Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Nou verpleeg siekes mekaar

In tonele wat herinner aan ’n distopiese toekomsriller is 30 siek verpleegsters en gesondheidswerkers genoop om in die buitegeboue van ’n hospitaal op die Oos-Kaapse platteland te plak terwyl hulle mekaar verpleeg.

Van die siek verpleegsters voor die hospitaal in Middelburg Foto: Elizabeth Sejake

Almal van hulle het Covid-19.

Die hospitaal self, die Wilhelm Stahl-hospitaal in Middelburg, is vroeër die week gesluit nadat die laaste pasiënte – ma’s met pasgebore babas – huis toe gestuur is. Desnieteenstaande hou die Oos-Kaapse department van gesondheid vol dat die hospitaal oop is en dat daar geen probleme is nie.

Die haglike omstandighede in Middelburg is maar net een van talle gesondheidsramptonele waarop Rapport die afgelope week in die Oos-Kaap afgekom het. Terwyl die Covid-19-infeksiekoers in die provinsie onstuitbaar styg, het die provinsie se grootste hospitaal, die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth, totaal in duie gestort met gesondheidswerkers wat weier om te gaan werk weens die haglike omstandighede daar. Die hospitaal kon vroeër die maand geen noodgevalle hanteer nie as gevolg van die krisis.

Dokters moet noodgedwonge ná hul skofte self beddegoed huis toe te neem om te gaan was net sodat daar genoeg linne vir die teaters is en daar is ’n chroniese tekort aan beskermende klere.

Vir jare kla ons al oor die haglike omstandighede by die hospitaal, die tekort aan toerusting en personeel, maar niemand luister nie. En toe kom die virus.

In Middelburg, tussen Colesberg en Cradock, het Rapport ’n groepie siek en verwese verpleegsters en skoonmakers in kamerjasse agter die hospitaal aangetref. Hulle woon in ’n gebou wat as woonstelle vir dokters en ander mediese personeel bedoel is. Almal van hulle is nog op die been en in staat om vir hulself te sorg, maar sommige sukkel reeds met asemhaling en het ekstra suurstof nodig. Talle van hulle het onderliggende siektetoestande, soos hoë bloeddruk en diabetes, en staan dus ’n groot kans om ernstig siek te word.

“Ons is maar aan ons eie lot oorgelaat hier. Ons probeer om mekaar te versorg en een van die dokters wat by die hospitaal werk, kom laai nou en dan vir ons kos af,” het een vertel.

“Ek is bang. Ons almal is bang. Die (Covid-)simptome het nou begin vlam vat en ons hoes, kry erge hoofpyn, borspyn en soms loopmae.”

Nog een sê hulle is “soos honde” by die hospitaal gelos. Sy is veral bang omdat sy aan hoë bloeddruk ly, maar daar is geen bloeddruktoestelle om haar bloeddruk te monitor nie.

Nie een van hulle wou geïdentifiseer word nie uit vrees dat hulle hul werk kan verloor.

Verpleegsters en hospitaalpersoneel – almal van hulle siek aan Covid-19 – verpleeg mekaar in ’n buitegebou van die verlate staatshospitaal in Middelburg, Oos-Kaap.

Die hospitaal self was nog tot Woensdag oop. Die laaste drie pasiënte, almal vroue wat pas gekraam het, is toe met hul babas huis toe gestuur en die hospitaal se deure gesluit. Gister het daar egter weer skoonmakers opgedaag en dit lyk asof daar pogings is om weer die deure te open, het een van Rapport se bronne gesê.

Die probleme hier het blykbaar begin nadat vyf werkers verlede Vrydag positief getoets het vir die virus. Die res van die personeel is hierna getoets en nog sowat 25 het positief getoets.

“Ons voel die bestuur en departement van gesondheid het ons in die steek gelaat. Vir jare kla ons al oor die haglike omstandighede by die hospitaal, die tekort aan toerusting en personeel, maar niemand luister nie. En toe kom die virus. Toe dink ons nou sal daar dalk iets gebeur, maar toe raak dit net al hoe erger.”

Die hospitaal het sedert Mei al minstens sewe Covid-19-pasiënte behandel. Onder hulle was die polisiekaptein Andrew Leslie, wat aan die siekte dood is.

Die personeel wat positief getoets het, was nie in ’n posisie om tuis te isoleer nie en daarom het die hospitaalbestuur ingestem dat hulle in die verlate gebou agter die hospitaal bly. Hulle moes egter vir hul eie beddegoed sorg.

“Dis nie lekker nie, dis regtig nie lekker nie, maar ons vat dit maar dag vir dag,” sê ’n manlike werker. “Ons glo dit sal maar ook verbygaan. Ons sit net hier en kyk na mekaar en versorg mekaar met ons eie medikasie wat ons bymekaar kan skraap.”

Port Elizabeth
Só lyk dit in die gange van die hospitaal in Port Elizabeth.

’n Ander sê: “Ons kry geen medikasie of versorging nie. Ek is ’n gemeenskapsgesondheidswerker en verdien R3 500 per maand. Ek moet chroniese medikasie ook drink en het nie geld vir dit alles nie. Ek kan nou geen boosters koop om my immuunsisteem te versterk nie. En ook, ek het twee kinders. Wat gaan van hulle word as ek dit nie maak nie?” 

