SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Gesondheid
NGV ‘nie die towerstaf waarop ANC hoop’

Die ANC maak ’n reuse-fout as hy dink die beplande Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) sal die towerstaf sal wees wat alle probleme in die gesondheidsektor uit die weg ruim.

Só het Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder oor gesondheid, Dinsdagmiddag gesê toe die Nasionale Vergadering (NV) die begrotingsverslag van die departement van gesondheid oorweeg het.

Hoewel die verslag deur die meeste opposisiepartye teengestaan is, het die ANC sy meerderheid in die NV gebruik om dit te laat aanvaar.

Van Staden het in sy spreekbeurt onder meer gesê dit is veral ontstellend dat die departement van gesondheid ondanks die nimmereindigende “nagmerrie”-ervaring van pasiënte in veral staatshospitale steeds sy begroting met sowat R1 miljard te min bestee het.

“Wat by staatshospitale in Suid-Afrika gebeur, is ’n absolute skande en as die regering onder die indruk verkeer dat die NGV al die probleme gaan oplos, moet hy weer hard daaroor nadink,” het hy gesê.

Naledi Chirwa, EFF-LP, het gesê die regering het die mees kwesbare Suid-Afrikaners gefaal en weier steeds om te erken dat hy verantwoordelik is vir die totale ineenstorting van die openbare gesondheidstelsel in die land.

Wat by staatshospitale in Suid-Afrika gebeur, is ’n absolute skande en as die regering onder die indruk verkeer dat die NGV al die probleme gaan oplos, moet hy weer hard daaroor nadink.

“Die beplande NGV-verwysingstelsel is ook baie onrealisties vir diegene wat in afgeleë landelike gebiede woon. Armes sal letterlik sterf terwyl hulle wag vir verwysingsbriewe. Ons herhaal dat die departement se fokus moet skuif na voorkoming, primêre gesondheidsorg en gesondheidsopvoeding,” het sy gesê.

Magdalena Hlengwa, IVP-LP, het gesê die land se openbare gesondheidsorg is reeds die afgelope dekade al ’n “uiterse bron van kommer”.

“Die waarheid is dat dit erger geword het. Ons benodig onmiddellik hervorming en aanspreeklikheid en moet eers alle geïnstitusionaliseerde korrupsie uitroei voordat ons die NVG kan begin.”

Marie Sukers, ACDP-LP, het gesê die daaglikse probleme wat siek Suid-Afrikaners by veral staatshospitale ondervind, gaan nie deur die NGV opgelos word nie.

“Ons land sal deur ’n groot transformasie gaan met die NGV, maar die basiese infrastruktuur moet tog eers herstel word voordat ons die groot projek begin. Menslike hulpbronne en die behoud van spesialiste is die basiese bousteen van ’n stelsel.”

Ons land sal deur ’n groot transformasie gaan met die NGV, maar die basiese infrastruktuur moet tog eers herstel word voordat ons die groot projek begin.

Tshilidzi Munyai, ANC-LP, het gesê anders as diegene wat gehuur word deur die private sektor om met propaganda die NGV te ondermyn, ondersteun die ANC die begrotingsverslag.

“Gesondheid bly ’n prioriteit vir die ANC-regering en ons het in daardie konteks met een van die mees progressiewe beleidskuiwe sedert 1994 in die vorm van die NGV vorendag gekom. Die NGV-wetsontwerp is tans oop vir openbare kommentaar.”

Munyai het gesê die NGV sal die huidige openbare en private gesondheidstelsel herorganiseer om strukturele probleme in albei oplos. “Dit reflekteer die soort samelewing waarin ons wil bly wat gegrond is op geregtigheid, maatskaplike regverdigheid en solidariteit.

“Die implementering van die NGV is in ooreenstemming met die globale visie dat gesondheidsorg ’n maatskaplike belegging moet wees en nie die kommodifisering van basiese dienste nie,” het hy gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.