Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Nou vir vlak 3, maar...

Die hele Suid-Afrika sal ná 11 weke van inperking weens die Covid-19-pandemie op 1 Junie van vlak 4 na vlak 3 beweeg.

Pres. Cyril Ramaphosa het dié aankondiging Sondagaand in ’n regstreekse televisieboodskap in die Uniegebou in Pretoria gedoen.

Die kabinet het volgens die president besluit die verkoop van sigarette bly om gesondheidsredes verbode, maar Suid-Afrikaners sal onder streng voorwaardes ná byna drie maande weer alkohol mag koop.

Van 1 Junie af mag Suid-Afrikaners ook enige tyd van die dag oefen en nie meer slegs tussen 06:00 en 09:00 soos die geval nou is nie.

Konsultasie

Die president, wat die laaste week wyd met verskeie groepe, insluitend die leiers van politieke partye, die sakewêreld, vakbonde, provinsiale en tradisionele en geloofsleiers gekonsulteer het, het gewaarsku die land, veral brandpunte waar die infeksievlakke hemelhoog is, kan terugkeer na vorige hoër vlakke van inperking as die situasie dit sou verg.

Daar is tans 22 583 mense in die land wat die virus onder lede het. Altesaam 429 is dood aan die virussiekte Covid-19.

“Die realiteit is dat die pandemie baie sal verhewig voordat dit verbeter. Die risiko vir ’n baie groot toename is steeds op die horison. Sowat 20 000 hospitaalbeddens en 27 veldhospitale is landwyd gereed vir die toename in gevalle.”

Die realiteit is dat die pandemie baie sal verhewig voordat dit verbeter. Die risiko vir ’n baie groot toename is steeds op die horison.

Ramaphosa, wat die land dié keer nie laat wag het nie en presies om 19:00 met sy toespraak begin het, sê daar is steeds gebiede wat kommer wek omdat meer as vyf besmettings per 100 000 mense daar voorkom.

Brandpunte

Dit is die metro’s Tshwane (Pretoria), Johannesburg, Ekurhuleni (Oos-Rand), Ethekwini (Durban), Nelson Mandela-baai (Port Elizabeth) en Buffulo City (Oos-Londen) en Kaapstad, asook die distriksmunisipaliteite Weskus, Overberg en Kaapse Wynland, die Chris Hani-distrik in die Oos-Kaap en die iLembe-distrik in KwaZulu-Natal.

“Ons is veral bekommerd oor die situasie in die Kaapstadse metrogebied en die Wes-Kaap in die algemeen wat nou meer as die helfte van totale infeksies in die land het. Ons moet dringend iets daaraan doen,” het Ramaphosa gesê.

Dié brandpunte se status sal elke twee weke hersien word en intensiewe ingryping sal gebruik word om nuwe infeksies te verminder.

’n Span mediese kundiges, wat die Kubaanse spesialiste insluit, sal ook heeltyds in elke brandpunt ontplooi word.

Ramaphosa het gesê enige deel van die land kan terugkeer na ’n hoër vlak as infeksies aanhou styg, terwyl gebiede met lae infeksies selfs kan aanbeweeg na vlak 2 of vlak 1.

“Die besluit om na vlak 3 oor te gaan is ’n beduidende skuif in ons benadering. Dit is nou tyd vir die meeste van ons om terug te keer werk toe en om dele van ons lewe te hervat wat stilgestaan het sedert die begin van die inperking."

Koronavirus-brandpunte

Skole en bekommerde ouers

Ramaphosa het die versekering gegee dat bekommerde ouers ook nie verplig is om hul kinders skool toe te stuur as hulle nie oortuig is dat dit veilig is nie.

“Ons sal alles moontlik doen om ons skole veilig te hou. Ons is bekommerd oor die groei en ontwikkeling van ons kinders en wil nie hê dat ’n hele generasie deur die pandemie benadeel word nie.”

“Die skoolkalender sal hersien en die kurrikulum verklein word om die akademiese jaar te kan voltooi.

“33% van alle studente sal ook van 1 Junie af op ’n gefaseerde stelsel terugkeer na tersiêre instellings.

Terug werk toe

“Die meeste sektore van die ekonomie sal heropen, onderworpe aan streng gesondheids- en veiligheidsmaatreëls. Dit beteken tussen 8 miljoen en 11 miljoen mense sal terugkeer werk toe.

“Dit beteken dat meer staatsamptenare ook moet sal terugkeer werk toe.

“Die veiligheid van al ons werkers is ’n bron van kommer vir ons. Ons sal verseker dat hulle almal by die werk beskerm word. Dit is ons plig om ’n veilige omgewing vir elkeen te skep. Ons vra diegene wat kan om tuis te werk of te studeer.

“Ons sal met die groter werkgewers praat oor hoe kwarantyngeriewe vir werkers beskikbaar gestel kan word.”

Ramaphosa het veral groot maatskappye se skenkings aan die Solidariteitsfonds geloof en ander soos Volkswagen in die Oos-Kaap wat ’n veldhospitaal met 4 000 beddens in Nelson Mandelabaai gebou het.

Ramaphosa het lof gehad vir die hoogs gekwalifiseerde, gerespekteerde en ervare wetenskaplikes, klinici, epidemioloeë en openbare gesondheidskenners vir die leiding wat hulle aan die regering verskaf.

“Ons is uiters dankbaar vir die werk wat hulle doen om te verseker dat ons ons reaksie op die beste beskikbare wetenskaplike bewyse kan grond. Ons waardeer die diverse en soms uitdagende menings van die wetenskaplikes en mediese kenners in ons land wat openbare debat stimuleer en ons reaksie verryk.”

Hy het benadruk dat die besluitnemers ook deur die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Afrika-sentrum vir siektebeheer en -voorkoming gelei word.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Pretoria  |  Uniegebou  |  Covid-19  |  Inperking  |  Koronavirus  |  Vlak 3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.