Die farmaseutiese maatskappy Moderna gaan om noodgoedkeuring vir sy Covid-19-entstof in Amerika en Europa vra nadat studies bewys het die entstof is 94,1% doeltreffend.
Volgens Moderna is die entstof se doeltreffendheidskoers konsekwent vir die demografie van alle ouderdomme, etnisiteite, rasse en geslagte. Die entstof het ook ’n 100%-sukseskoers om ernstige gevalle van die virussiekte te voorkom.
Die bevindings van Moderna maak dit die tweede entstof wat moontlik vanjaar noodgoedkeuring in Amerika sal kry. Die eerste, Pfizer en BioNTech se entstof, se doeltreffendheidsvlak is 95%.
“Ons glo ons het ’n entstof wat baie doeltreffend is. Ons het nou die data om dit te bewys,” het Tal Zaks, die mediese hoof van Moderna, gesê. “Ons verwag om ’n groot rol teen die pandemie te speel.”
Van die 196 mense uit ’n groep van meer as 30 000 vrywilligers wat die virussiekte opgedoen het, het 185 ’n plasebo en 11 het die entstof ontvang. Volgens Moderna was daar 30 gevalle met erge simptome van die siekte – almal in die plasebogroep – wat beteken dat die entstof 100% doeltreffend is teen erge gevalle.” – Reuters