SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Gesondheid
NGV is ’n ‘ramp’ en ‘grimering op wond’

Sowat ’n kwartmiljoen Suid-Afrikaners het teen Vrydag amptelik beswaar aangeteken teen die beplande nasionale gesondheidsversekering (NGV).

Vrydag se openbare verhoor oor die NGV-wetsontwerp in Port Elizabeth. Foto: Luvuyo Mehlwana

Terwyl die parlement sê die openbare sessies wat tans onderweg is, is ’n sukses omdat ’n oorweldigende meerderheid die NGV steun, het dié wat op skrif kommentaar gelewer het hul stem dik gemaak.

Die getal kommentare blyk selfs meer te wees as oor die hoogs emosionele kwessie van onteiening sonder vergoeding. Met daardie aangeleentheid het 229 857 mense geskrewe kommentaar aan die parlement gestuur.

Net uit die inligting wat reeds beskikbaar is, kon Rapport vasstel die NGV ontlok meer reaksie:

  • Solidariteit se voorlegging was reeds in die vorm van hofdokumente en is vergesel van 30 000 handtekeninge wat beswaar aanteken. Die vakbond sê hulle sal beslis die NGV-wetsontwerp in die hof bestry indien dit in sy huidige vorm aanvaar word omdat dit ’n “ramp” sal wees.
  • Dr. Sibongiseni Dhlomo, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid, het Vrydag aan Rapport gesê hy weet van 40 000 handtekeninge van beswaar waarna Helen Zille van die DA verwys het en nog minstens 92 000 wat die party voor die spertyd sou indien.

Siviwe Gwarube, DA-woordvoerder oor gesondheid, het dié week gesê die party is gekant teen die NGV-wetsontwerp, al ondersteun hulle univer­sele gesondheidsorg ten volle.

‘Vrees oor wat met die geld gaan gebeur, is nie ongegrond nie.’

“Die NGV-wetsontwerp gaan dit nie bereik nie. Dit gaan miljarde se openbare geld in die hande van mense met politieke bande laat en niks doen om gesondheidsuitkomste te verbeter nie.”

  • Dear South Africa, ’n webwerf wat openbare deelname aan parlementêre prosesse fasiliteer, het teen die spertyd 83 296 voorleggings ontvang, wat hulle gaan indien.

Rob Hutchinson, stigter van Dear South Africa, het gister aan Johan Eybers gesê 86% (71 691) van die voorleggings is gekant teen die wetsontwerp, sowat 5% (4 109) is ten gunste daarvan, en 9% (7 497) ondersteun dit nie “ten volle” nie.

  • Dhlomo sê nog sowat 10 000 ander kommentare is by die parlement ingedien. Dié sarsie kommentare is die enigstes waaroor daar nog nie duidelikheid is oor die publiek se siening nie.

Hy het Vrydag ná sy openbare sessies in Port Elizabeth aan Rapport gesê die sessies wat tot dusver in Mpumalanga, Limpopo, die Noord-Kaap en KwaZulu-Natal gehou is, wys dat Suid-Afrikaners nie ten volle verstaan wat die NGV-wetsontwerp behels nie.

“Ja, hulle steun die NGV, maar sekere goed moet nou reggestel word en kan nie wag tot die volle implementering teen 2026 nie.

“Suid-Afrikaners se vrees oor wat met die geld gaan gebeur, is nie ongegrond nie omdat hulle gesien het wat elders gebeur.”

Deelnemers wil weet wat die NGV gaan kos en watter behandelings hulle sal kan kry.

Minder as 200 mense het Vrydag in New Brighton, Port Elizabeth, opgedaag vir die eerste van vier Oos-Kaapse sessies. Die komiteelede was gister in Queenstown, vandag in Mthatha en sal môre na verwagting in King William’s Town wees.

Suid-Afrikaners het in die sessies hoofsaaklik hul frustrasies en moedeloosheid verwoord. Verskeie het gekla oor die gebrek aan ambulanse, medikasie en ervare personeel om te help, dat mense doodgaan omdat klinieke nie 24 uur oop is nie en hulle te ver van hospitale is en hoe bejaardes dikwels heeldag onverrigter sake by klinieke sit en wag.

’n Verpleegkundige het aan die komitee gesê gesondheidswerkers kan nie hul werk behoorlik doen nie en boonop is dit nie veilig by hul werkplekke nie. “Julle wil die wet instel, maar daar is steeds geen antwoord oor waarom my wyk en baie ander nie eens klinieke het nie. Wat doen die regering daaraan? Wat doen ons om te keer dat ons verpleegsters die land verlaat? Begin met die basiese dinge, anders is dit soos om grimering op ’n wond te sit.”

Dié bekommernisse sluit aan by die siening van prof. Alex van den Heever, gesondheidsekonoom van Wits, wat Dinsdag by ’n mediakonferensie van Solidariteit gesê het die regering is al 11 jaar besig met die projek, maar daar is geen lewensvatbaarheidstudie, bewyse of verslag om te verduidelik wat die oorsaak van swakhede in die gesondheidstelsel is of hoe dit in verband gebring word met die voorgestelde veranderinge nie.

Hy het in sy persoonlike hoedanigheid besware ingedien.

Ander rolspelers is na verwagting baie meer diplomaties in hul voorstelle. Die siekefondsadministrateur Discovery Health het hul standpunt die afgelope week geformuleer waarin hy erg krities was oor die NGV-wetsontwerp, maar nooit sê dis ’n ramp in wording nie.

Discovery is wel uitgesproke oor die rol van siekefondse onder die NGV en dat burgers die keuse moet kan hê om steeds lede te wees van private fondse.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.