Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Nuwe kriteria’ nodig oor ernstige tekort aan toetsstelle
’n Laboratoriumwerker hou ’n monster vir ontleding vas. Foto ter illustrasie. Foto: Ivan Valencia/Bloomberg via Getty Images

’n Ernstige tekort aan toetsstelle vir die koronavirus maak dit noodsaaklik om op die kwesbaarste mense te fokus, meen mediese kenners.

Die agterstand in die toetsing word ook vererger deur die neiging om enigiemand wat van die geringste simptome kla te laat toets, het dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, Woensdag gesê.

Nuwe kriteria vir toetse

Dit kom nadat die Wes-Kaap se departement van gesondheid nuwe kriteria vir toetse in die Kaapstad-metropool van 1 Junie af bekend gemaak het.

Dit sluit in dat slegs mense wat reeds in die hospitaal is en simptome het, gesondheidswerkers met simptome, mense ouer as 55 jaar met toestande soos diabetes en hoë bloeddruk en mense met onderliggende toestande met simptome getoets sal word.

Inwoners van versorgingsoorde of tehuise wat simptome het, sal ook getoets word.

Mense wat nie aan die kriteria voldoen nie, kan egter steeds in ander dele van die Wes-Kaap en by private laboratoriums getoets word.

Coetzee het by navraag gesê dié kriteria is nodig om seker te maak dat hoërisikopasiënte voorkeur geniet.

“Daar is ’n ernstige tekort aan toetsstelle, veral by die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) en ons voorraad kan opraak.”

Volgens Coetzee kan toetsmonsters net vir ’n kort tydperk teen ’n sekere temperatuur geberg word voordat dit die uitslag van die toets beïnvloed.

“Met die Wes-Kaap wat ’n brandpunt is, is die omkeertyd vir siek pasiënte om hul uitslae te ontvang enigiets van sewe tot 14 dae. Dit vererger die las van die siekte en logistieke probleme in hospitale.”

Coetzee sê met dié dat 80% van besmette mense geringe simptome het, gaan jong mense met geen onderliggende siektes en gemeenskappe met asimptomatiese besmettings wat nie aangemeld is nie, nie in gevaar gestel word nie.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier. Foto: Malherbe Nienaber

“Die boodskap is duidelik: Behou ’n veilige afstand van mekaar, dra ’n masker en was jou hande. As jy dié riglyne volg, sal jy die verspreiding van die virus verminder en kan mense wat regtig siek is, getoets word.”

Prof. Wolfgang Preiser, hoof van die afdeling vir mediese virologie aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit vir mediese en gesondheidswetenskappe, sê as ’n laboratoriumwerker kan hy van die “ontsaglike las” van derduisende toetse op die staat en die private sektor se laboratoriums getuig.

“Die probleem is sodra ’n laboratorium met monsters oorlaai word, begin ’n wrede siklus waarin die beantwoording van navrae en die soek na ‘dringende’ monsters baie tyd in beslag neem en die afhandeling van die toetse belemmer.”

Preiser het benadruk dat dit nie uniek tot Suid-Afrika is nie. Brittanje en die VSA wat “versuim het om die toetsing voldoende en vroeg genoeg te vermeerder, het die nagevolge gedra”.

“Ons het vroeg meer toetse gedoen, maar ding met die res van die wêreld mee om toetsstelle en die voorraad van reageermiddels wat baie beperk is.”

Toetsbeleid

Enige toetsbeleid is ’n kompromis tussen wat gewens is (toets soveel en so wyd soos jy kan) en wat moontlik is, sê Preiser.

“Daar is ’n verstandhouding dat sekere mense getoets moet word, soos ernstig siek pasiënte in die hospitaal, mense met simptome en ander ernstige onderliggende siektes, asook gesondheidswerkers, terwyl minder noodsaaklike toetse gedoen kan word as daar kapasiteit is.”

Gesonde mense behoort egter nie getoets te word nie. Dit sluit gevalle in waar dit nie bekend is of hulle blootgestel was nie, ook nie mense wat in afsondering was en ná meer as twee weke nie meer aansteeklik is nie.

Prof. Wolfgang Preiser Foto: Malherbe Nienaber

“In die Wes-Kaap word reeds wydverspreide gemeenskapsoordrag ondervind. So ons weet daar is ’n klomp Covid-19-gevalle. Ons kan nie meer betyds wyd toets, of kontakte opvolg nie, want daar is net te veel. As ’n toetsuitslag ná drie, vier of vyf dae kom, kon dit net sowel nie gedoen gewees het nie, want teen dié tyd is die pasiënt reeds minder aansteeklik, maar kon die infeksie versprei het.”

Alan Winde, premier, het Woensdag in ’n verklaring gesê dié benadering met toetsing sal daartoe lei dat die uitslae van kwesbare groepe vinniger ontvang kan word.

Top-prioriteit

“Dit is ons top-prioriteit. Die besluit kom ná bevestiging dat die provinsie se agterstand in toetse in die nasionale gesondheidslaboratoriumdienste tot 27 000 gestyg het. Ons verstaan dat ander provinsies soortgelyke agterstande het.”

Volgens Winde beteken dit dat mense wat in die hospitaal en ernstig siek is, gesondheidswerkers en diegene in die hoërisikogroepe sewe tot 12 dae vir hul toetsuitslae kan wag.

“Dit is eenvoudig nie ’n opsie nie. Totdat bykomende kapasiteit beskikbaar is, is dié besluit die enigste oorblywende oplossing vir vroeë opsporing onder mense wat die meeste in gevaar verkeer om aan Covid-19 te sterf.”

Winde het gesê dit sal ook beter beskerming aan gesondheidswerkers bied.

“As ons dit (uitslae) ná 24 tot 48 uur kan terugkry, kan ons vroeë behandeling verseker en waar nodig mense vinnig hospitaliseer as ons weet dat hulle vinnig sieker kan word. Vir sommige van ons inwoners kan dit die verskil tussen lewe en dood beteken.”

Mense met die volgende toestande wat simptome van Covid-19 het, kan getoets word, ongeag hul ouderdom: diabetes, hipertensie, hartsiektes, kanker, tuberkulose, MIV met swak nakoming van antiretrovirale behandeling en chroniese longsiektes soos asma, emfiseem en chroniese brongitis.

Die kriteria is daarop gegrond dat 90% van mense wat besmet word, nie hospitalisasie benodig nie, 10% gesondheidsorg benodig en sowat 2% van die gevalle sterf, luidens die verklaring.

Onder diegene wat sterf, het 96% een of meer komorbiditeite en mense ouer as 55 jaar verkeer in groter gevaar.

Die vakbond Nehawu het Woensdag egter die nuwe kriteria vir Kaapstad veroordeel en aangevoer dat dit nie gaan help om die verspreiding van die virus in die provinsie te keer nie.

“Ons glo dat die provinsie ’n veldtog van aggressiewe sifting en toetsing moet volg, eerder as om die aantal mense wat daagliks gesif en getoets word te verminder. Dit is boonop die werkersklas en armes wat benadeel gaan word omdat hulle nie die geld het om by private laboratoriums getoets te word wanneer hulle vermoed dat hulle die virus opgedoen, of simptome het nie.”

Volgens Nehawu is die amptelike syfers in die provinsie nie ’n “werklike weerspieëling” nie en sal die beperkte toetsing die ware omvang verbloem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.