Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Nuwe variant ‘betrap wetenskaplikes onkant’

Wetenskaplikes wat die regering raad gee oor sy Covid-19-strategie is onkant betrap deur die tweede vlaag wat deur ’n meer aansteeklike variant gedryf word.

Dít is prof. Salim Abdool Karim, epidemioloog en voorsitter van die ministeriële advieskomitee, se reaksie op die vraag hoekom daar nie beter beplan is vir die tweede vlaag wat die land se gesondheidstelsel tans op sekere plekke oorweldig nie.

Volgens hom kon niemand voorsien dat dié variant, bekend as 501.V2, wat baie vinniger en meer doeltreffend versprei, sou ontstaan nie.

Hy sê die plan vir die tweede vlaag was al in Augustus “aan die stertkant van die eerste vlaag” goedgekeur, en het van die veronderstelling uitgegaan dat daar ’n 50%-kans was dat die tweede vlaag erger sou wees.

Prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die ministeriële advieskomitee. Foto: Argief

“Ons het nie die situasie voorsien dat gevalle so vinnig toeneem en die nood vir hospitalisasies so groot is nie.”

Nie net plaaslike wetenskaplikes is deur die variant onkant betrap nie, maar ook die wêreldgemeenskap. Hoewel virusse maandeliks sowat een of twee mutasies het, het die Suid-Afrikaanse variant 23 verskillende mutasies.

“Ons kan dieselfde bekende maatreëls gebruik om ons te beskerm, maar ons moet baie meer waaksaam wees.”

Abdool Karim maan omsigtigheid oor sy voorspelling dat die piek van die tweede vlaag teen die middel van Februarie in Suid-Afrika verwag kan word. Daar kan nie met sekerheid gesê word hoe lank die piek sal duur nie.

Die 501.V2-variant maak dit verder moeilik om te beplan omdat wetenskaplikes nie weet hoe die variant hom gedra nie omdat dit nog nêrens anders ter wêreld ’n vlaag van infeksies gedryf het nie.

Die variant is in November in Suid-Afrika ontdek met behulp van ’n netwerk laboratoriums in die land en die KwaZulu-Natal Research Innovation and Sequencing Platform (Krisp). Dit het intussen wye internasionale belangstelling ontlok omdat dit aanleiding gegee het tot die ontdekking van variante in ander lande.

Abdool Karim is die derde hoogs aangeskrewe wetenskaplike wat sy kommer teenoor Netwerk24 uitspreek oor veral die sogenaamde E484-mutasie wat uniek is aan die 501.V2-variant.

Hy sê daar is vier studies wat oortuigende bewyse gelewer het dat teenliggaampies nie daarin slaag om herinfeksie deur dié variant te keer nie. In een Amerikaanse studie is gewys dat teenliggaampies in nege uit 11 bloedmonsters nie die virus kon doodmaak nie, sê Abdool Karim.

Die groot vraag is of die huidige entstowwe doeltreffend teen die variant sal wees.

Richard Lessells, spesialis in oordraagbare siektes wat by Krisp betrokke is, sê egter in die studies wat oorsee gedoen is, is die “lewendige virus” nie gebruik nie.

Daar is van ’n sogenaamde pseudo-virusstelsel gebruik gemaak waar die mutasies een vir een bygevoeg word om die uitwerking te toets.

Volgens Lessells sal uitslae vroeg volgende week bekend gemaak word van laboratorium-studies in Suid-Afrika wat toetse op die “lewendige variant” uitgevoer het.

“Dit sal ons help om die virus beter te verstaan. Dit beteken egter steeds nie noodwendig dat die virus op dieselfde manier in die menslike liggaam sal werk nie.”

Een groep wetenskaplikes kyk na die vooruitsig dat namate die virus evolueer, dit vinniger kan versprei, maar minder doeltreffend sal raak. In dié scenario sal entstof toegedien word aan bejaardes en kwesbares, soos wat elke jaar met die griepvirus gebeur.

In die volgende jaar, gegrond op wat in die verlede gebeur het, kan daar volgens Abdool Karim verdere vlae verwag word. Die derde vlaag sal heel waarskynlik in die winter ervaar word.

Nuwe variante wat oor die wêreld heen ontstaan en sake bemoeilik, kan ook verwag word.

Op die vraag of daar ’n einde aan die pandemie sal kom, het Abdool Karim instemmend geantwoord. Niemand weet nog presies hoe nie, maar wetenskaplikes werk aan verskeie sogenaamde eindspel-scenario’s.

“Een groep wetenskaplikes kyk na die vooruitsig dat namate die virus evolueer, dit vinniger kan versprei, maar minder doeltreffend sal raak. In dié scenario sal entstof toegedien word aan bejaardes en kwesbares, soos wat elke jaar met die griepvirus gebeur. Jonger mense sal dan nie eens bekommerd hoef te wees nie.”

Meer oor:  Salim Abdool Karim  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Nuwe Variant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.