Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Moenie bekommer oor Indiese variant’

Die Indiese variant van die Covid-19-virus (B.1.617.2) wek minder kommer as die Suid-Afrikaanse variant (B.1.351) en kenners meen daar is nie rede tot kommer nie.

Dit volg nadat vier gevalle van die virusvariant in die land aangeteken is, het die departement van gesondheid Saterdagaand bevestig.

Elf gevalle van die Britse variant (B.1.1.7) is ook in die land aangeteken.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sê twee gevalle van die Indiese variant is by reisigers in Gauteng en KwaZulu-Natal geïdentifiseer. Dié mense is in isolasie, terwyl mense met wie hulle in aanraking was, nagespoor word.

Mkhize sê agt van die 11 gevalle van die Britse virusvariant is in die Wes-Kaap gevind, terwyl twee gevalle in Gauteng en een in KwaZulu-Natal aangemeld is.

Prof. Barry Schoub, voorsitter van die ministeriële entstof-komitee vir Covid-19, sê die Suid-Afrikaanse variant wek groter kommer as die Indiese variant.

“Dit is meer oordraagbaar, net soos ons variant, maar daar is nog geen bewyse dat dit tot erger siekte lei nie.

Dit blyk egter dat die immunresponse wat van entstowwe en natuurlike immuniteit kom, meer doeltreffend is teen die Indiese variant as teen die Suid-Afrikaanse variant, ” sê Schoub.

Prof. Francois Venter, ’n kenner in oordraagbare siektes aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê daar is waarskynlik selfs meer variante as die bogenoemde drie wat die rondtes doen en dat Suid-Afrikaners nie nodig het om hulle daaroor te bekommer nie.

“Mense hoef nie bekommerd te wees oor die variant nie, maar eerder oor die feit dat so min mense nog ingeëent is,” sê Venter.

Oor die stygende gevalle sê hy dit kan moontlik die derde golf wees.

“Die eerste en tweede golf was ses maande uitmekaar so dit is bietjie vinnig, maar ons begin nou in die koue maande in beweeg wat kommer wek,” sê Venter.

Suid-Afrika het Saterdag vir die vierde agtereenvolgende dag meer as 2 000 nuwe koronavirusgevalle aangemeld.

Ons sien ’n toename in die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes. Gauteng het die afgelope paar dae ook ‘n toename begin toon.

Mkhize sê die land het 2 191 nuwe gevalle aangeteken nadat Suid-Afrika op 5 Mei vir die eerste keer sedert 18

Februarie meer as 2 000 nuwe gevalle aangemeld het.

Hoewel die stygende koronavirusgevalle in Suid-Afrika kommerwekkend is, wou die nasionale gesondheidsorg se laboratoriumdienste (NHLS) nie oor die moontlikheid van ‘n derde vlaag spekuleer nie.

Die NHLS het wel op Netwerk24 se navraag oor die moontlikheid van ’n derde vlaag gesê daar is aanwysings dat gevalle in sekere provinsies toeneem.

“Ons sal hierdie toenames oor die volgende paar dae monitor. Ons sien ’n toename in die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes. Gauteng het die afgelope paar dae ook ‘n toename begin toon.”

Volgens die NHLS het die daaglikse positiwiteitskoers die afgelope weke gestyg en dít is kommerwekkend.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) is besig om die gevalle en hospitalisering dop te hou en sal die nasionale departement van gesondheid oor enige verwikkelinge inlig.

Suid-Afrika het Saterdag vir die vierde agtereenvolgende dag meer as 2 000 nuwe gevalle aangemeld. Die land het laas in Februarie meer as 2 000 nuwe gevalle aangeteken

’n Man hardloop in Nieu-Delhi, Indië, om weg te kom van die hitte weens die vlamme van die verassings van mense wat aan die koronavirus gesterf het. Foto: AP

Indiese variant: 5 redes om nie bekommerd te wees nie

Mkhize het Suid-Afrikaners gemaan om weens die volgende vyf redes nié bekommerd te wees oor die Indiese variant nie:

1. Dit is normaal vir virusse om te muteer en te versprei en dit is dus verwag en geen verrassing nie.

2. Die stryd teen die variante behels presies dieselfde voorkomingsgedrag as vir “gewone” Covid-19: Was en ontsmet jou hande, behou jou afstand, dra jou masker, vermy groot saamtrekke.

3. Die gesondheidsdepartement monitor en toets reisigers wat die land inkom en hanteer dit onmiddellik daarvolgens.

4. Wetenskaplikes vermoed Suid-Afrika se virusvariant is steeds meer aansteeklik.

5. Suid-Afrika se virusvariant sal moontlik bly oorheers, al is daar ander variante.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.