Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Nuwe fase van pandemie met ‘sporadiese gevalle’

Suid-Afrika is nou in die fase van die pandemie waar medici met al hoe meer mense te doen gaan kry wat nie weet hoe of waar hulle Covid-19 aangesteek het nie, sê ’n mediese spesialis verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Sporadiese gevalle is ’n klassifisering wat sê ons weet nie hoe en waar die persoon aangesteek het nie.

Dr. Kerrin Begg, senior lektor en openbaregesondheidspesialis wat die gesondheidsdepartement bystaan om op die uitbreking te reageer, het Dinsdag meer duidelikheid gegee oor die “sporadiese gevalle” waarna die minister van gesondheid Dinsdag in ’n mediakonferensie verwys het.

Dr. Zweli Mkhize het by die Uniegebou in Pretoria gesê daar is nou 544 positiewe gevalle van Covid-19 in Suid-Afrika. Hy het daarna verwys dat die regering ook fokus op “sporadiese gevalle” as ’n manier waarop die virus versprei word.

“Sporadiese gevalle is ’n klassifisering wat sê ons weet nie hoe en waar die persoon aangesteek het nie. Daar was al baie aangemelde gevalle, soos waar mense weet hulle het na die buiteland gereis, of kontak gehad met iemand wat siek is of na die buiteland gereis het, maar in sporadiese gevalle het ons nie ’n idee hoe of waar hulle dit kry nie. Dit sal wees soos ’n vrou in Kaapstad wat nie plaaslik of na die buiteland gereis het nie, maar siek geword het,” verduidelik Begg.

“Dis natuurlik kommerwekkend, maar dit gebeur gedurende ’n epidemie. Ons is nou in die fase waar ons al hoe meer sporadiese gevalle gaan sien. Dit maak dit vir ons (gesondheidspesialiste wat die virus navors) baie moeilik om gevalle met mekaar te verbind.”

Dr. Marvin Hsiao, hoofpatoloog en senior lektor in die eenheid vir mediese virologie aan die Universiteit van Kaapstad, sê dis gevalle waar navorsers ’n “verstrooide” en “onreëlmatige” voorkoms van gevalle aantref.

“Tegnies gesproke is ons in ’n epidemie met sporadiese plaaslike gevalle. Dit toon waarskynlik ons het nog nie al die infeksies opgespoor en met die ware uitbreking verbind nie.

“Ons het waarskynlik veel meer besmettings as wat ons getoets en bevestig het,” sê hy.

Verspreiding soos goue ‘glitter’

Maar wat kan moontlike oorsake vir sporadiese verspreiding wees?

“Ons kyk na byvoorbeeld pre-simptomatiese persone – mense wat al positief toets, maar nog nie simptome toon nie en dus ander mense aansteek. Ons is bekommerd oor ‘onbekende positiewes’,” sê Begg.

Sy bevestig verspreiding kan ook plaasvind deur aan oppervlakke te raak.

Netwerk24 het voorheen berig die virus word deur middel van besmette druppeltjies liggaamvloeistof in die lug oorgedra, wanneer ’n siek persoon hoes of nies.

Die druppeltjies land dan op voorwerpe en oppervlakke om die persoon.

Die virus kan van ure tot dae aktief op sekere voorwerpe bly. Ander mense raak daaraan en raak dan aan hul oë, neus of mond, waar die virus die liggaam binnedring.

Die druppeltjies kan ook ingeasem word terwyl dit nog deur die lug trek.

Begg sê dis daarom belangrik om twee armlengtes van mense af te bly.

“Ons sê vir mense: Maak asof jy positief is. Doen alles wat jy sou doen, asof jy positief is.”

Sy verduidelik die verspreiding deur ’n glitter-analogie. “Stel jou voor die virus is goue glitter. Jy raak aan goue glitter en dit sit vas aan jou hande. Oral waar jy raak, of dit aan jou gesig of oppervlakke is – daar sit die glitter. Iemand anders kom verby en vat waar jy gevat het. Nou is daar glitter op daardie persoon se vingers. Daardie persoon raak weer aan iets of iemand anders . . .”

Dit geld selfs as jy handskoene en ’n masker dra.

“As jy met ’n handskoen aan goue glitter vat, sit dit steeds op die handskoen . . . Ons is van mening dat die enigste tyd wat jy ’n masker moet dra, in die huis is as jy saam met ’n geval bly of self siek is en wil keer dat die virus na die gesonde persone versprei. As ’n siek persoon nies, bly die glitter in die masker.

Sy sê dis belangriker dat medici die maskers gebruik. “Hulle word geleer hoe om PPE (personal protective equipment) te hanteer. Hulle het ’n spesiale manier hoe om maskers af te haal om te keer dat hulle aan hul gesigte raak.”

’n Lang pad lê voor

Begg benadruk hoe belangrik dit is om na die regering se maatreëls te luister.

“Ons het nog ’n lang pad vorentoe. Drie weke is beslis nie genoeg nie. Die hoofrede waarom ons in ’n staat van inperking gaan, is om die kurwe (van nuwe gevalle) af te plat. Ons wil nuwe gevalle vertraag om tyd te wen vir ons gesondheidsorg om in staat te wees om die gevalle wat inkom te kan hanteer.”

Sy verduidelik ’n toeloop, waar mense almal op een slag siek word, kan ernstige druk op hospitale en medici plaas. Dit kan te min beddens en asemhalingstoestelle beteken, sê sy.

“Ons sal teen Maandag kan sien of die staat se ramptoestand vrugte gedra het. Ons sal dan weet of die eerste stel maatreëls goed genoeg was. Ons sal eers oor twee weke weet of die staat van inperking gehelp het. Mense moet dus nie moed verloor as hulle nie dadelik ’n afname in gevalle sien nie,” sê Begg.

Die virus se inkubasietyd is twee weke, wat beteken mense begin binne twee weke ná besmetting simptome toon.


Meer oor:  Zweli Mkhize  |  Korona  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.