Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
NMB se paramedici ‘steier onder Covid-19’

Die Nelson Mandelabaai-metro se paramedici steier onder die druk van die Covid-19-pandemie en die skrikwekkende aantal persone wat daagliks positief toets vir die koronavirus.

Daar is net twee ambulanse in die metro wat mense wat die virus opgedoen het na staatshospitale en na isolasie fasiliteite kan vervoer. Die een is in Port Elizabeth en die ander een in Uitenhage.

Buiten die twee ambulanse het die metro met meer as ’n miljoen inwoners net 12 operasionele voertuie beskikbaar.

Die provinsiale gesondheidsdepartement het bevestig daar is net twee ambulanse, maar het ook gesê dit gaan aangevul word met ’n addisionele twee voertuie.

Die vervoerprobleem word vererger omdat 19 nooddienspersoneellede reeds positief getoets is vir die virus en nie kan werk nie.

Nelson Mandelabaai word as een van die brandpunte vir die virus in die Oos-Kaap beskou.

In die provinsie is sowat 12 493 positiewe gevalle in dié metro.

Teen Vrydag is 136 persone in die metro aan Covid-19 dood.

’n Paramedikus wat uit vrees dat hy sy werk kan verloor anoniem wil bly, sê met die dat 19 van sy kollegas weens die virus nie kan werk nie, steier diegene wat negatief is onder die werklas.

Volgens die werker beteken sy kollegas se afwesigheid hulle is al meer as ’n week net vyf werkers in die kontrolekamer en vier op die pad.

“Ons doen ons beste onder uiters moeilike omstandighede en ons besef die kollegas wat af siek is gaan deur ’n rowwe tyd.

“Hopelik is van ons kollegas volgende week weer terug op hul pos, wanneer hul isolasietydperk verstryk.”

Nog ’n nooddienswerker sê hulle sukkel al vir jare met die tekort aan ambulanse en dat die Covid-19-pandemie dit net weer in die kollig sit.

“Die een voertuig vervoer elke dag, die heeldag net pasiënte na plekke vir isolasie.”

Almal van ons ken nou iemand wat positief getoets is, of wat gesterf het. Dit is nie meer ’n virus wat ver van ons af is nie. Covid-19 is ’n werklikheid,

Tshonono Buyeye, die metro se waarnemende burgemeester, het opnuut sy kommer uitgespreek oor die stygende infeksies, en veral in die grootste informele nedersettings.

Motherwell is die voorloper met 1 305 gevalle, gevolg deur KwaZakhele met 674 en KwaNobuhle met 704. Uitenhage het 706 positiewe gevalle.

Buyeye het gewaarsku dat die stygende infeksiekoers in KwaZakhele en KwaNobuhle die metro se gesondheidsorg in duie kan laat stort, indien inwoners in dié buurte nie dringend hul gedrag verander nie.

Die inwoners is gemaan om sosiale distansiëring te handhaaf en om nie enige sosiale byeenkomste by te woon nie.

“Almal van ons ken nou iemand wat positief getoets is, of wat gesterf het. Dit is nie meer ’n virus wat ver van ons af is nie. Covid-19 is ’n werklikheid,” sê Buyeye.

Shane Brown, hoof van die metro se Covid-19 rampbestuurspan, sê hoewel vier gebiede nou die grootste brandpunte is, gaan hulle nie die ander gebiede uit die oog verloor nie.

“Ons het reeds gesien hoe enige gebied vinnig in ’n brandpunt kan ontwikkel, want die virus versprei baie vinnig.

“Die gevaar is dat sommige pasiënte wat eintlik positief is geen simptome toon nie en hulle steek dan ander aan. Daar is ook diegene wat nie in selfkwarantyn bly nadat hulle getoets is nie.”

Brown is bekommerd oor mense wat mekaar aansteek op sosiale byeenkomste wat taboe is.

Volgens Brown is ’n pluspunt dat inwoners van Motherwell gehoor begin gee aan al die veiligheid- en voorkomingsmaatreëls.

“Ons wil hê almal moet ag slaan op die veiligheidsmaatreëls en verantwoordelikheid neem vir hul eie veiligheid en die van hul geliefdes,” sê Brown.

Alle toetse vir die virus is Vrydag deur die openbare sektor in die metro opgeskort, want die regering se mediese laboratoriums kon nie meer die mas opkom nie.

Hoewel private laboratoriums in die metro wel voortgaan met toetse, het 25 toetssentrums in die metro gesluit.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19  |  Paramedici
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.