Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Net 3% in SA sal entstof kry

Die kanse dat ’n Covid-19-entstof voor die tweede helfte van volgende jaar vrylik aan alle Suid-Afrikaners beskikbaar gaan wees, is uiters skraal.

Joan Burgess ontvang die afgelope week die Pfizer/BioNTech-entstof vir Covid-19 by ’n deurry-sentrum in Hyde in Manchester, Engeland. Dié sentrum is vermoedelik die eerste ter wêreld. Foto: Getty

Die eerste besending entstowwe wat in die eerste helfte van die nuwe jaar hier verwag word, sal net genoeg wees om 3% van die bevolking – sowat 1,7 miljoen mense – in te ent, het dr. Anban Pillay, adjunkdirekteur-generaal van gesondheid, die afgelope week op ’n webinaar van die mediesefondsadministrateur AfroCentric gesê.

Voorheen het pres. Cyril Ramaphosa gesê die eerste besending behoort genoeg te wees om 10% van die bevolking in te ent.

Dié slegte nuus volg te midde van groot onsekerheid of die regering hoegenaamd sy verpligtings teenoor Covax, die internasionale inisiatief om entstowwe aan armer lande beskikbaar te stel, kan nakom.

Sowat twee miljard dosisse entstof sal na verwagting deur Covax aan sowat 190 lande beskikbaar gestel word.

Die Suid-Afrikaanse regering het egter Woensdag reeds die tweede spertyd gemis om die eerste paaiement van R300 miljoen vir die land se deelname aan Covax te betaal. Die Solidariteitsfonds, wat gestig is om die ekonomiese en gesondheidsimpak van Covid-19 te verlig, het uiteindelik onderneem om die eerste paaiement te betaal. Die tesourie swyg egter in alle tale oor waar die volgende betaling van R1,7 miljard vandaan gaan kom.

Johnson & Johnson se kandidaat-entstof kan na verwagting R145 per dosis kos. Die Pfizer- en Moderna-entstof kos tussen R290 en R465 stuk en vereis twee dosisse.

Die Solidariteitsfonds het reeds R2,8 miljard van R3,2 miljard se donasies toegewys en sou dus beswaarlik die volgende betaling ook kon maak.

Agt lande behoort reeds voor die einde van die jaar te begin om hul burgers teen Covid-19 in te ent. Minstens vier – Amerika, Brittanje, Rusland en China – het reeds begin.

Die Suid-Afrikaanse regering, aan die ander kant, het “reeds die bal laat val” met die verkryging van entstowwe, het prof. Shabir Madhi, entstofkundige van die Universiteit van die Witwatersrand, onlangs gesê. “Ons moes ses maande gelede al met ontwikkelaars begin onderhandel het.”

Volgens Popo Maja, woordvoerder van die departement van gesondheid, sal gesondheidswerkers in die staat en private sektor eerste in die ry staan vir die eerste besending van sowat 1,7 miljoen entstowwe.

Tito Mboweni, minister van finansies, het op Twitter gedreig om Julius Malema te vra om met die “DA-knape” “af te reken”.

Volgens die Suid-Afrikaanse Raad vir Verpleegsters en die Raad vir Gesondheidsberoepe is daar sowat 660 000 verpleërs, vroedvroue, dokters, ambulanspersoneel en ander terapeute in Suid-Afrika geregistreer. Dit sluit ander hospitaalpersoneel soos portiere, skoonmakers, kombuis- en administratiewe personeel uit.

Die regering se onwilligheid om oop kaarte te speel oor die Covax-betalings het Vrydag tot ’n onderonsie gelei tussen Tito Mboweni, minister van finansies, en die DA-leier, John Steenhuisen, toe Mboweni die “DA-knape” op Twitter uitgetrap het as “tjatjarag” (oorywerig en oorspanne) en gedreig het om Julius Malema te vra “om met hulle af te reken”.

