Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
NGV: ‘Als van aspirien tot skandering beheer’

Dokters sal onder die nasionale gesondheidsversekering (NGV) voorgesê word presies watter handelsmerk medisyne hulle mag voorskryf en wanneer hulle watter toetse mag aanvra.

NGV gaan geleidelik in werking gestel word en daarom gaan belastingkrediete vir mense met mediese fondse nie eensklaps verwyder word nie, sê die tesourie. Foto: Pixabay

Die Wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekering wat Donderdag by die parlement ingedien is, maak voorsiening vir die opstel van ’n formulier van medisyne wat gebruik sal word en protokolle oor wanneer watter dienste aangebied mag word. Dokters wat nié daaraan voldoen nie, mag ingevolge die wetsontwerp summier uit die NGV-stelsel geskop word en sal nie elke vyf jaar hul akkreditasie om dienste te lewer kan hernu nie.

Boonop behou die wetsontwerp die omstrede bepaling dat die NGV-fonds self besluit hoeveel geld hulle vir ’n diensverskaffer sal betaal en alle dokters moet daarby inval.

Dr. Johann Serfontein van die konsultantegroep Healthman, wat onder meer die Suid-Afrikaanse Privaatpraktisyns­forum adviseer, sê die voorskrifte oor behandeling skep ’n geweldige etiese probleem vir praktisyns wat verantwoordelik gehou word vir doeltreffende behandeling van hul pa­siënte.

“Die gevolge is voorspelbaar: die gehalte van gesondheidsorg sal daal, meer professionele gesondheidswerkers sal die land verlaat, die burokrasie sal nie die groot volume eise kan hanteer nie. "

Hoewel verskeie siekefondse tans ook voorkeurmedisynelyste en protokolle vir behandeling het, bind dit nie die dokters nie. Die lid van die siekefonds en hy of sy dokters kan steeds besluit watter medikasie hul wil gebruik en watter behandeling is gepas, ongeag of dit befonds word.

Serfontein sê die Wet op Mediese Skemas maak voorsiening vir gevalle waar lede mag afwyk van dié lyste en protokolle teen volle dekking indien die voorkeurmetode nie doeltreffend is nie.

Maar die wetsontwerp verplig die dokter om NGV-pasiënte op ’n sekere manier te behandel, of hulle daarmee saamstem of nie.

Hy sê indien ’n dokter nie saamstem met die voorgeskrewe verwysingsroete soos bepaal deur die NGV nie en die klagteprosedure moet volg, kan waardevolle tyd verlore gaan.

“Daar is sekere spesialiste wat direkte toegang vereis. ’n Retinale skeuring moet binne 48 uur deur ’n oftalmoloog herstel word. Sal so ’n pasiënt betyds behandel word?”

Hy vrees dat dokters die beroep en selfs die land sal verlaat indien hul werksomstandighede versleg en die tariewe wat hulle betaal word nie genoeg is om hul praktyke aan die gang te hou nie.

Hoewel dokters hul eie behandelingsbesluite sal kan maak vir pasiënte wat self vir hul behandeling  betaal of siekefondse het, sal al minder mense dit kan bekostig wanneer hulle in elk geval tot die NGV sal moet bydra.

Dit kan dokters met geen ander keuse laat nie as om ’n NGV-gekontrakteerde dokter te wees.

Wat toelaatbare tariewe betref, sê dr. Angelique Coetzee van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV), dit is nog te vroeg om oor die voorgeskrewe tariewe te praat, en die SAMV sal insette hieroor lewer.

Sy sê ook dis belangrik dat kliniese kenners betrokke is by die formuliere wat opgestel word sodat gehaltesorg in die private en openbare sektor verseker word.

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) en die Vryemarkstigting het reeds hul kommer uitgespreek oor die wetsontwerp se konsentrasie van mag in die hande van die regering.

Die IRV sê onder die NGV sal die staat elke aspek van gesondheidsorg beheer: watter dienste gelewer word, wat diensverskaffers betaal word, watter medikasie voorgeskryf kan word of bloedtoetse toelaatbaar is, en die prys vir alles van aspirien en teenretrovirale middels tot hegsteke en CT-skanderings sal vasgestel word.

Die Vryemarkstigting sê die regering sal regstreeks of onregstreeks die beskikbaarheid, finansiering en lewering van gesondheidsdienste beheer. Suid-Afrikaners sal nie langer enige keuses hê nie.

“Die gevolge is voorspelbaar: die gehalte van gesondheidsorg sal daal, meer professionele gesondheidswerkers sal die land verlaat, die burokrasie sal nie die groot volume eise kan hanteer nie, dit sal ’n onnodige en onhoudbare las op belastingbetalers plaas en die armste en kwesbaarste in die samelewing se gesondheid sal nie verbeter nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.