Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
NDZ hou vol: Geen wyn mag in Wes-Kaap vloei

Regulasies in die Wes-Kaap sal nie verslap word sonder dat dit ook in die res van die land gebeur nie.

So blyk dit in beantwoordende hofstukke wat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, by die hooggeregshof in Kaapstad laat indien het.

Sy staan ’n aansoek teen van ’n groep restaurante gelei deur Chefs Warehouse wat onder meer vra dat die verbod op alkohol landwyd opgehef word. As dit nie moontlik is nie, vra hulle dat dit minstens in die Wes-Kaap gebeur.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het vroeër gesê hy sal met die regering praat om die drankverbod in die Wes-Kaap op te hef.

Hy sê dié provinsie se gesondheidstelsel het tans die kapasiteit om terselfdertyd pasiënte met Covid-19 en alkoholverwante traumavoorvalle te hanteer.

Die vlak wat bepaal word om toegepas te word op ’n nasionale vlak geld vir alle provinsies, metrogebiede en distrikte, tensy ’n verskillende vlak andersins bepaal word.

In die hofstukke sê Dlamini-Zuma egter daar bestaan geen gronde om regulasies in sekere provinsies te verslap, terwyl beperkinge in ander provinsies geld nie.

“Die regulasies is bedoel om in die algemeen toegepas te word om alle Suid-Afrikaners regverdig en gelyk oor die hele land heen te beskerm”.

Dlamini-Zuma sê voorts om provinsies verskillend te hanteer veroorsaak moeilike beleidskwessies – iets wat buite die mandaat van die hof val.

Volgens haar sal ’n ontleding van die aantal positiewe gevalle en die beskikbaarheid van gesondheidsinfrastruktuur en personeel die duur van die verbod bepaal.

Adv. Theo Nel, wat die aansoekers verteenwoordig, meen Dlamini-Zuma se uitlatings beteken die Wes-Kaap sal moet wag vir ander provinsies om Covid-19 in bedwang te bring voordat regulasies verslap word.

Dlamini-Zuma het in die Staatskoerant van 28 Mei gesê ingevolge die regering se gedifferensieerde benadering kan inperkingsvlakke verskil tussen provinsies, distrikte en metrogebiede.

Daar moet eintlik geen inperking geld nie. Maar as daar ’n inperking moet wees, moet dele van die land wat verby die piek beweeg het en Covid-19 beter kan hanteer, toegelaat word om ’n ander benadering te volg.

“Die vlak wat bepaal word om toegepas te word op ’n nasionale vlak geld vir alle provinsies, metrogebiede en distrikte, tensy ’n verskillende vlak andersins bepaal word,” lui die Staatskoerant.

Tyrone Seale, waarnemende woordvoerder in die presidensie, en Lungi Mtshali, woordvoerder van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, kon egter nie Sondag klarigheid gee oor hoe die inperkingsvlakke ten opsigte van provinsies en distrikte nou werk nie.

Prof. Shabir Madhi, enstofkundige, het by navraag sy verbasing oor Dlamini-Zuma se ommeswaai uitgespreek.

Hy sê regulasies kan tans in die Wes-Kaap verslap word sonder dat die gesondheidstelsel oorweldig word. Volgens hom is daar ’n duidelike afname in infeksies in dié provinsie, hoewel infeksies weer kan opvlam.

“As nuwe brandpunte in die Wes-Kaap egter vroeg genoeg opgespoor en in bedwang gebring word, sal dit nie tot ’n tweede piek lei nie,” sê Madhi.

Die Wes-Kaap kry veral swaar weens die inperking omdat toerisme ’n groot deel van sy ekonomie uitmaak. Dit is ironies dat die provinsie wat Covid-19 die beste bestuur, die swaarste gestraf word deur die inperking.

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, meen Dlamini-Zuma is misleidend in haar hofstukke omdat die regulasies duidelik voorsiening maak daarvoor dat regulasies in sekere provinsies verslap kan word.

“Daar moet eintlik geen inperking geld nie. Maar as daar ’n inperking moet wees, moet dele van die land wat verby die piek beweeg het en Covid-19 beter kan hanteer, toegelaat word om ’n ander benadering te volg,” sê hy.

Volgens hom sal dit ’n onnodige en verwoestende impak op die Wes-Kaapse ekonomie hê as regulasies eers verslap word as Covid-19-infeksies in ander provinsies daal.

“Die Wes-Kaap kry veral swaar weens die inperking omdat toerisme ’n groot deel van sy ekonomie uitmaak. Dit is ironies dat die provinsie wat Covid-19 die beste bestuur, die swaarste gestraf word deur die inperking.”

Die politieke ontleder Theo Venter sê Gauteng is eintlik ook reeds verby die piek. Covid-19 gaan volgens hom ook nie op dieselfde manier in elke provinsie piek nie.

“Daarom, en om ekonomiese skade te beperk, moet die regering buigsaamheid toelaat.”

Volgens Venter wil die regering dieselfde vlak van inperking in die hele land laat geld omdat hy nie die vermoë het om beweging van mense tussen provinsies en distrikte kan beheer nie.

Meer oor:  Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Alan Winde  |  Hooggeregshof  |  Kaapstad  |  Drankverbod  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Regulasies  |  Wes-Kaap  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.