Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
NGV: ‘Private sorg bly, maar almal moet gehaltesorg kry’
Madoda Sambatha (links), LUR vir gesondheid in Noordwes, en Koert Pretorius, bestuurshoof van Mediclinic Suid-Afrika, Dinsdagaand met die onthulling van die plaat tydens die amptelike opening van die vergrote, opgeknapte Mediclinic Potchefstroom. Foto: Susan Cilliers
Jaco van der Merwe, bestuurder van die Mediclinic Potchefstroom se noodeenheid, in die nuwe kindersaal met sy vrolik geverfde mure.Foto: Susan Cilliers
Koert Pretorius, bestuurshoof van Mediclinic Suid-Afrika, Dinsdagaand tydens die opening van die vergrote, opgeknapte Mediclinic Potchefstroom.Foto: Susan Cilliers
Madoda Sambatha, LUR vir gesondheid in Noordwes, Dinsdagaand tydens die amptelike opening van die vergrote, opgeknapte Mediclinic Potchefstroom.Foto: Susan Cilliers
Rayno Crouse, hoofbestuurder van die Mediclinic Potchefstroom, Dinsdagaand tydens die amptelike opening van die vergrote, opgeknapte hospitaal.Foto: Susan Cilliers
Die Mediclinic Potchefstroom se vooraansig voor sy opknapping. Foto: Verskaf
Die Mediclinic Potchefstroom se vooraansig ná die opknapping. Foto: Verskaf

Die bedoeling met die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is nié om weg te doen met private gesondheidsorg nie, maar om toegang tot gehaltesorg te reguleer.

So het Madoda Sambatha, LUR vir gesondheid in Noordwes, Dinsdagaand gesê met die amptelike opening van die vergrote, opgeknapte Mediclinic Potchefstroom.

Dié private hospitaal is een van net ’n paar in groter stede in Noordwes wat mense vanoor die hele provinsie bedien. Dit is in 1989 geopen met 60 beddens, twee teaters en 98 personeellede. Sedert dit in 1995 deel van die Mediclinic-groep geword het, het dit ’n paar kleiner opknappings ondergaan. Die jongste opknappingsprojek het vier jaar geduur en R235 miljoen gekos. Die hospitaal het nou 197 beddens, ses teaters en 250 personeellede.

Die Mediclinic Potchefstroom se nuwe neonatale eenheid met ses beddens is die enigste in sy soort in die stad. Die hospitaal is ook die enigste private instelling in Potchefstroom met ’n 24-uur-noodeenheid.

Sambatha het gesê die regering is verheug oor dié verbeterings omdat dit bydra tot ’n gesonder nasie en arbeidsmag in Suid-Afrika.

“Mediclinic is een van die mees progressiewe hospitaalgroepe in die land. Ryk én arm mense word siek. Die private en die openbare gesondheidsektor moet praat oor hoe gesondheidsorg verskaf kan word op die grondslag van wat mense makeer en wat hulle nodig het, pleks van hul maatskaplik-ekonomiese omstandighede en wat hulle het. Die twee sektore moet saamwerk.”

Sambatha het beklemtoon dat die ANC nié gekant is teen private entiteite nie. “Ons glo in ’n gemengde ekonomie van vennootskappe tussen die private en die openbare sektor. Die private sektor behoort ook daartoe verbind te wees om goeie, universele gesondheidsdekking aan almal te verskaf.”

Koert Pretorius, bestuurshoof van Mediclinic Suid-Afrika, het gesê die Mediclinic Potchefstroom is onder die tien top-hospitale in dié groep wat kliëntetevredenheid betref. Die hospitaal se kliniese prestasies is bogemiddeld.

Volgens Pretorius is van die uitdagings wat die private gesondheidsektor in Suid-Afrika vandag in die gesig staar politieke onsekerheid, die bekostigbaarheid van gesondheidsorg en mense in die gesondheidsprofessie wat die land verlaat.

“Daar is baie geleenthede om saam met die openbare sektor te werk en ons wil deel daarvan wees. Ons ondersteun in beginsel toegang tot universele gesondheidsorg, maar die openbare sektor kan nie aan al hierdie behoeftes voldoen nie.”

Pretorius het gesê daar is nog baie onsekerhede oor die NGV. “Ons weet nog nie presies wat al die regulasies gaan wees en hoe die toekoms van private sorg sal lyk nie. Ons neem egter aktief deel aan die prosesse, onderhandel en win regsadvies in oor die NGV-plan. Daar is veral grondwetlike kwessies wat moet aandag kry. Ons glo ons sal die moontlike bedreigings met redelike sukses kan bestuur.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.