Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Netwerk24 kyk terug: ’n Jaar sedert pandemie SA tref

Dit is Vrydag presies ’n jaar sedert Suid-Afrika se eerste Covid-19-geval aangemeld is. Intussen het die pandemie grootskaalse verwoesting in die gesondheidsektor én die ekonomie gesaai. Dennis Delport kyk na Suid-Afrika se grootste Covid-19-gebeure van die afgelope jaar.

“Mede-Suid-Afrikaners, vanoggend, Donderdag 5 Maart, het die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) bevestig dat ’n vermoedelike geval van die koronavirus positief getoets is vir die virus.

“Die pasiënt is ’n 38-jarige man wat saam met sy vrou na Italië gereis het. Hulle was lede van ’n groep van 10 mense wat op 1 Maart na Suid-Afrika teruggekeer het.

“Die pasiënt het op 3 Maart ’n algemene praktisyn besoek met simptome van koors, kopseer, algemene ongesteldheid, ’n seer keel en ’n hoes. Die praktyk se verpleegster het die toets gedoen en dit aan die laboratorium oorhandig. Die pasiënt is sedert 3 Maart in selfisolasie. Die paartjie het ook twee kinders.

“Die noodbedryfsentrum (EOC) het moontlike kontakte ná konsultasies met die pasiënt en die dokter geïdentifiseer. Die nasporingspan is na KwaZulu-Natal ontplooi, saam met epidemioloë en klinici van Nios. Die dokter is ook in selfisolasie.”

Met hierdie verklaring van dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, op 5 Maart 2020 het Suid-Afrika ’n nuwe, onsekere tydperk betree nadat ’n man van Hilton naby Pietermaritzburg die eerste van meer as 1,5 miljoen mense in die land geword het wat tot dusver positief getoets is vir die koronavirus.

Toe Netwerk24 Hilton op 6 Maart besoek, was dit duidelik dat die koronavirus die Hilton-gemeenskap in rep en roer het, maar hulle ook byeengebring het.

Maskers en handreinigers was oral te sien.

Op dié dorp, bekend om sy rykmansbuurte en -skole, het die lewe nie stilgestaan nadat die eerste geval daar bevestig is nie.

“Ons moet mekaar help in hierdie tyd. Die mense het mekaar nou nodig en dit is presies wat ons doen,” het Bonelo Mpele (35), ’n inwoner van Hilton, gesê.

Toe Netwerk24 hom nader om kommentaar, was hy juis besig met een van die belangrikste voorkomingsmaatreëls – om sy hande te was.

Mpele het ook vertel dat dit moeilik is om handreinigers en maskers in die hande te kry. “Ons deel wat ons kry,” het hy vertel.

tydlyn 1 jaar, covid-19
Dit kring uit

Nadat Suid-Afrika se eerste pasiënt positief getoets is, moes Cowan House, ’n private skool in Hilton, ook noodgedwonge sy deure sluit as voorsorgmaatreël omdat die man se kinders hier skoolgaan.

Slegs twee dae nadat die eerste bevestigde virusgeval aangemeld is, is ’n 39-jarige vrou van Gauteng ook positief getoets. Sy was lid van die groep wat van Italië teruggekeer het.

Cowan House, ’n private skool in Hilton, KwaZulu-Natal, is in Maart 2020 as ’n voorsorgmaatreël gesluit omdat die kinders van die man wat Suid-Afrika se eerste aangetekende Covid-19-geval was hier skoolgegaan het. Foto: Dennis Delport

Op 8 Maart 2020 maak die nasionale gesondheidsdepartement bekend dat die man van Hilton se vrou ook positief getoets is.

Mkhize is dieselfde dag inderhaas na Pietermaritzburg om bekommerde gemeenskapslede gerus te stel.

“Waarvoor is ons bang? Dit is nie so erg nie, mits ons onsself met kennis oor die koronavirus bemagtig,” het Mkhize in Pietermaritzburg se stadsaal gesê.

