Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
’n Wonderwerk, sê dokter ná baba geboortedefek oorleef

’n Babaseuntjie wat met ’n lewensgevaarlike inwendige geboortedefek gebore is en min tot geen kans op oorlewing gehad het nie, het ondanks alles oorleef en draai nou sy ouers om sy pinkie.

Ignus Greyling is nou al ’n maand by die huis nadat hy nege weke in die Netcare Clinton-hospitaal in Alberton aan die Oos-Rand deurgebring het. ’n Diafragmabreuk is kort ná sy geboorte by hom gediagnoseer. Foto: Verskaf

Ignus Greyling se klein lyfie was in ’n stadium aan ongeveer tien masjiene gekoppel om hom aan die lewe te hou.

Die drie maande oue Ignus is op 15 April in die Netcare Clinton-hospitaal in Alberton aan die Oos-Rand gebore.

Hy is sy ouers, Phillip en Nadia Greyling, se tweede seun. Die gesin woon op ’n plaas buite Heidelberg in Gauteng.

Byna onmiddellik ná sy geboorte is opgemerk dat sy asemhaling nie goed is nie. Hy is vir waarneming in die neonatale waakeenheid opgeneem. Hy is geïntubeer en op ’n ventilator geplaas.

Die volgende oggend het sy ouers die nuus ontvang dat ’n aangebore diafragmabreuk – ’n toestand wat die longe affekteer – by hom gediagnoseer is.

“Daar was ’n groot gat in die spier wat die bors van die buik skei. Dit het veroorsaak dat sy buikorgane deur die spier tot in die borskas druk, en gevolglik sy longe saamdruk,” verduidelik Nadia (29).

“Die drukking op sy longe was buitengewoon hoog, en alle lewens- en asemhalingsmaatreëls (wat ingestel is om hom te help) het misluk.”

Klein Ignus is uiteindelik op Vadersdag (20 Junie) saam met sy ouers, Nadia en Phillip Greyling, huis toe nadat hy twee maande in die Netcare Clinton-hospitaal in Alberton deurgebring het. Foto: Verskaf

Ignus se dun- en dikderm en milt was ook by sy borskas ingedruk. Dit het veroorsaak dat sy hart meer na regs geskuif het en een van sy longe nie heeltemal ontwikkel het nie.

Volgens dr. Ashley Jeevarathnum, ’n pediatriese pulmonoloog van die hospitaal, was Ignus se algehele kans op oorlewing “buitengewoon laag, indien nie nul nie”.

“Hy het nie net oorleef nie, maar alles dui daarop dat hy liggaamlik en neurologies gesond is. Dit is ’n absolute wonderwerk,” sê Jeevarathnum in ’n verklaring.

Om hom enigsins ’n kans te gee dat sy lewe gered kon word, is Ignus vir 12 dae 24 uur per dag aan ’n Ecmo of ’n ekstrakorporeale membraan-oksigenasiemasjien gekoppel. Dit is ’n masjien wat die funksies van die hart en longe kunsmatig verrig. Dit het sy longe die nodige ruskans gegee vir die belangrike operasie wat hy moes ondergaan.

’n Maand ná sy geboorte was Ignus sterk genoeg om geopereer te word. Die operasie, waartydens die gat in sy diafragma met weefsel bedek is, het twee en ’n half uur geduur.

Nadia Greyling kon Ignus ná ses weke vir die eerste keer in die hospitaal vashou. Foto: Verskaf

Die operasie was suksesvol en Ignus was op die herstelpad.

“Die dokters het aanvanklik nie gedink hy staan ’n kans om te oorleef nie. Ek dink hy het waarlik by die dood omgedraai,” sê Nadia.

“Tot dusver het hy geen probleme met sy asemhaling nie. Die dokters het verduidelik jou longe ontwikkel totdat jy agt of nege jaar oud is. So sy longetjie sal beslis nog self kan groei.”

Ignus het nege weke in die hospitaal deurgebring en is uiteindelik op Vadersdag (20 Junie) ontslaan.

“Dit is wonderlik om hom by die huis te hê. ’n Mens is nou so besig om hom te geniet dat jy amper van al daardie sleg vergeet.

“Jou moed sak nie eers in jou skoene as hy huil nie. Ek is net te dankbaar dat hierdie mannetjie by die huis is.”

Nadia beskryf die twee maande in die hospitaal as ’n wipwa van emosies.

“Dit was baie emosioneel om huis toe te gaan sonder ’n babatjie en die babakamer staan gereed. Ek en my man het baie gehuil en gebid – ek dink dit is wat ons die meeste deurgedra het.”

Meer oor:  Alberton  |  Oorleef
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.