Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Nuwe variant besmet meer, maar is nie dodeliker’

Die nuwe variant van Covid-19 in Suid-Afrika lei nié daartoe dat mense ’n groter kans het om weer besmet te word nie.

Prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die interministeriële advieskomitee oor Covid-19, het Maandagaand op ’n paneelbespreking van ’n rits kundiges oor die nuwe variant gesê die studies wat reeds gedoen is, wys nie dat daar ’n groter, sistematiese herinfeksie is nie.

Daar is, soos met die eerste variant, wel gevalle waar mense ’n tweede keer besmet word. Dit was te wagte, sê Karim.

Biologies blyk dit dat die virus nou meer doeltreffend aan menslike selle kan bind. Dit is wat veroorsaak dat die nuwe variant meer suksesvol is om mense te besmet.

Variant is sterker

Karim sê meer mense word gevolglik siek. Dit is duidelik sedert die nuwe variant op 18 Desember in Suid-Afrika beskryf is as die 501Y.V2-variant.

Prof Salim Abdool Karim. Foto: Argief

Die nuwe variant is die prominente virus wat nou in die land versprei en die vermoë om te versprei is 50% sterker as met die eerste een.

In die Wes-Kaap het dit in die eerste golf 107 dae geneem totdat 100 000 mense besmet is. Met die tweede golf en nuwe variant het dit slegs 54 dae geneem totdat daar 100 000 gevalle was.

In KwaZulu-Natal het dit met die eerste golf 54 dae geneem om 100 000 mense te besmet; met die nuwe variant het dit 33 dae geneem.

Maak dit mense sieker?

Maar maak die nuwe variant mense sieker?

Karim het gesê die risiko van sterftes, opgedeel in verskillende ouderdomsgroepe, is basies dieselfde as met die variant wat die eerste golf veroorsaak het. Wanneer gekyk word na die tydperk van 30 dae sedert pasiënte in hospitale opgeneem word, is daar geen verskil in die tempo van sterftes nie.

“Die nuwe variant veroorsaak nie dat mense sieker word nie, dit veroorsaak wel dat meer pasiënte in die hospitale opgeneem word,” sê Karim.

Op die vraag of daar enige bewyse is dat die entstowwe wat reeds beskikbaar is, doeltreffend is teen die nuwe variant, het Karim gesê die werklikheid is dat daar nog nie ’n antwoord is nie. Daar is nog nie genoeg data sodat ’n besliste antwoord hierop gegee kan word nie.

Hoe het die virus slimmer geword?

Karim het ’n pleidooi gelewer dat die nuwe variant nie die “Suid-Afrika-variant” genoem word nie, maar die 501Y.V2-variant.

Net soos wat mense ontsteld was toe pres. Donald Trump na die aanvanklike virus as die China-virus verwys het, behoort daar met die nuwe variante nie na die lande verwys te word waar dit beskryf is nie. Noem dit op die naam van die variant. Daar is vele variante, dit het niks met die land te doen nie, het Karim gesê.

Wat het verander in die struktuur van die virus wat dit “slimmer” maak om mense siek te maak?

Die nuwe variant veroorsaak nie dat mense sieker word nie, dit veroorsaak wel dat meer pasiënte in die hospitale opgeneem word.

Karim sê ’n deel van die virus, wat ’n mens kan beskryf as die nek en linkerskouer van die virus, het in die mutasie verander sodat dit beter kan bind met ’n mens se selle. Dié nuwe mutasie is sterker en meer bestand teen die liggaam se teenliggaampies. Dit het as’t ware geleer om menslike selle teen ’n nuwe hoek te benader deur 20° te roteer.

Meer jonger sterftes oor meer besmettings

Prof. Mary-Ann Davies, direkteur van die sentrum vir infeksies, epidemiologie en navorsing aan die Universiteit van Kaapstad, het in die Wes-Kaap ondersoek gedoen na of die nuwe variant mense ernstiger siek maak.

Die nuwe variant het middel Oktober in die Wes-Kaap te voorskyn gekom, eers in die Tuinroete en toe in die Kaapstadse metropool.

Indien die nuwe variant mense ernstiger siek maak, sou die soort pasiënte wat siek geword het, verskil het van dié van die vorige golf, het Davies gesê.

Is kinders meer vatbaar?

Pasiënte met onderliggende siektes is steeds, soos met die eerste golf, diegene wat die meeste doodgaan ná besmetting. Ouderdom speel ook nie ’n ander soort rol as met die eerste golf wat sterftes betref nie.

Daar is wel meer jong mense wat siek geword het en meer jong mense het doodgegaan weens die virus, maar dit is omdat meer mense besmet is, het Davies gesê.

Is kinders meer vatbaar vir die nuwe variant?

Davies het geantwoord die risiko van sterftes onder kinders is nie groter in die tweede golf as in die eerste golf nie. In die baie klein aantal gevalle van kinders wat wel doodgegaan het, het ’n groot aantal onderliggende siektes gehad.

Meer oor:  Salim Abdool Karim  |  Variant  |  Besmetting  |  Covid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.