stokwe het gesê die minister is bewus van hul griewe, aangesien hulle al in Julie, gedurende Mkhize se vorige besoek aan Port Elizabeth, dit onder sy aandag gebring het.

Meer oor:  Coronavirus  |  Koronavirus  |  Vlak 1  |  Pandemie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.