Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Mynwerker wat toe nie MIV het, eis nou van dokter

’n Rotsboorder van Limpopo het glo ná ’n maand se trauma en die neem van antiretrovirale medisyne uitgevind MIV is verkeerdelik by hom gediagnoseer.

Boaventura da Conceiçao Chambal (44) dagvaar nou die mediese praktyk van dr. P.M. de Kock en Vennote in Thabazimbi vir R478 000 vir mediese uitgawes, verlies aan inkomste en trauma.

Die mediese praktyk staan die eis teen.

Jean-Paul Rudd van Adams en Adams Prokureurs sê dat Chambal ’n bestaande pasiënt van die praktyk was en voor die voorval verskeie kere daar was vir doktersbesoeke.

Chambal het onder meer glo nooit berading rakende ’n MIV-toets, die betekenis en gevolge daarvan ontvang nie.

Luidens hofstukke wat by die hooggeregshof in Polokwane ingedien is, is Chambal, ’n rotsboorder by ’n myn, weer op 21 November 2016 na die praktyk weens diarree. Hy is deur ’n algemene praktisyn, een van verskeie by die praktyk, ondersoek. Dié dokter se naam is onbekend aan Chambal.

“Die eiser is vir verskeie bloedtoetse na ’n laboratorium verwys.

“Op 25 November 2016 het hy weer die dokter by die praktyk gekonsulteer en is hy ingelig sy bloedtoetse wys hy is met MIV besmet. Die eiser moes onmiddellik met antiretrovirale behandeling begin,” lui die hofstukke.

Vyf dae later is Chambal weer na die mediese praktyk weens stres veroorsaak deur sy “MIV-status”.

Op 29 Desember 2016 het hy vir nog bloedtoetse gegaan en dié het aangedui dat hy MIV-negatief is.

Chambal het hom tot Conrad Weiss van Moloto-Weiss-prokureurs, ’n plaaslike prokureur, gewend. Dié het vir Adams en Adams Prokureurs genader om hulle by te staan met die saak.

Volgens die prokureurs was die verweerder, by wyse van een van die vennote en/of mediese professionele werknemers, in verskeie opsigte nalatig.

Chambal het onder meer glo nooit berading rakende ’n MIV-toets, die betekenis en gevolge daarvan ontvang nie.

Die mediese praktyk het in antwoord op die eis erken dat Chambal ’n pasiënt by die praktyk was, ’n dokter gesien het weens diarree en dat bloedtoetse gedoen is.

Daarby, voer die hofstukke aan, het die verweerder nie opgelet dat die laboratoriumverslag van 21 November 2016 ’n “twyfelagtige resultaat” aangedui het wat “nie diagnosties van ’n MIV-infeksie was nie”.

Chambal is dus “verkeerdelik en nalatig” gediagnoseer in “omstandighede waar dit nie redelik was om dit te doen nie”.

Verder is ongepaste en onnodige medisyne aan hom voorgeskryf wat skadelik vir sy fisieke en sielkundige welstand was.

“Weens die nalatigheid van die verweerder deur een van die vennote of mediese werknemers, het die eiser gely weens ernstige en onnodige stigmatisering, huweliksprobleme, angs, bekommernis en stres as gevolg van die foutiewe diagnose.

“Hy het ook onnodige mediese uitgawes aangegaan en ’n verlies aan inkomste gely weens die verkeerde diagnose,” voer Chambal se regspan aan.

Weiss verduidelik dat hul kliënt destyds dadelik sy werkgewer laat weet het van sy “MIV-status”, wat probleme by die werk veroorsaak het en toe tot depressie by hom gelei het.

“Die depressie het ’n invloed op sy produktiwiteit by die werk gehad, wat tot ’n verlies aan onder meer produksiebonusse en ook minder oortydwerk en -betaling gelei het,” sê Weiss.

Die mediese praktyk het in antwoord op die eis erken dat Chambal ’n pasiënt by die praktyk was, ’n dokter gesien het weens diarree en dat bloedtoetse gedoen is. Die praktyk ontken al die ander aantygings en versoek dat Chambal se eis met koste van die hand gewys word.

* Rudd sê hulle het intussen ook die mening van ’n internis ingewin.

“Ons is besig om ’n opsomming van sy getuienis voor te berei, waarna ons dit by die hof sal indien. Ons sal dan ook aansoek doen vir ’n verhoordatum.”

Meer oor:  Thabazimbi  |  Eis  |  Miv  |  Gesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.