Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Nog te vroeg’ om te sê oor dag 1 van fase 2

“Dit is nog te vroeg en daar is nog te min mense om te sê of dit ’n sukses was.”

Dít was die kommentaar van dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, Maandag op die eerste dag van fase 2 van die regering se inentingsprogram, waarin die regering 16,5 miljoen mense wil inent.

Volgens dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sal mense ouer as 60 en gesondheidswerkers vandeesweek gelyklopend by die land se inentingsgeriewe ingeënt word.

“Gesondheidswerkers sal nie agterweë bly nie. Dit is so dat ons nie genoeg entstof gehad het nie, maar ons nooi hulle nou uit om hulle te registreer en te laat inent,” het Mkhize Maandag by die Munsieville-sentrum vir bejaardes in Krugersdorp gesê.

Dit is nog te vroeg en daar is nog te min mense om te sê of dit ’n sukses was.
pfizer-entstof
'n Flessie met die Pfizer-entstof wat Maandag in 'n hospitaal in Kaapstad toegedien is. Foto: Jaco Marais

Mkhize en David Makhura, premier van Gauteng, het die sentrum – een van 86 in die land – geopen. Mkhize sê hulle hoop om die sentrums teen die einde van die week tot 200 uit te brei.

Coetzee sê 4 288 mense het Sondagaand hul SMS ontvang dat hulle hulle kan laat inent, “maar dit beteken dat slegs 50 per sentrum ingeënt is. Dit was amper onmoontlik om ’n fout te maak.”

Prof. Jeffrey Mphahlele, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, sê hulle verwag dat alles teen die einde van die week seepglad sal verloop.

Hy en prof. Susan Goldstein, ’n kenner in openbare gesondheid aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), sê dit is wel ’n bekommernis dat alle gesondheidswerkers nog nie ingeënt is nie.

“Ons het te lank gewag voordat ons begin het. Selfs in vergelyking met ander Afrikalande is ons ver agter,” sê Goldstein.

Volgens Mkhize sal daar wel al hoe meer entstowwe beskikbaar wees. Teen einde Junie sal Suid-Afrika nie minder nie as 2 miljoen dosisse van Johnson & Johnson ontvang en binnekort 4,6 miljoen van Pfizer.

Hy sê die land sal van Julie tot Oktober 19 miljoen dosisse ontvang.

inenting, covid-19
Die Covid-19-entstof word Maandag by 'n hospitaal in Kaapstad toegedien. Foto: Jaco Marais
Ons het te lank gewag voordat ons begin het. Selfs in vergelyking met ander Afrikalande is ons ver agter.

Volgens hom toon nuwe studies uit Brittanje dat ’n mens se immuniteit verbeter as jy eers ná drie maande die tweede dosis van die (dubbeldosis)-entstof kry.

Mkhize sê dit lyk belowend omdat talle Suid-Afrikaners dan vinniger hul eerste inenting sal ontvang.

Dr. Irvin Khoza, voorsitter van die Premiersokkerliga, en regter Caroline Nicholls, ’n appèlregter, was onder diegene wat hul inentings in Munsieville ontvang het.

“As jy veilig wil wees, moet jy die reëls gehoorsaam. As die land wil terugkeer na normaal, moet ons ingeënt word. Daar is geen ander opsie vir enigeen as om ingeënt te word nie,” sê Khoza.

Nicholls sê sy is een van die “mees bevoorregte mense in die land” omdat sy op die eerste dag van fase 2 ingeënt is. Nie sy of Khoza het enige newe-effekte ervaar nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.