“Dit was net ’n kwessie van tyd voordat die virus hier geïdentifiseer sou word. Om die waarheid te sê, die virus sal in elke land in die wêreld voorkom. Niemand kan dit keer nie en daar is niks wat ons daaraan kan doen nie,” het Mkhize gesê.

Dr. Zweli Mkhize tydens die mediakonferensie in Pietermaritzburg op 8 Maart 2020. Foto: Dennis Delport

Hy het toe gesê daar is ook geen rede tot paniek nie “omdat daar baie meer oor die virus bekend is as ’n paar maande gelede”.

Dié versekering aan gemeenskapslede was egter van korte duur. Op 23 Maart het pres. Cyril Ramaphosa aangekondig dat Suid-Afrika vanaf 26 Maart ’n nasionale ramptoestand verklaar.

Die land het toe reeds 403 bevestigde gevalle van die virus gehad. Die inperking sou 21 dae van krag wees. Dit is toe later met twee weke verleng, waarna begin is om ’n inperking op verskillende vlakke in te stel, met vlak 5 die strengste.

Skielik is die land tot stilstand gedwing en is verskeie sektore van die ekonomie gesluit.

Ondernemings moes ook werknemers noodgedwonge van die huis af laat werk.

Skole is gesluit en Suid-Afrikaners mag slegs die huis verlaat het om kos en noodsaaklikhede te koop, en vir noodgevalle.

Die verkoop van alkohol en tabakprodukte is ook vir ’n geruime tyd verbied onder vlak 5, 4 en 3 van die inperking.

Suid-Afrika is sedert 1 Maart 2021 op vlak 1.

Eerste sterftes

Op 27 Maart 2020, slegs een dag nadat die nasionale staat van inperking in werking getree het, het Suid-Afrikaners wakker geword met die nuus dat die land sy eerste Covid-19-sterfgeval aangemeld het.

Slegs 22 dae ná die eerste bevestigde geval het Madeleine van Wyk, ’n 48-jarige vrou van Kaapstad se noordelike voorstede, gesterf. Sy is in die Durbanville Mediclinic dood en is een van twee Kaapse vroue wat volgens die gesondheidsdepartement op daardie dag aan Covid-19 dood is.

Madeleine van Wyk, ’n 48-jarige vrou van Kaapstad se noordelike voorstede, was die eerste persoon in Suid-Afrika wat aan Covid-19 gesterf het.

Die ander vrou was die 28-jarige Sherilee Jansen van Macassar. Jansen is gehospitaliseer nadat sy erge asmatiese simptome getoon het.

In die afgelope jaar het Suid-Afrika ook twee vlae van ’n skerp styging in infeksies ervaar. Die eerste vlaag het in Junie verlede jaar begin en sterftes het begin toeneem. Teen 8 Junie is daar reeds meer as 1 000 Covid-19-sterftes aangemeld. Op 22 Junie het Suid-Afrika die 100 000-kerf vir infeksies verbygesteek, waarna dié vlaag op 24 Julie sy hoogtepunt bereik het, toe 13 944 virusgevalle daardie dag aangemeld is.

Die verwoestende impak van die eerste vlaag was duidelik. Teen 8 Augustus het meer as 10 000 mense gesterf aan Covid-19, die virussiekte wat veroorsaak word deur die koronavirus Sars-CoV-2.

Ná die eerste vlaag het Ramaphosa die inperkingsvlak in September na vlak 2, en toe na vlak 1 afgebring. Dit was veral die toerismebedryf wat gejuig het omdat hulle ook weer sake kon doen. Dit sou later begin bydra tot ’n tweede vlaag van infeksies nadat duisende mense vir die Desembervakansie oor Suid-Afrika se provinsiale grense gereis het.

Gesondheidswerkers in ’n saal vir Covid-19-pasiënte by die Nasrec-veldhospitaal. Vrydag is dit ’n jaar sedert Suid-Afrika se eerste Covid-19-geval aangemeld is. Foto: Melinda Stuurman
Tweede vlaag

Op 9 Desember kondig Mkhize aan dat die land ’n tweede vlaag beleef met infeksies en sterftes wat skerp toeneem. ’n Week later het Suid-Afrikaners die nuus gekry dat ’n nuwe variant van die virus, genaamd 501Y.V2, in die land geïdentifiseer is.

