Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Nuwe fokus op gelokaliseerde gebiede 'kan werk'

Die nuwe gelokaliseerde benadering van die regering teen die koronavirus-pandemie in Suid-Afrika is die benadering wat die regering reg van die begin af in Maart moes volg.

Só het Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se sakeskool, gesê nadat pres. Cyril Ramaphosa Donderdagaand aangekondig het dat strenger beperkings net in die Nelson Mandelabaai-metro sal geld om die oplewing in infeksies daar te stuit.

As die regering nou dieselfde mentaliteit gehad het as in Maart, toe ’n streng nasionale staat van inperking ingetree het, sou hulle volgens Venter die hele Wes-Kaap en Oos-Kaap “toemaak”.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, met 'n onlangse besoek aan Port Elizabeth. Foto: Lulama Zenzile

“As die regering dié pragmatiese benadering gevolg het deur op plaaslike gebiede te fokus, sou daar nie soveel skade aan die ekonomie aangerig gewees het nie. Daar is geen rede waarom ons nie die gelokaliseerde benadering in die verlede kon toepas nie.”

Venter sê die feit dat Ramaphosa nie besluit het om tans strenger beperkings vir die Tuinroete aan te kondig nie, wys dat Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, die regering kon oortuig om eers ander ingrypings te probeer.

“Dit wys ook dat die nasionale regering vertroue in die Wes-Kaapse regering het. Wat ook die provinsie se saak versterk het, is dat die Wes-Kaap reeds sy eie ingrypings aangekondig het om die situasie in bedwang te probeer bring,” sê Venter.

As die regering dié pragmatiese benadering gevolg het deur op plaaslike gebiede te fokus, sou daar nie soveel skade aan die ekonomie aangerig gewees het nie. Daar is geen rede waarom ons nie die gelokaliseerde benadering in die verlede kon toepas nie.

John Steenhuisen, DA-leier, het in ’n verklaring gesê hulle verwelkom die feit dat die president nie weer ’n strenger inperking in die land, of dele daarvan, ingestel het nie. Dit lyk of lesse geleer is uit die ondoeltreffendheid en verwoesting van inperkings, “hoewel dit nege maande te laat is”.

Hy sê die DA wil die beroep van Ramaphosa herhaal dat Suid-Afrikaners hul deel moet doen om die verspreiding van infeksies hok te slaan.

Volgens hom is beduidende gedragsveranderings steeds “die beste wapen” om die verspreiding van infeksies stop te sit, hoewel ander mediese traumagevalle verhoed moet word om hospitaalbeddens te oorlaai.

Ramaphosa het aangekondig dat die aandklokreël in die Nelson Mandela-baai-metro van middernag vervroeg word tot 22:00, dat drankverkope slegs mag plaasvind van Maandae tot Donderdae, dat slegs ’n 100 mense binnenshuis en 250 buitenshuis bymekaar mag kom en byeenkomste ná begrafnisse verbied word.

Volgens Ramaphosa sal die regering ook wetstoepassing in die gebied verskerp, asook kontaknasporing en toetsing om te probeer keer dat die virus na ander dele van die land versprei en ’n tweede vlaag van infeksies veroorsaak. Die kapasiteit van hospitale sal versterk word.

Hoewel Ramaphosa sy kommer oor ’n oplewing van infeksies in die Tuinroete in die Wes-Kaap uitgespreek het, het hy gesê dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sal eers die gebied volgende week besoek en dan terugrapporteer aan die nasionale koronavirus-bevelsraad waarna stappe, indien enige, gedoen kan word.

Op papier klink die gelokaliseerde benadering goed, maar die kwessie is dat vakansiegangers almal in die feestyd oor Suid-Afrika gaan reis, wat die verspreiding van die virussiekte sal vererger.

Dr. Ralph Mathekga, ’n onafhanklike politieke ontleder, sê hoewel sy hart uitgaan na die mense van Nelson Mandelabaai, is dit dalk die beste besluit om strenger beperkings in te stel om ’n tweede vlaag van infeksies te vermy.

“Op papier klink die gelokaliseerde benadering goed, maar die kwessie is dat vakansiegangers almal in die feestyd oor Suid-Afrika gaan reis, wat die verspreiding van die virussiekte sal vererger.”

Prof. Peet van der Merwe, ’n senior dosent in toerismebestuur aan die Universiteit van Noordwes (NWU), sê die Nelson Mandelabaai-metro se ekonomie gaan seerkry weens die beperkings.

“Die groot vraag is of toeriste nou hul besprekings gaan kanselleer, en of hulle steeds die metro gaan besoek. Sover is daar niks wat hulle keer om dit te doen nie; hulle moet net in gedagte hou dat die polisiëring in die gebied streng sal wees,” sê Van der Merwe.

Meer oor:  Theo Venter  |  John Steenhuisen  |  Covid-19  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.