Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘NGV kan medici verdryf’
Lees ook die berig in Sake-Rapport.

Vrese bestaan dat dokters en spesialiste die mediese bedryf of die land in groot getalle kan verlaat weens sekere voorstelle in die finale witskrif oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wat Donderdag bekend gemaak is.

Luidens die witskrif behoort maksimum tariewe vir diensverskaffers vasgestel te word.

Die praktyk om bybetalings te vra wanneer dokters se tariewe hoër is as ’n voorgeskrewe tarief, moet ook verbied word, luidens die dokument.

Dokters wat verkies om nie deel van die NGV-netwerk te wees nie, sal ook nie hoër tariewe mag vra nie.

Stokou syfers

Die koste van R256 miljard teen 2025 is in 2010-terme en gegrond op ekonomiese groei van 3,5% per jaar, terwyl Suid-Afrika se ekonomie verlede jaar met net 0,3% gegroei het en groei van 0,7% vir vanjaar voorspel word.

Die witskrif flankeer weer met die konsep dat dokters eerder ’n vaste bedrag per pasiënt in die omgewing moet vra as vir elke diens gelewer. Luidens die witskrif moet die NGV-protokolle ook verhoed dat pasiënte direk gespesialiseerde dienste bekom. Hulle moet eers na ’n primêre gesondheidsverskaffer gaan.

Die witskrif sê die NGV sal die koste van gesondheidsorg verminder, maar steeds ’n goeie inkomste vir mediese beroepslui en gesondheidsinstellings in die private sektor verseker.

“Die tarief waarvolgens die NGV-fonds diensverskaffers sal betaal, sal hoër wees as die huidige koste van openbare gesondheidsorgdienste, maar laer as die meeste tariewe in die private sektor.”

Die witskrif sê die NGV-fonds se betalingsmetode sal gesondheidsorgdiensverskaffers aanmoedig om doeltreffend te werk en doeltreffende sorg te gee.

Die NGV-stelsel sal ook dokters “in die regte rigting stoot” wanneer hulle besluit wat gepaste behandelingsprotokolle vir pasiënte is.

Graham Anderson, uitvoerende hoof van die mediese skema Profmed, sê die voorgestelde vasstelling van dokters se tariewe sal nie goed ontvang word deur mediese beroepslui nie en kan tot ’n uittog lei.

Dit sal egter afhang van hoe die voorstelle ingestel word en in watter mate dit toegepas word.

AfriSake sê in sy reaksie hy het in Mei verlede jaar reeds in kommentaar op die NGV-model wat tóé voorgestel is, kommer uitgespreek oor “die gebrek aan ekonomiese impakstudies en die blatante minagting van die gevolge van die voorgestelde belastingmengsel wat die NGV moet finansier”.

Volgens Armand Greyling, regs- en beleidsontleder by AfriSake, lyk dit of die departement en dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, ’n model nastreef wat groot administratiewe en burokratiese uitdagings gaan stel.

“Sou dit in werking gestel word, loop ons gevaar om mediese praktisyns te verloor weens verhoogde werklas, verwagte betalingskwessies en ’n algehele ontevredenheid met die prestasie van die NGV,” sê hy.

“Dit lyk eenvoudig of die regering poog om gesondheidsorg in Suid-Afrika te nasionaliseer deur die onderskeid tussen die private en openbare sektor uit te wis.”

AfriSake is bekommerd oor die klein formele belastingbetalende werkmag van wie daar verwag word om ’n groot deel van die bevolking finansieel te dra.

“Die vraag is nie of die NGV gaan misluk nie; dis eerder hoe erg dit gaan misluk en wat die impak van dié mislukking op gesondheidsorg en die land in die geheel gaan hê,” sê Greyling.

Anderson sê Motsoaledi het benadruk dat herstrukturering in die private en openbare gesondheidsorgstelsels nodig is om ’n werkbare NGV te hê.

Hy sê ’n positiewe voorstel in die witskrif is die plan om die land se agt opleidingshospitale onder beheer van die nasionale departement in plaas van provinsiale owerhede te plaas en só weer dokters na die hospitale te lok.

Dr. Morgan Chetty, uitvoerende hoof van die KZN Doctors ­Healthcare Coalition, sê hoewel die stelsel positief is vir Suid-Afrika, lyk dit ambisieus in die huidige ekonomiese klimaat.

Die koste van R256 miljard teen 2025 is in 2010-terme en gegrond op ekonomiese groei van 3,5% per jaar, terwyl Suid-Afrika se ekonomie verlede jaar met net 0,3% gegroei het en groei van 0,7% vir vanjaar voorspel word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.