Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Nooit dink jy dit sal 2 keer met jou gebeur’
Pieter en Marietjie Botes het ’n gedenkhoekie in hul huis vir hul engelkinders ingerig sodat Johan en Mika altyd naby hulle sal wees. Foto: Mlungisi Louw

“Ek voel soos ’n moordenaar wat vir die res van my lewe daarmee moet saamleef.”

So sê Pieter Botes, ’n Bloemfonteinse sakeman, wat saam met sy vrou die moeilike besluit moes neem om die masjiene wat hul dogter, Mika (7), aan die lewe gehou het te laat afskakel nadat sy ’n virale breininfeksie opgedoen het en in ’n koma was.

“Daar is niks meer nie, geen long- of hartfunksie nie en jy besef jy kan haar nie op ’n ventilator aan die lewe hou nie. Maar dit is swaar, geen woorde in die wêreld kan dit beter maak nie.”

Mika, wat ’n gr. 1-leerling aan die Dr. C.F. Visser Primêre Skool was, is Maandagoggend in die Life Rosepark-hospitaal in die stad dood verklaar.

Jy kom nooit oor die dood van jou kind nie. Nooit.

Sy het verlede Maandag ’n ligte hoofpyn gehad, waarna hulle dokter toe is en sy is die Dinsdagaand ná ’n epileptiese toeval in die hospitaal opgeneem. ’n Virale breininfeksie is daarna by haar gediagnoseer.

Mika is die Botes-egpaar se tweede kind wat hulle tragies aan die dood moes afstaan. Hul vier maande oue seuntjie, Johan, het sowat 11 jaar gelede in ’n dagsorgsentrum in die stad versmoor.

“Nooit dink jy dat dit twee keer met jou sal gebeur nie. Dit is onmoontlik, maar dan gebeur dit weer, die onmoontlike,” sê ’n hartseer Marietjie terwyl sy voor haar staar.

Johan en Mika Botes het vir altyd ’n plek in hul ouerhuis. Foto: Mlungisi Louw
Ek voel soos ’n moordenaar wat vir die res van my lewe daarmee moet saamleef.

Hulle het nie gedink dat Mika, wat versot was daarop om TikTok-video’s te maak, nie weer saam met hulle huis toe sou gaan toe hulle verlede Dinsdag met haar hospitaal toe jaag nie.

“Mika was ’n gesonde kind wat nou en dan ’n loopneus gekry het. Sy het nie eens ’n kindersiekte gehad nie en in haar kort lewe slegs twee keer antibiotika gebruik. Selfs Maandag toe ons haar vir skool aflaai, het sy niks makeer nie.

Mika Botes
Mika Botes

“Toe die skool Maandag omstreeks 13:45 bel omdat sy olik voel, het ons dadelik gegaan. Sy was nie ’n kind wat gekla het nie. Selfs toe het sy speel-speel en huppel-huppel na die motor aangekom.”

Ná skool het sy geslaap en later die Maandagaand begin braak en kon niks inhou nie. Dinsdag het hulle die dokter gaan spreek en later die dag moes hulle hospitaal toe jaag nadat sy ’n epileptiese toeval gehad het.

Sowat vyf van dié toevalle het daagliks gevolg. Sy het in ’n koma verval en nie weer haar bewussyn herwin nie.

Marietjie sê sy kry haarself nie sover om terug te gaan werk toe nie.

Sy was elke liewe dag saam met ons, sê Pieter.

“Jy kom nooit oor die dood van jou kind nie. Nooit.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.