Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Noordwes maak Covid-19-planne bekend

Altesaam 40 beddens staan gereed in die Klerksdorp/Tshepong-hospitaalkompleks waar mense in Noordwes wat positief vir die Covid-19 getoets het, in kwarantyn behandel kan word.

Hoewel dié hospitaal die provinsie se amptelike behandeling- en kwarantyn-eenheid is, het alle distrik- en streekshospitale in Noordwes ook eenhede waar vermoedelike Covid-19-gevalle in afsondering behandel kan word, het prof. Job Mokgoro, Noordwes se premier, Woensdag gesê. Hy het op ’n mediakonferensie in Mmabatho die provinsie se gebeurlikheidsplanne vir Covid-19 bekend gemaak.

Nog geen bevestigde gevalle is in Noordwes aangemeld nie, maar Mokgoro het beklemtoon dat Noordwes gerat moet wees in die lig van die vinnige verspreiding van die virussiekte, asook pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging van ’n ramptoestand.

Alle hospitale in die provinsie, asook grensposte, sal mense skandeer (vir moontlike simptome van die virus) wanneer hulle die hospitale of landsgrense binnekom. Verskerpte maatreëls sal geld by vier van die nege grensposte met Botswana in die provinsie, wat nog oop is. Die ander vyf grensposte in Noordwes is gesluit om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Mokgoro het gesê die sluiting van die vyf grensposte verhoog die werkvermoë by die oorblywende grensposte. Sewe bykomende omgewingsgesondheidsamptenare is by die oop grensposte ontplooi, naas die vyf wat die nasionale regering verskaf het.

’n Provinsiale rampbestuurbevelsentrum bestaande uit alle LUR’e en die premier as voorsitter, sal Donderdag die provinsie se rampbestuursplan aan die nasionale rampsentrum voorlê. Die provinsiale rampsentrum sal onder meer bygestaan word deur ’n provinsiale forum bestaande uit rolspelers soos regeringsdepartementshoofde, administrateurs, nie-regeringsorganisasies en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. Ook burgemeesters en munisipale bestuurders sal betrek word by gebeurlikheidsplanne.

“Noordwes se gesondheidsdepartement moet ook protokol in plek kry in ooreenstemming met die maatreëls wat die president aangekondig het,” het Mokgoro gesê. Hy het die versekering gegee dat Noordwes ’n reaksiespan gereed het indien Covid-19 in die provinsie uitbreek. Onder meer hospitaaldienste, nooddienste en omgewingsgesondheidsamptenare sal hierby betrokke wees.

“Gesondheidswerkers in alle distrikte van die provinsie is reeds opgelei om moontlike Covid-19-gevalle op te spoor en te bestuur,” het Mokgoro gesê.

“Altesaam 820 gesondheidsverskaffers in Noordwes en mense in die private sektor soos myne is reeds opgelei in onder meer laboratoriumdiagnoses, infeksievoorkoming en die opsporing van mense wat kontak gehad het met vermoedelike Covid-19-gevalle.”

Die Noordwes-regering is ook besig met bewusmakingsprogramme in gemeenskappe, kerke, vervoerstelsels en onder tradisionele genesers. Honderdduisende pamflette word sedert Woensdag in Engels en Tswana versprei.

Mokgoro het gesê die Noordwes-regering het alle regeringsgeleenthede en opleidingskonferensies gekanselleer totdat die nasionale rampstatus opgehef is. “Personeel wat na die buiteland gereis het, word verplig om vanaf hul terugkeer vir 14 dae in self-isolasie te wees. Ons gimnasium- en sportgeriewe is ook gesluit.”

Die publiek se toegang tot die geboue van die Noordwes-wetgewer in Mmabatho sal ook tot 14 April beperk word.

Mokgoro het gesê indien Covid-19-gevalle in die provinsie drasties toeneem, sal meer kwarantyngeriewe beskikbaar gemaak word. Bykomende vervoer vir moontlike blootgesteldes en bykomende mediese personeel sal ook verskaf word.

Hy het ’n beroep op almal in die provinsie gedoen om voorkomende optrede toe te pas. Dit sluit onder meer in die vermyding van sosialisering, gereelde was van hande met seep en water of alkohol-gebaseerde wasmiddels, en om ’n afstand van ten minste een meter tussen mense te handhaaf.

Meer oor:  Noordwes  |  Covid-19-Virus  |  Gesonheid  |  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.