Steenhuisen het op sy beurt gedreig met ’n aansoek kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) om die regering te dwing om te sê wat sy entstof-planne is.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het die oponthoud Vrydagaand in ’n inligtingsessie aan “administratiewe kwessies” toegeskryf en gesê hy het reeds Suid-Afrika se Covax-waarborge onderteken. Die geld sal binne dae in Covax se rekening wees.

Pillay het op Dinsdag se AfroCentric-webinaar gesê Suid-Afrika moes klarigheid kry oor twee belangrike kwessies: Is die land deur Covax genoop om ’n entstof te neem wat nie geskik is vir plaaslike omstandighede nie (soos die Pfizer-produk, wat teen -70 ºC geberg moet word); en kan Suid-Afrika aan Covax onttrek sou hy self ’n entstof in die hande kan kry wat minstens 10% goedkoper is as die Covax-entstof.

Die reuse-premie op Covid-19-entstowwe blyk uit die feit dat ryk en middelinkomstelande reeds 10 miljard dosisse direk by vervaardigers bestel het. Kanada het genoeg verskillende entstowwe bestel om sy hele bevolking vyf keer in te ent. Amerika en Brittanje sou elke burger vier keer kon inent, lui ’n verslag van die Duke Global Health Innovation Center.

Lande wat self entstowwe kan vervaardig – soos Indië en Brasilië – het as deel van hul vervaardigingsooreenkomste gesorg dat van dié entstowwe in hul lande bly, lui die verslag. Brasilië sal 200 miljoen dosisse hê vir sy bevolking van 210 miljoen mense.

Lande soos Peru, wat nie entstowwe kan ontwikkel of vervaardig nie, het kliniese toetse met entstowwe op eie bodem toegelaat op voorwaarde dat hulle van die middels mag koop.

Vier van die voorloper-entstowwe – waaronder dié van Johnson & Johnson, AstraZeneca, Novavax en die Pfizer-entstof wat nou in Amerika en Brittanje toegedien word – is in Suid-Afrika getoets. Daar is egter geen aanduiding of die regering, soos in Peru, aangedring het op eerste toegang tot enige suksesvolle produk nie en die regering weier om Rapport se navrae hieroor te beantwoord.

“Ons lewer nie nou kommentaar oor entstowwe nie. Die minister sal op ’n geleë tyd ’n aankondiging maak,” het Maja Donderdag volgehou.

Dr. Lwazi Manzi, woordvoerder vir Mkhize, het navrae geïgnoreer.

Mkhize en verskeie van die ministeriële advieskomitee se lede het Vrydagaand ’n omvattende inligtingsessie gehou oor ’n nuwe variasie van die Sars-CoV-2-virus wat in Suid-Afrika voorkom en wat aansteekliker as vorige variasies blyk te wees.

Op ’n vraag oor of die regering terughou met entstofkontrakte weens onsekerheid of dit doeltreffend sal wees teen die nuwe variasie, het Mkhize gesê dit is nie die geval nie. Daar is geen rede om te glo dat die entstowwe wat nou ontwikkel word nié teen die nuwe variasie sal werk nie, maar ons kan dit monitor omdat van die entstowwe ook in Suid-Afrika getoets word, het Mkhize gesê.

Intussen het dr. Boitumelo Semete-Makokotlela, uitvoerende hoof van die Beheerraad vir Gesondheidsprodukte (Sahpra), gesê Johnson & Johnson is die eerste vervaardiger wat ’n aansoek by Sahpra ingedien het om sy kandidaat-entstof in Suid-Afrika te registreer. Dié kandidaat-entstof kan ’n geskikte opsie wees omdat dit ’n enkeldosis is, nie buitengewone infrastruktuur vir berging en verspreiding vereis nie en na verwagting minder as $10 (R145) per dosis sal kos, het prof. Glenda Gray, hoof van die Mediese Navorsingsraad (MNR) en studieleier vir dié plaaslike entstoftoetse, gesê.

Die Pfizer- en Moderna-entstof kos tussen $20 (R290) en $32 (R465) stuk en vereis twee dosisse.

