Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Novavax-entstof ‘goed genoeg’ teen SA variant

’n Suid-Afrikaanse kliniese toets wys dat die kandidaat-entstof van die Amerikaanse maatskappy Novavax heelwat minder doeltreffend werk teen die 501Y.V2-variant van die koronavirus.

So het prof. Shabir Madhi, wat die navorsing gelei het, Donderdag op ’n aanlyn nuuskonferensie deur die Universiteit van Witwatersrand (Wits) aangekondig.

Prof. Shabir Madhi, hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se navorsingseenheid oor entstowwe en oordraagbare siektes. Foto: Skermgreep

Hy is die dekaan van Wits se fakulteit gesondheidswetenskap en lei die universiteit se navorsingseenheid oor entstowwe en oordraagbare siektes.

Volgens Madhi wys die uitslag tog dat dié proteïen-gegronde entstof sowat 60% doeltreffend is teen die sogenaamde Suid-Afrikaanse variant, wat volgens hom goed genoeg is.

Kliniese toetse in Brittanje het gewys dat die Novavax-entstof op ander weergawes van die koronavirus sowat 89% doeltreffend is.

Novavax het wel gesê hy begin onmiddellik ’n entstof ontwikkel wat spesifiek op die Suid-Afrikaanse variant gemik is.

Lees ook: Novavax-entstof doeltreffend teen Britse variant

Madhi is verheug oor dié uitslag nadat wetenskaplikes reeds geruime tyd bekommerd is oor die doeltreffendheid van entstowwe teen die Suid-Afrikaanse variant.

“Die doeltreffendheid van 60% is nie iets waaroor ek eens kon droom nie weens al die data wat ek gesien het oor hoe swak natuurlike immuniteit vaar teen die variant wat in Suid-Afrika versprei.

“Dit is die enigste entstof in dié stadium wat objektiewe doeltreffendheid teen die 501Y.V2-variant wys.”

Volgens Madhi sal ’n entstof wat 60% doeltreffend is, baie beteken vir Suid-Afrika om kudde-immuniteit te bewerkstellig as 50% van die bevolking dit ontvang.

Ander navorsing in ander lande oor die betrokke entstof is nog nie afgehandel nie.

Volgens Madhi het Novavax egter reeds ’n ooreenkoms dat die Serum-instituut in Indië sy entstof sal vervaardig en sal Suid-Afrika waarskynlik daartoe toegang kan kry.

Die Suid-Afrikaanse navorsing is met die hulp van meer as 4 000 vrywilligers gedoen, wat in twee groepe verdeel is. Een groep het die entstof en die ander groep ’n plasebo ontvang.

’n Ontleding het gewys dat 93% van die deelnemers wat uiteindelik besmet is, deur die Suid-Afrikaanse variant besmet is. Dit dui daarop dat die entstof 60% doeltreffend daarteen is.

’n Klein groepie MIV-positiewe mense het ook deelgeneem, wat die doeltreffendheid vir die twee groepe saam op 49% te staan gebring het.

Madhi het wel sy kommer uitgespreek oor wat die jongste uitslag beteken vir die doeltreffendheid van ander entstowwe wat tans versprei word.

Navorsing het onlangs aangedui dat die doeltreffendheid van die entstowwe van onderskeidelik Pfizer en Moderna deur die 501Y.V2-variant verminder word.

“Die variant het die Moderna-entstof se doeltreffendheid om teenliggaampies te vervaardig meer as agt keer verlaag en dié van die Pfizer-entstof ses keer. Dit sal beslis ’n beduidende invloed op die doeltreffendheid daarvan hê.”

Madhi het verdere kommer uitgespreek oor die moontlikheid van herinfeksie deur die variant. Sowat 30% van die deelnemers aan die Suid-Afrikaanse navorsing was met vorige weergawes van die virus besmet.

“Die uitslae wys dat infeksie deur vorige weergawes van die virus mense nie teen herinfeksie beskerm nie en ook nie keer dat hulle Covid-19 ontwikkel nie.

“Die rede hiervoor is dat die teenliggaampies wat deur vorige weergawes opgewek is, nie die nuwe variant neutraliseer nie.”

Dr. Glenda Gray, leier van die Suid-Afrikaanse navorsing oor Johnson & Johnson se entstof, wat ook op die nuuskonferensie gepraat het, het Madhi se uitslae as positief beskryf. Sy het by navraag gesê sy sal hopelik die naweek ’n aankondiging oor die uitslae van haar navorsing kan doen.

Benewens die 501Y.V2-variant wat verlede jaar in Suid-Afrika ontdek is, is daar twee ander variante wat kommer wek.

Die een is die sogenaamde Britse variant (501Y.V1) wat onlangs ook in Suid-Afrika aangemeld is. Hy versprei vinniger, maar daar heers nie groot kommer oor hoe entstowwe daarop sal reageer nie.

’n Derde variant, 501Y.V3, is in Brasilië geïdentifiseer, wat in sekere opsigte ooreenstem met die Suid-Afrikaanse variant.

Meer oor:  Novavax  |  Entstof  |  Shabir Madhi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.