Volgens haar kry sy borspyne en sy sukkel om asem te haal. “Hier is egter niemand om ons te versorg nie.”

By die Livingstone-hospitaal, ’n sleutelinstelling in die stryd teen Covid-19 in die Oos-Kaap, het Rapport die afgelope week totale chaos aangetref.

Vloere vol menslike afval, sakke vol mediese vullis in die gange, beddens sonder lakens en naakte pasiënte bedek met slegs dun kombersies wat by teaters ingestoot word.

“Dis op die beste van tye ’n vuil plek, maar nou raak jy naar as jy binne is,” sê ’n dokter wat daar werk.

Die hospitaal se ongevalleafdeling moes vroeër vandeesmaand sluit weens ’n staking deur verpleegsters, skoonmakers en portiere. Van die personeel, wat Vrydag steeds op ’n sloerstaking was, het gesê hul werkomstandighede is haglik weens ’n tekort aan personeel en beskermende toerusting.

“Ek verstaan hoekom hulle staak, want ons klagtes by die departement van gesondheid val al vir jare op dowe ore. Ons is nie in dié situasie weens Covid-19 nie, dit lig nou net al die probleme uit,” sê ’n dokter wat anoniem wil bly.

“Ons dokters en werkers is bang. Ons gee nie om om ekstra ure in te sit en in haglike omstandighede te werk nie. Ons doen dit al jare, ons is gewoond daaraan, maar die pawpaw gaan die fan strike en ons is op breekpunt.”

Die hospitaal sal binnekort nie nog pasiënte kan inneem nie, sê hy.

“En hulle het nêrens anders om heen te gaan nie. Ons gaan binnekort sit met baie sterftes,” waarsku nog ’n dokter. Livingstone is die verwysingshospitaal vir die westelike deel van die Oos-Kaap.

Werk word gedoen om nog geriewe in te rig, maar dit help min as daar nie personeel is nie.

“By Livingstone het ons ses afsonderingsbeddens in ons waakeenheid ingerig vir Covid-19-pasiënte. Dis toegerus met ventilators, maar ons het nie personeel nie. Om Covid-19 te bestry, moet oppervlakke elke drie tot vier uur skoongemaak word, maar ons het nie eens personeel om die urine op ons vloere skoon te maak nie. Waar gaan die hande vandaan kom om die ventilators te beheer?”

In die Livingstone-hospitaal se kelder is daar plek vir 50 beddens, maar die tender om dit in te rig, is eers twee weke gelede uitgereik.

Danksy private finansiering is nog sowat 90 beddens ingerig vir Covid-19-pasiënte, maar dit kan nog nie benut word nie, want daar is nie genoeg personeel nie, sê ’n dokter.

Talle poste word nou geadverteer, maar volgens die hospitaalpersoneel is baie daarvan al jare lank vakant. Boonop sukkel hulle om toerusting te bekom.

“Ons het nie tans niesteriele handskoene (vir algemene take) nie. Nou gebruik ons steriele handskoene vir alles en dit kos ’n fortuin,” sê ’n dokter.

Van die weggooi-oorjasse is daar nog net genoeg vir drie dae. Dokters vat ook linne huis toe om dit te was sodat hulle met operasies kan voortgaan.

By die Tafalofefe-hospitaal in Centane, op die Transkeise platteland sowat 70 km noordoos van Oos-Londen, het gesondheidswerkers Maandag begin staak weens onder meer ’n tekort aan beskermende drag. Drie personeellede het Covid-19.

“Nooit in ons lewe het ons gedink ons sal ’n hospitaal sluit en pasiënte aan hul eie lot oorlaat nie,” het ’n verpleegster aan DispatchLive gesê.

Minstens tien klinieke om Nelson Mandelabaai en verskeie afdelings in hospitale oor die provinsie heen het in die laaste weke soms gesluit.

Intussen versnel die uitbreking daar.

Meer as die helfte van nuwe Covid-19-gevalle (4 504) is sedert begin vandeesmaand aangemeld, wys statistieke van die nasionale laboratoriumdienste (NHLS).

Teen Vrydagaand het 8 615 mense in die Oos-Kaap positief getoets; net minder as die 8 781 in Gauteng. Altesame 208 mense het al in die Oos-Kaap daaraan gesterf, teenoor 57 in Gauteng.

Kenners maan die ware getal infeksies in die Oos-Kaap kan aansienlik hoër wees, deels omdat minder toetse as elders gedoen word. Landwyd is net meer as ’n miljoen toetse teen Donderdag afgehandel, waarvan 338 211 in Gauteng, 237 037 in die Wes-Kaap en 112 985 in die Oos-Kaap gedoen is. Boonop is daar ’n agterstand met die toetsuitslae: 5 106 in Nelson Mandelabaai en 8 000 in Umtata.

Die Oos-Kaapse regering het die afgelope week toegegee hy is nie gereed vir die pandemie nie.

“Gegrond op projeksies en data soos op 14 Mei het die Oos-Kaap nie die vermoë om die pandemie se uitdagings te hanteer nie,” lui die gereedheidsverslag wat Oscar Mabuyane, premier, die afgelope week aan die nasionale regering voorgelê het.

Meer oor:  Middelburg  |  Port Elizabeth  |  Oos-Kaap  |  Gesondheidswerkers  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.