Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Motsoaledi: ‘Ons sal Enterprise, Rainbow straf’

Die twee maatskappye wat betrokke is by die uitbreking van die listeriose-epidemie in die land wat reeds die dood van meer as 180 mense veroorsaak het, sal “gestraf” word.

Daarbenewens sal die regering die familielede van oorledenes bystaan met die nodige inligting en kundigheid, sou hulle die maatskappye in ’n hof aanspreeklik wil hou.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het Donderdagmiddag hierdie beloftes in die Nasionale Vergadering gemaak in ’n debat oor listeriose wat hy self aangevra het.

Dit is welbekend dat Enterprise Foods in Polokwane en Rainbow Chicken in Sasolburg die bron is van polonie, Weense worsies en ander kouevleisprodukte wat beskou word as die oorsaak van die grootste uitbreking van listeriose tot dusver ter wêreld.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid. Foto: City Press

Motsoaledi sê die regering sal nie daaroor stilbly “omdat dit private maatskappye is nie”.

“Daar is wette hieroor. Hulle sal gestraf word. Daar is geen twyfel dat dit sal gebeur nie.”

Volgens Motsoaledi is daar ook nou ’n nuwe beleid ingestel dat enige diagnose van listeriose sedert 15 Desember 2017 dadelik aan die owerhede aangemeld moet word. “Só kan ons weet as daar nog ’n epidemie uitbreek.”

Volgens hom is die meeste van die gevalle (62%) tot dusver in Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal aangemeld.

Hy het Suid-Afrikaners weer versoek om alle kouevleisprodukte te vermy.

Elsabe Ntlangwini, EFF-LP, sê die uitbreking van listeriose moes nooit gebeur het nie en Suid-Afrika benodig ’n “werkende gesondheid- en voedselstelsel”.

“Die feit is dat meer as 180 mense dood is weens gewetenlose maatskappye.”

Dit volgens haar ook pynliker omdat niemand waarskynlik vir die sterftes aanspreeklik gehou sal word nie.

“Ons bevraagteken nie die optrede van wit maatskappye wat regulasies ten gunste van wins skend nie. Rainbow Chicken en Enterprise Foods moet in die parlement hieroor kom verslag doen. Ons moet hulle aanspreeklik hou en vervolg.”

Evelyn Wilson, DA-LP, sê sy onthef nie die betrokke voedselvervaardigers van enige blaam nie, maar daar moet gevra word of hulle alleen vir die epidemie en sterftes verantwoordelik is.

“Die feit is dat sulke voedselfabrieke elke drie maande deur omgewingsgesondheidsinspekteurs geïnspekteer moet word. Is dit gedoen?

Sy het aan Motsoaledi gesê dat hy as minister aanspreeklik is.

Volgens haar herinner dié kwessie ook aan die Life Esidimeni-tragedie in Gauteng.

Adv. Anton Alberts, LP van die Vryheidsfront Plus, sê listeriose is een van die simptome van ’n regering wat nie meer behoorlike dienste kan lewer nie en waar ’n algehele agteruitgang op alle vlakke die norm is.

“Die land se gesondheidsdienste is ’n goeie voorbeeld en onnodige sterftes is nie ’n vreemde verskynsel in dié departement nie. Dit het normaal geword dat mense wat in staatshospitale beland, meestal soontoe gaan om te sterf, weens ’n gebrek aan dienslewering. Dit is skokkend, maar nou reeds byna normaal.”

Ahmed Shaik Emam, NFP-LP, sê die regering moet sterk teen die verantwoordelikes optree omdat die polonie en kouevleis aan die heel armste Suid-Afrikaners verkoop is.

Motsoaledi het gesê dit is desperaat van veral die DA om ook die Life Esidimeni-tragedie in die debat te opper. “Ons het verantwoordelikheid daarvoor geneem. Listeriose is deur private maatskappye veroorsaak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.