Semete-Makokotlela het gesê Sahpra is gereed om entstofgoedkeurings te versnel, maar sonder om vereistes vir veiligheid en doeltreffendheid in te boet. Geen gesondheidsprodukte mag sonder Sahpra-registrasie in Suid-Afrika gebruik word nie.

Volgens Semete-Makokotlela deel reguleringsowerhede wêreldwyd inligting om goedkeurings te versnel.

Pillay het Dinsdag ook gesê die regering sal die enigste aankoper van entstowwe wees en sal dit ook aan die private sektor verskaf. Hy sê internasionale farmaseutiese maatskappye onderhandel in dié stadium eerder met regerings as groeperings binne lande.

Volgens hom sal Covid-19-entstowwe deel wees van die voorgeskrewe minimum voordele (VMV’s) wat mediese fondse móét betaal. Die diagnose en behandeling van Covid-19 is reeds ’n VMV.

Intussen het die meeste mediese fondse die afgelope week aangedui dat hulle gretig is om saam met die regering te onderhandel om gepaste entstowwe vir Suid-Afrika te bekom.

Dr. Ronald Whelan, handelshoof van Discovery Health wat onder meer die Discovery Health Mediese Skema (DHMS) administreer, sê ’n openbare-private-sektor-vennootskap (PPP) is nodig om entstowwe vir alle Suid-Afrikaners beskikbaar te maak.

Volgens Craig Comrie, uitvoerende hoof van Profmed, het mediese fondse reeds miljarde bestee aan Covid-19-verwante hospitalisasie en behandeling. Entstowwe sal hopelik die langtermynkoste van die siekte in bedwang hou, maar mediese fondse gaan sukkel om te betaal as die entstof op die duur meer as R700 per persoon kos.

Mediesefondsreserwes sal eerste gebruik word om dit te finansier, maar dit kan ledebydraes later opjaag.

Comrie skat dit kan aanvanklik sowat R1 200 per inenting kos voordat die pryse daal. Dit sluit in R80 tot R500 vir die entstof self, logistieke koste van sowat R650 (afhangende van hoe die entstof geberg en vervoer word), resepteer- en verspreidingskoste van sowat R80, plus die tarief vir die dokter wat die inenting doen.

Comrie beklemtoon dat dit ’n wesenlike impak sal hê of ’n entstof ’n enkeldosis (soos dié van Johnson&­Johnson) of twee dosisse (soos dié van AstraZeneca) vereis.

Damian McHugh, uitvoerende hoof van Momentum Health Solutions, sê as ’n mediese fonds 250 000 begun­­s­tigdes het wat ingeënt moet word teen R200 per inenting, sal dit die fonds R50 miljoen per jaar kos. As twee dosisse nodig is, verdubbel dié koste.

Dr. Lungi Nyathi van AfroCentric, wat onder meer Medscheme administreer, sê hulle praat met verskeie farmaseutiese maatskappye om op hoogte te bly van entstofontwikkeling en wanneer dit in Suid-Afrika beskikbaar sal wees. Medscheme bestudeer ook sy data om vas te stel hoeveel van sy lede in prioriteitsgroepe val.

Die regering se advieskomitee oor Covid-19 is besig om verdere prioriteitsgroepe vir inentings ná gesondheidswerkers te identifiseer. Dit sal waarskynlik eerste ouer mense en diegene met onderliggende siektes wees.

Dit is nie duidelik wanneer die eerste Covax-entstowwe in die land sal aankom nie. Ramaphosa het vroeër gesê dit kan in die tweede kwartaal van 2021 wees, maar die WGO het Vrydag aangedui dat die eerste entstofvoorraad dalk vroeër in die jaar by lidlande kan uitkom.

Meer oor:  Anban Pillay  |  Popo Maja  |  Tito Mboweni  |  John Steenhuisen  |  Shabir Madhi  |  Zweli Mkhize  |  Covid-19  |  Mediese Fondse  |  Solidariteitsfonds  |  Entstof  |  Covax
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.