Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
’n Toelae teen kosnood kom

Die regering staan gereed om ’n algemene inkomste-toelae aan te kondig vir miljoene informele werkers wat weens die Covid-19-rampregulasies deur hongersnood in die gesig gestaar word.

’n Soldaat staan by hawelose mense wat Vrydag in d
’n Soldaat staan by hawelose mense wat Vrydag in die Johannesburgse middestad bymekaargemaak is nadat Suid-Afrika se 21 dae van inperking die vorige nag in werking getree het. Foto: AP

’n Taakspan van ekonomiese raadgewers, nieregeringsorganisasies en amptenare werk al twee weke aan berekeninge en meganismes om die kwesbares te help.

Die plan is Saterdag op ’n vergadering van die taakspan gefinaliseer en word vandag voorgelê aan pres. Cyril Ramaphosa se nasionale bevelsraad vir die Covid-19 rampkrisis.

Die taakspan word gelei deur dr. Kate Philip, ’n ontwikkelingstrateeg wat onder meer ná die 2008- ekonomiese krisis deur die Internasionale Arbeidsorganisasie as ekonomiese raadgewer vir die Griekse regering gehelp het met kleinsakeontwikkeling en ekonomiese beleid.

Sy werk die afgelope vier jaar as ’n tegniese adviseur in die nasionale tesourie.

Philip het vroeër die week op sosiale media geskryf ’n toelae wat vir vyf maande sal geld, is die waarskynlikste opsie.

‘Mense kan binne dae honger ly.’

Terselfdertyd woed ’n beleidsdebat in die kabinet en ANC-topstrukture oor hoe om ekonomiese skade te help beperk.

Die besluit van die Reserwebank Donderdag om die kapitaalmark te stimuleer deur beleggings in langtermyneffekte te koop, word ook vertolk as kwantitatiewe verruiming en het opnuut tonge laat loskom oor die moontlikheid “om geld te druk” en so uit die land se ekonomiese probleme te kom.

In die proses is die monde gesnoer van die sogenaamde Chicago Boys Club – die party se senior ekonomiese denkers wat bekende teenstanders is van sulke maatreëls, onder wie Tito Mboweni, minister van finansies, en Enoch Godongwana, ekonomiese beleidshoof.

Die Chicago Boys Club was ’n groep Suid-Amerikaanse ekonome wat in die 1970’s aan die Universiteit van Chicago opgelei is en teenstanders is van staatsdeelname in die ekonomie. Hulle het later beheer oor die Chileense staatsdiens oorgeneem en voor die voet geprivatiseer.

Inwoners van Langa in Kaapstad het nie by die reël
Inwoners van Langa in Kaapstad het nie by die reëls van die inperking gehou nie. Wetstoepassers het Vrydag hul hande vol gehad met kinders wat buite speel en volwassenes wat rondloop. Foto: Edrea du Toit

In die ANC word dié naam gebruik wanneer daar van ekonome soos Trevor Manuel, oudpres. Thabo Mbeki, Mboweni en Alec Erwin gepraat word.

Mboweni en Godongwana het nie die debat verloor nie. Hulle is ook nie heeltemal teen dié soort maatreëls gekant nie. Dis net dat hulle so sterk met teenargumente daarteen geassosieer word dat die houdings van ander rolspelers heeltemal verhard wanneer hulle enigiets kwytraak.

Caroline Skinner, ’n ontwikkelingsekonoom aan die Universiteit van Kaapstad en lid van die toelae-taakspan, sê egter die tegniese probleme om geld by werklik behoeftige mense te kry “is supermoeilik”.

“Ons het hard gewerk aan die syferkwessies, soos hoeveel mense geraak en hoeveel bereik kan word. Die taakspan het vandag (Vrydag) op die eerste dag van die inperking, ontstellend baie verslae ontvang van mense wat werk doen waarvoor hulle nooit betaal gaan word nie.

“Navorsing het oor en oor gewys dat ’n ekonomiese skok soos hierdie mense wat op die broodlyn leef, binne ’n paar dae in hongersnood dompel,” het sy aan Rapport gesê.

“ ’n Algemene inkomste-toelae is die ideaal, maar dit is polities baie onaanvaarbaar in sommige regeringskringe. Dit lyk egter asof dit aanvaar gaan word en dit kan selfs Sondag (vandag) reeds aangekondig word,” het Skinner gesê.

Die toelae sal dalk ook gaan aan die 6,8 miljoen ontvangers van die kinderondersteunings- en ouderdomstoelaes.

“Dit bied bestaande infrastruktuur om die geld by behoeftiges te kry, maar daar is ’n baie groot groep tussenin wat tot dusver selfversorgend was en nie deel is van die bestaande veiligheidsnet nie. Die groot vraag is hoe hulle gehelp kan word,” sê Skinner.

Jane Barrett, Suid-Afrikaanse direkteur van Wiego, ’n internasionale nieregeringsorganisasie wat fokus op werkers in die informele sektor, sê mense soos afval-herwinners, huiswerkers, taxibestuurders en straathandelaars moet hulp kry, want hul geld droog op binne drie dae nadat hulle hul werk verloor het.

“Voedselsekerheid is nou ons grootste krisis,” sê sy.

Nóg ’n miljard!
Die miljardêr Patrice Motsepe het net soos die Ruperts en Oppenheimers R1 miljard bewillig om die invloed van die Covid-19-pandemie te versag. Hy het ook gister ’n skenking gemaak aan die Solidariteitsfonds vir die koronavirus.
Honderde miljoene rande is beskikbaar om sanitasiemiddels, handreinigers, medisyne en beskermende kleredrag te koop en watertenks, boorgate en toilette aan informele en landelike gebiede te verskaf.
Die Solidariteitsfonds is Maandag deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig en staan onder voorsitterskap van die sakevrou Gloria Serobe en Adrian (Adi) Enthoven, ondervoorsitter.
Besonderhede oor die fonds word Maandag bekend gemaak. – Liesl Peyper

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Enoch Godongwana  |  Patrice Motsepe  |  Koronavirus  |  Virus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.