Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Nuwe kindersiekte nou aanmeldbaar in SA

Pediatriese inflammatoriese multistelsel-sindroom (PIMS-TS), ’n nuwe kindersiekte wat erge koors, ontsteking en hartkomplikasies veroorsaak, is nou een van die aanmeldbare mediese toestande (NMC’s) in Suid-Afrika.

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) is PIMS-TS ’n seldsame siekte wat by kinders gediagnoseer word. Daar is verslae wêreldwyd wat daarop dui dat dit met Covid-19 verband hou – meer onlangs ook in Suid-Afrika.

NMC’s is siektes wat van openbare belang is, want dit hou beduidende gesondheidsrisiko’s in wat tot uitbrekings of epidemies plaaslik en internasionaal kan lei.

kindersiekte
Die simptome van pediatriese inflammatoriese multistelsel-sindroom (PIMS-TS).

Nios sê hy weet nog nie wat PIMS-TS veroorsaak nie, maar dat kinders wat die siekte opgedoen het, blootgestel was aan Covid-19 of in aanraking was met iemand wat die virussiekte opgedoen het.

“PIMS-TS kan ernstig wees, selfs dodelik, maar die meeste kinders by wie dit gediagnoseer is se toestand het met mediese sorg verbeter,” sê Nios in ’n verklaring.

Netwerk24 het vroeër berig dat die siekte se simptome met dié van Kawasaki se sindroom in kinders jonger as vyf jaar ooreenstem.

Volgens die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer-en-voorkoming (CDC) is Kawasaki se sindroom ’n koorssiekte waarvan die simptome ’n veluitslag, geswolle hande, voete en limfkliere in die nek, rooi oë en irritasie en ontsteking in die keel en mond en van die lippe insluit.

Weens die koronaviruspandemie verwag Nios dat Suid-Afrika die volgende paar maande meer PIMS-TS-gevalle sal aanmeld.

Vroeë opsporing is van kardinale belang, lui die verklaring.

“Die gesondheidsorgwerker wat verantwoordelik is vir die pasiënt moet die owerhede onmiddellik in kennis stel van ’n waarskynlike of bevestigde geval deur middel van die kennisgewingstelsel vir mediese toestande (NMCSS).

“ ’n Groep pediaters en ander kundiges is ook byeengeroep om data oor PIMS-TS-gevalle wat deur middel van dié stelsel aangemeld is te versamel en te ontleed.

“Die data sal lig werp op die getal gevalle in die land sodat besluite oor die kliniese en epidemiologiese hantering daarvan geneem kan word. Ons moedig alle klinici aan om hierdie gevalle by die NMCSS aan te meld.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.