Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Motsepes se R1 miljard-skenking is ‘familie-geld’
Covid-19
Patrice Motsepe en sy vrou dr. Precious Motsepe tydens die aankondiging Saterdag dat hulle 'n R1-miljard rand vir die stryd teen Covid-19.

Die sakeman Patrice Motsepe en sy vrou, dr. Precious Motsepe, het Saterdag aangekondig dat hulle saam met die ondernemings waarby hulle betrokke is, R1 miljard gaan bewillig om te help met die stryd teen die verspreiding van die koronavirus en die uitdagings te beveg waardeur Suid-Afrika nou in die gesig gestaar word.

Hulle het die aankondiging tydens ’n aanlyn mediakonferensie gemaak.

Die betrokke maatskappye en organisasies is die Motsepe-stigting, Sanlam, African Rainbow Capital (ARC), African Rainbow Minerals (ARM) en nog ander.

Precious, die stigter en voorsitter van die Motsepe-stigting, het gesê daar word dadelik honderde miljoene rande van die geld beskikbaar gemaak om te help om lewens te red, die verspreiding van Covid-19 te vertraag en om dit onder beheer te bring.

“Ons is ook besig om handreinigers, ontsmettingsmiddels en beskermende drag aan te koop.”

Sy het gesê dat hulle ook in gesprek met die regering, gesondheidswerkers en ander rolspelers is om te help om ander toerusting wat benodig word aan te koop en om hulpmiddele wat noodsaaklik is beskikbaar te maak.

“Ons is ingelig dat water vir gereelde handewas belangrik is om die verspreiding van die virus te vertraag en te beperk. Ons gaan daarom water voorsien aan arm gemeenskappe in plattelandse gebiede en in die stede. Daar gaan watertenke gekoop word, boorgate gaan geboor en toegerus word en daar sal ook sanitêre fasiliteite gebou word.”

Precious het gesê die inperking het ’n invloed op die onmiddellike verkryging van toerusting en dienste. Van die dienste en goedere kan egter ook voorsien word wanneer die inperking opgehef word.

Op kort termyn gaan hulle bykomende klaskamers, rekenaarsentrums en laboratoriums in al nege van Suid-Afrika se provinsies bou.

Dit is om te help met die groot getal leerlinge in klaskamers, veral in die lig van die huidige situasie rondom Covid-19 en in die lig daarvan dat mense afstand tussen mekaar moet handhaaf.

Die departement van basiese onderrig, skoolhoofde en onderwysers sal skole in plattelandse en stedelike gebiede sonder internettoegang of fasiliteite van studiegidse, wetenskaplike sakrekenaars, woordeboeke en ander opvoedkundige materiaal voorsien.

Die Motsepes het gesê hulle is daartoe verbind om by te dra tot ’n hoë gehalte opvoeding, infrastruktuur en ander fasiliteite wat sal kan help om die land voor te berei vir toekomstige pandemies.

Ian Kirk, uitvoerende hoof van Sanlam, het op sy beurt gesê Sanlam het ’n ryke geskiedenis waar hulle mense, hul kliënte en land eerste ag.

Hy is trots op die vennootskap met die Motsepe-familie en ander ondernemings. “Ons glo die pogings sal ’n betekenisvolle bydrae lewer om die pandemie te help beveg.”

Motsepe het gesê dat hulle ook met die #SolidarityFonds in gesprek is, maar die geld wat hulle bewillig, omdat dit “familie-geld” is, kan binne dae beskikbaar wees en onmiddellik gebruik kan word om te begin met die aankope en verkryging van die toerusting en hulpmiddels.

Meer oor:  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.