Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Noodfonds gestig vir baie siek atleet

In April het Buks van Heerden nog sy eie “Twee Oseane-wedloop” op sy erf in Meyerton in Gauteng afgelê, maar die afgelope Maandag het dié langasem nie genoeg suurstof in sy siek longe gehad om uit sy eie bakkie te klim nie.

Die langasematleet Buks van Heerden is in die hospitaal met Covid-19 en longontsteking. Sy vrou, Carolien, het ’n veldtog begin om geld in te samel vir die astronomiese rekeninge. Foto: Facebook

Dis nie net Covid-19 wat Buks (49) – ’n langafstandatleet wat geld vir liefdadigheidsorganisasies insamel en by bewusmakingsveldtogte betrokke is – gepootjie het nie. Omdat die Van Heerdens nie ’n mediese fonds het nie, het sy vrou, Carolien, ’n aanlyn geldinsamelingsveldtog begin om te verseker hy kan in ’n private hospitaal behandel word.

Van Heerden het verlede Vrydag baie siek geraak, met ’n koors van 40 °C. “Hy het ook kouekoors gehad en die dokter het vermoed hy is positief,” het Carolien gesê.

Longontsteking is ook by hom gediagnoseer. Toe sy Covid-19-toetsuitslag verlede Saterdag positief terugkom, het hy reeds beter gevoel as die vorige dag.

Maar toe Carolien hom die afgelope Maandag vir ’n opvolgdoktersbesoek neem, was hy so swak dat hy nie uit die bakkie kon klim nie. “Hulle het vir hom in die bakkie kom suurstof gee.”

Ons kan nie ’n mediese fonds bekostig nie.

Daardie nag het Buks se suurstoftelling tot 78 geval. ’n Normale telling is tussen 95 en 100.

Van Heerden wou nie in die hospitaal opgeneem word nie, maar Carolien het geweet dit kan nie anders nie. Sy het hom na die Midvaal Private Hospitaal geneem. “Toe hulle hoor hy het longontsteking, moes ons R500 000 neersit. Ek het gesê ek het dit nie. Ek kon nie glo dit is soveel nie.”

Vriende het hulle gehelp om geld bymekaar te maak en hulle kon R31 000 betaal vir vyf dae.

’n Vennoot het voorgestel sy begin ’n Back-a-Buddy-veldtog. Teen Saterdag is R64 441,85 al geskenk.

Carolien was die afgelope week emosioneel toe Rapport haar nader. “Mense dink hy kry baie borgskappe, maar hy kry net sy klubledegeld en ’n paar tekkies. Ons het nie ’n mediese fonds nie. Ons kan dit nie bekostig nie.”

Van Heerden is intussen met ’n ambulans na die Mediclinic in Vereeniging geneem. “Daar lê iemand in Midvaal wie se rekening ná ’n week al R300 000 is. Dis hoekom ons hom van daar af na die Mediclinic geskuif het.”

Die Van Heerdens is vanaf Maart saam met drie ander vennote in ’n onderneming, maar Carolien sê dit gaan “baie, baie swaar”.

Nelius du Preez, byeenkomskoördineerder vir PinkDrive, wat bewustheid oor borskanker skep, sê Van Heerden is een van hul handelsmerkambassadeurs en hy het nog vier weke gelede aan ’n wedloop deelgeneem. “Buks is baie geliefd onder hardlopers.”

André Joubert, bestuurder van Midvaal Private Hospitaal, sê die deposito’s is ’n “ontsettend moeilike ding”.

“Iemand met Covid-19 kom in en makeer niks, maar enigiets kan daarna volg. ’n Mens moet faktore in ag neem soos suikervlakke en of iemand oorgewig is. Die siekte is ongelukkig baie moeilik om te bestuur. Vir party mense gee ons ’n groot terugbetaling, en party moet inbetaal.”

Joubert sê R500 000 is ekstreem, maar sommige mense word opgeneem met ’n hoes en lê uiteindelik 21 dae lank aan ’n ventilator gekoppel. “Dan is dit baie.”

Hy sê persoonlike beskermende toerusting (PPE) kos R270 per pak en word net een keer in die geïsoleerde Covid-19-sale gebruik.

“Die R500 000 is deur en deur vir enige gebeurlikhede.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.