Prof. Salim Abdool Karim, medevoorsitter van die ministeriële Covid-19-advieskomitee, het op 18 Desember op ’n mediakonferensie gesê die nuwe variant se toetsmonsters toon ’n baie hoër viruslading, “wat beteken dat dit baie vinniger kan versprei en dat een besmette persoon baie meer mense as voorheen kan aansteek”.

Met ’n nuwe, meer aansteeklike variant wat Suid-Afrika se tweede vlaag dryf, het Suid-Afrika die 1 miljoen-kerf vir infeksies op 27 Desember verbygesteek. Ramaphosa het kort voor Nuwejaar die land teruggeskuif na vlak 3 van die inperking in ’n poging om die getal infeksies in bedwang te bring. Nietemin is ’n rekordgetal infeksies aangemeld nadat Suid-Afrika die Nuwejaar binnegegaan het  met 18 000 nuwe gevalle wat binne ’n dag aangeteken is.

Enkele dae later, op 8 Januarie, het die land sy hoogste getal nuwe infeksies van 21 980 koronavirusgevalle aangemeld, wat ook die hoogtepunt van die tweede vlaag was. Dit was duidelik dat die tweede vlaag veel dodeliker was nadat meer as die helfte van die land se 44 000 sterftes teen vroeg in Januarie in hierdie tydperk aangemeld is. Tot dusver het Suid-Afrika meer as 50 000 mense aan die virussiekte afgestaan.

Entstof

Die jaar het darem nie net slegte nuus opgelewer nie. Verskeie farmaseutiese maatskappye het sedert November begin aankondig dat hulle ’n Covid-19-entstof ontwikkel het.

Op 1 Februarie 2021 ontvang Ramaphosa en ander hooggeplaastes met groot fanfare die land se eerste besending amptelike entstof op die aanloopbaan van die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park. Sowat 1 miljoen dosisse van die AstraZeneca-Oxford-entstof is van die Serum-instituut in Indië bekom. Dit was ’n baken van hoop, of so het almal gedink.

Op 7 Februarie maak Mkhize bekend dat die verspreiding van die AstraZeneca-entstof vir eers gestaak word.

Volgens Abdool Karim is die besluit geneem weens nuwe navorsing wat getoon het dat dié entstof nie so doeltreffend is teen 501Y.V2 om ligte tot matige Covid-19 te voorkom nie.

Op 16 Februarie ontvang Suid-Afrika 80 000 dosisse van die Johnson & Johnson-entstof teen Covid-19 om sy gesondheidswerkers onder fase 1 van die land se entstofplan in te ent. ’n Dag later word Zoliswa Gidi-Dyosi, ’n verpleegster by die Khayelitsha-hospitaal in die Wes-Kaap, die eerste persoon in Suid-Afrika wat met die eerste dosis van dié besending entstof ingeënt word. Ramaphosa en Mkhize is ook ingeënt in ’n poging om aan landsburgers te wys die entstof is veilig. Tot dusver is reeds meer as 80 000 gesondheidswerkers in Suid-Afrika teen Covid-19 ingeënt.

Zoliswa Gidi-Dyosi, ’n verpleegster by die Khayelitsha-hospitaal in die Wes-Kaap, kry haar inenting. Foto: GCIS

Daar is hoop, het Ramaphosa tydens sy toespraak op 1 Februarie gesê.

“Dit hang van ons af om daardie hoop lewend te hou en om vasbeslote te bly in ons verbintenis tot mekaar en tot ons land. Saam sal ons herstel en herbou. Mag God Suid-Afrika seën en haar mense beskerm,” het hy sy toespraak met ’n sprankie hoop afgesluit.

Pres. Cyril Ramaphosa kry die Johnson & Johnson-entstof teen Covid-19. Foto: GCIS

Meer oor:  Entstof  |  Enstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.