Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Nooit weer,’ sê premier oor NK se peperduur hospitaal

“ ’n Monument van grootskaalse korrupsie.”

Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, open Maandag amptelik die nuwe Psigiatriese Hospitaal in Kimberley. Foto: Helena Barnard

Dit is hoe dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, Maandag verwys het na die nuwe Psigiatriese Hospitaal in Kimberley wat Maandag uiteindelik amptelik sy deure geopen het.

Konstruksie aan dié hospitaal het bykans 13 jaar gelede begin. Dit het ’n aanvanklike begroting van R290 miljoen gehad en sou binne drie jaar voltooi gewees het. Maar uiteindelik is bykans R2 miljard glo aan dié ultramoderne hospitaal bestee.

“Dit was nie ’n maklike pad tot hier nie. En só iets gaan nooit weer in die Noord-Kaap gebeur nie,” het Saul met die opening gesê.

Hy sê die hospitaal het sewe provinsiale LUR’e vir gesondheid en talle premiers oorleef.

Die eerste pasiënte is eers onlangs van die Weseinde- psigiatriese hospitaal na die nuwe hospitaal verskuif. Weens ’n sluier van geheimhouding oor die projek was daar twyfel of die hospitaal wel voor die einde van die jaar sou open.

Gespesialiseerde geestesgesondheidsdienste sal by die hospitaal, wat 287 pasiënte kan hanteer, gelewer word.

Geestesgesondheidsdienste vir kinders en adolessente kan hier aangebied word, asook forensiese dienste en algemene volwasse psigiatriese dienste. ’n Buitepasiëntafdeling sal ook mettertyd beskikbaar wees.

70 voltydse veiligheidsbeamptes is hier aangestel. Saul sê verdere aanstellings in die kliniese velde sal teen November gedoen word.

Die Psigiatriese Hospitaal by Kimberley is ’n ultramoderne hospitaal wat 287 pasiënte kan huisves. Foto: Helena Barnard

Hy sê dit is belangrik dat alle kritieke mediese poste – by dié hospitaal en in die hele Noord-Kaap – gevul word.

Daar word ook ’n verpleegsterstehuis en -kollege, en ’n kollege vir die opleiding van nood- mediese personeel, by die Psigiatriese Hospitaal beplan.

“Dit is alles massiewe projekte wat tot die bruto binnelandse produk sal bydra,” sê Saul.

Volgens hom is dit noodsaaklik dat die stigma wat aan geestesgesondheidsprobleme kleef, nek omgedraai word.

Saul het onder groot gelag sy toespraak in Afrikaans begin en gesê as jy van die Noord-Kaap kom, kén jy Afrikaans. Hy het verder in Afrikaans uitgebrei oor die verskillende soorte Afrikaans, soos Nama-Afrikaans, Kalahari-Afrikaans en Karoo-Afrikaans.

Meer oor:  Premier  |  Dr. Zamani Saul  |  Noord-Kaap  |  Kimberley
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.