Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Nie genoeg mense betaal belasting vir die plan'

Die jongste beleidstuk oor die regering se nasionale gesondheidsplan is net weer ’n herhaling van vorige publikasies en nie een van die belangrike vraagstukke is beantwoord nie.

Dr. Johann Serfontein, ’n senior gesondheidsorgkonsultant, en Jasson Urbach, ’n direkteur van die Vryemarkstigting (VMS) en hoof van die stigting se eenheid vir gesondheidsbeleid, het Woensdag in Johannesburg gesê die nuwe beleidstuk werp geen lig op die belangrike kwessies van die plan nie. Dit is in Junie gepubliseer.

Gegewe die tydsberekening van die beleidstuk en die gebrek aan besonderhede, kan ’n mens aanneem die dokument se vrystelling is polities gemotiveerd.
Jasson Urbach, ’n direkteur van die Vryemarkstigting

Die vraagstukke soos wat die nuwe skema gaan kos en waar die geld vandaan moet kom om dit te finansier, bly onbeantwoord, sê Serfontein.

Intussen is daar die gevaar dat daar te min belastingbetalers gaan wees om die staat se maatskaplike verpligtinge na te kom. Die regering se skema is op ’n sentraal beheerde enkelbetalermodel gegrond.

Die skema sal boonop die getal gesondheidsdienste verminder wat beteken daar sal minder gesondheidswerkers wees en pasiënte sal langer moet wag op mediese prosedures.

Gesondheidsbesluite van Suid-Afrikaners sal ook van die wieg tot die graf deur die staat beheer word, sê Serfontein. Die gesondheidsplan sal ten volle in die staat se beheer wees en daar sal geen ruimte vir die private sektor wees nie. Die regering sal direk of indirek die beskikbaarheid, lewering en finansiering van gesondheidsorg vir almal beheer.

“Gegewe die tydsberekening van die beleidstuk en die gebrek aan besonderhede, kan ’n mens aanneem die beleidsdokument se vrystelling is polities gemotiveerd,” sê Urbach.

Die koste, finansiering en aanstelling van bykomende personeel word nie in die dokument bespreek nie.

Urbach sê al wat duidelik is uit die beleidsdokument is dat die armste en weerloosste mense in die land nie beter gesondheidsorg sal ontvang nie.

Luidens die dokument sal ’n fonds gestig moet word en geld sal deur algemene belasting en ook ’n verpligte belastingaftrekking gegenereer word.

Die Davis-belastingkomitee het voorheen bevestig dat die verhouding van belasting tot die bruto binnelandse produk skerp sal moet toeneem om die gesondheidsplan te finansier.

Weens lae vlakke van indiensneming het die land reeds ’n baie klein belastingbetalersbasis, sê Urbach.

Net 3,5 miljoen mense dra 99% van die land se belastinglas. Die land het bloot nie genoeg belastingbetalers om die nasionale gesondheidsplan te finansier nie.

Eintlik kom dit daarop neer die geld wat belastingbetalers tans op hul eie gesondheidsorg bestee, nou versprei sal moet word om vir die hele bevolking se gesondheidsorg te betaal. Dit is ongrondwetlik.

Serfontein sê ook die minister en die departmente gebruik onwaarhede om die gesondheidsplan te regverdig.

So word daar byvoorbeeld gesê 80% van spesialiste werk tot voordeel van net 20% van die bevolking in die private sektor. Navorsing het gewys dat daar op die meeste 66% van spesialiste in die private sektor is.

Verder sê die department die private sektor rokkel dokters by die staat af. Serfontein sê tussen 2002 en 2010 het 11 700 mediese studente gegradueer. In hierdie tydperk het die staat ’n skrale 4 403 poste vir medici geskep.

Die gesondheidsplan het ook talle ander tekortkominge. Dit sal die grootste staatsbeheerde entiteit in Suid-Afrika wees en die gevaar is groot dat dit net so ’n mislukte korrupte instansie soos onder meer Sassa, Eskom, PetroSA, die SAL en die SAUK sal word, sê Serfontein.

Meer oor:  Vryemarkstigting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.